Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ESI goed op dreef om akademieskap en vennootskappe in Afrika te bou
Begin: 03/05/2022, 12:00
Einde: 03/05/2022, 12:00
Kontak: -
Plek: SU International

Vaardigheidsopleiding ná die voltooiing van 'n doktoraat is noodsaaklik om nuwelingnavorsers in navorsingsleiers te verander. Nogtans voorsien weinig universiteite in Afrika nadoktorale opleiding, in die meeste gevalle weens 'n tekort aan senior, gekwalifiseerde personeel om die nodige steun te bied. Daarbenewens kom nuwelingnavorsers in Afrika voor bykomende uitdagings te staan, waaronder gebrekkige toegang tot hulpbronne by hulle tuisinstellings, en 'n tekort aan mentors en studieleiers. Waar nadoktorale poste wél bestaan, is die vergoeding dikwels karig.

Om Afrika se navorserpopulasie te help bou en wetenskaplike en navorsingsuitnemendheid op die vasteland te bevorder, het die Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA) in US Internasionaal in 2020 die inisiatief vir ontluikende vakkundiges (ESI) van stapel gestuur. Die ESI is 'n samewerkingsprojek waarvoor die Universiteit Stellenbosch (US) met vennote oor die hele Afrikavasteland kragte saamsnoer om verskeie multidissiplinêre gesamentlike skole aan te bied. Hiervoor word daar staatgemaak op lesse uit die ASA-program Gesamentlike Skole in Afrika, waarvan die ESI as verlengstuk dien, sowel as die Afrika Doktorale Akademie, wat as vlagskipprojek beskou word.

Ná Covid-verwante vertragings het die ESI in 2021 sy opdrag begin uitvoer deur drie virtuele gesamentlike skole met onderskeidelik Strathmore-universiteit (Kenia), die Universiteit van Lagos (Nigerië) en die Universiteit van Rwanda aan te bied. Sowat 200 afgevaardigdes is deur meer as 20 fasiliteerders van sowel die US as vennootuniversiteite touwys gemaak. Die skole het op twee strome gekonsentreer – een vir PhD-studente en 'n ander vir personeellede wat deur hulle eie instellings as ontluikende vakkundiges geïdentifiseer is. Kursusse het gehandel oor navorsingsmetodologie, studieleiding, akademiese skryfwerk en publikasie, sowel as generiese vaardighede, na gelang van individuele instellings se behoeftes en prioriteite. Die programme is gesamentlik deur US-fasiliteerders en fasiliteerders van die vennoot-/gasheerinstelling saamgestel.

Nóg gesamentlike skole word vir 2022 beplan om verdere uitvoering te gee aan die ESI se mandaat om bekostigbare dog uitnemende vaardigheidsgebaseerde leer te voorsien en sodoende die ontwikkeling van akademieskap en beroepsopleiding te ondersteun. Hierdie mandaat strook ook goed met die ASA se oorhoofse doel, naamlik om tot die ontwikkeling van die vasteland en sy mense by te dra deur nuwe en ontluikende vakkundiges te verbind en geleenthede te skep sodat navorsing en hoëronderwysonderrig en -leer kan floreer.