Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
UBUNTU-DIALOË Webinaar: 30 Maart 2021
Begin: 30/03/2021, 15:00
Einde: 30/03/2021, 17:00
Kontak:Marietjie Oelofsen -
Plek: ZOOM

UBUNTU-DIALOË

Herbedink dialoog: Herbedink museum

 

Die medemenslikheid van ubuntu:

Leer ken die taal van omgeeverhoudings

30 Maart 2021

 

Biografie

Prof Jeanine Ntihirageza

Jeanine Ntihirageza het haar PhD aan die Universiteit van Chicago verwerf, en haar MA in Taalwetenskap as Fulbright-beurshouer aan die Universiteit van Suid-Illinois. Haar navorsingsbelangstellings is taalwetenskap, taalonderrig, vlugtelingstudies, volksmoord en menseregte in Afrika. Dr Ntihirageza was medesamesteller van die bundel Critical Perspectives on African Genocide: Memory, Silence, and Anti-Black Political Violence (2021). Haar publikasiegeskiedenis sluit beoordeelde boekhoofstukke en vaktydskrifartikels in. Sy is 'n professor en die koördineerder van Engelsonderrig vir anderstaliges (TESOL) aan die Universiteit van Noordoos-Illinois, Chicago, en die stigtersdirekteur van die Sentrum vir Volksmoord- en Menseregtenavorsing in Afrika en die Diaspora. Sy het van 2012 tot 2019 as voorsitter van haar departement gedien. In 2018 en 2019 was sy boonop die hoofnavorser van twee groot projekte met toekennings van onderskeidelik NSA/Startalk en die Amerikaanse staatsagentskap National Endowment for Humanities.

Titel

Ubuntu, 'n inheemse leierskapsbenadering tot vredestigting en konflikbeslegting: Die omgee- en menslikheidsdinamiek

 OPSOMMING

Vir beter menseverhoudinge, geregtigheid en respek vir menseregte is dit noodsaaklik om leierskapsbenaderings nuut in te rig om die kenmerkende omgee- en menslikheidselemente daarvan op die voorgrond te stel. Die meeste leierskapsmodelle en -style in akademiese of ander beroepsomgewings sit oënskynlik dieselfde verhoudingskwessies oor jare en eeue voort, dalk net op effens verskillende maniere. Ek stel voor dat ons 'n allesinsluitende, humanistiese en opwaartse leierskapsbenadering ondersoek wat op ubuntu-beginsels berus, en wat noodsaaklik is vir doeltreffende vredestigting, suksesvolle konflikbeslegting, en die voorkoming van sinnelose lewensverlies in Afrika, die Verenigde State en die res van die wêreld. 

 Biografie

Chris Mokolatsie

Chris Mokolatsie het pas sy PhD in die Departement Filosofie, Praktiese en Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Hy het sy magistergraad in Teologie aan die Universiteit van Natal, Suid-Afrika, behaal. Sy navorsingsbelangstellings is teologiese etiek, Afrika-etiek en inheemse Afrika-godsdienste. Chris is oorspronklik van Lesotho, maar woon tans in die Verenigde Koninkryk (VK), waar hy in die plaaslike regeringsektor werk. Hy het voorheen ook in verskeie ander sektore in die VK en Suid-Afrika gewerk, onder meer organisasies sonder winsoogmerk, die hoër onderwys en die gedrukte media – by laasgenoemde as 'n verslaggewer en redakteur.

 TITEL

Botho: Die kern van karaktervorming in Sesotho-kultuur, en kritiek op Afrokommunitarisme

 OPSOMMING

Hierdie aanbieding bevraagteken die huidige diskoers oor botho en die onbetwiste bevoorregte status van 'n Afrokommunitariese vertolking van botho as begrip en praktyk. So 'n vertolking verhoed dat die diskoers ander verrykende idees oor botho ontsluit, soos dié in die morele tradisie en taal van Sesotho-sprekende kultuur. Die praatjie brei die huidige diskoers uit deur 'n minder erkende dog interessante uitleg van botho uit die oogpunt van Basotho-mense te bied wat (a) die vestiging en aanleer van makhabane (deugde) of bewonderenswaardige morele karaktereienskappe beklemtoon omdat (b) botho nie onafhanklik kan bestaan van die karakter van motho (die persoon) wat dit uitleef nie.

 Dr Richard Benda

Dr Richard Benda is 'n politieke filosoof wat in die komplekse wisselwerking tussen godsdienstige en politieke wil belang stel. Sy passie is om te verstaan wat samelewings en staatsgemeenskappe bymekaarhou. Hy het regte aan die Onafhanklike Universiteit van Kigali studeer, waar hy ook in straf- en staatsreg klas gegee het. Die beperkinge van 'die wet' as 'n vertolkingsraamwerk vir Rwanda ná die volksmoord het dr Benda aangespoor om vir 'n PhD in Godsdiensfilosofie en Politieke Lewe (2008-2012) aan die Universiteit van Manchester, Verenigde Koninkryk, in te skryf. Sy navorsing het gehandel oor die handelinge van toegewyde en praktiese godsdienstige geloof te midde van erge politieke geweld. Dr Benda gee tans klas in kontekstuele en praktiese teologie by die teologieskool Luther King House en die Universiteit van Durham. Sy nadoktorale navorsing verken verskillende wendings in die nadraai van die Tutsi-volksmoord in Rwanda, in die besonder (a) tussengenerasienarratiewe/-dialoë oor skuld, skaamte, transformasie en verantwoordbaarheid, (b) oorgangstemporaliteite, en (c) weerstand en redding as positiewe afwyking. 

 Dinsdag 30 Maart 2021

09:00–11:00 oostelike standaardtyd (15:00–17:00 Suid-Afrikaanse tyd)

Klik hier om aanlyn te registreer

 https://msu.zoom.us/webinar/register/WN__PXuweJgSg2XlUH88G-nrw?fbclid=IwAR3dxBIEE6uyfk1vyRBljZNkOqXI_uSMYfQxO--VRhla5eC_5BbkBJcKAF8

 

VIR VERDERE INLIGTING, KONTAK:

Upenyu Majee – Michigan-staatsuniversiteit

majeeupe@msu.edu

Marietjie Oelofsen – Universiteit Stellenbosch

hmoelofsen@sun.ac.za

 

Ubuntu-dialoë is 'n uitruilprojek tussen Michigan-staatsuniversiteit in die Verenigde State en die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika. 


 

​