Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nelson Mandela Colloquium
Begin: 12/11/2020, 14:00
Einde: 12/11/2020, 16:00
Kontak:Ricky Brecht - 021 808 3660
Plek: MS Teams

DIE US MUSEUM BIED VIR DIE EERSTE KEER DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH EN NELSON MANDELA COLLOQUIUM AANLYN AAN

 

Datum van verrigtinge: 12 November 2020                      
Tyd: 14:00

Vir bywoning: StellenboschUniversityMuseum\Nelsonmandelacolloquim2020         

 

Die US Museum, saam met die Nelson Mandela-museum, sal weereens sy jaarlikse Colloquium aanbied waar akademici, studente, politici en die gemeenskap die geleentheid sal hê om na te dink oor knellende kwessies, soos gendergebaseerde geweld (GGG) en die vergifnispolitiek in Suid-Afrika.

Die Colloquium sal op 12 November 2020 plaasvind. Vanjaar sal dit vir die eerste keer weens die Covid-19-pandemie aanlyn plaasvind. Dit beteken dat belanghebbendes hierdie verrigtinge lewendig kan bywoon, ongeag waar hulle is. Die verrigtinge kan gratis bygewoon word en enigeen wat daarin belangstel, kan registreer deur op die skakel hier bo te klik.

Hierdie Colloquium is ʼn voortsetting van 'n vennootskap tussen die Universiteitsmuseum en die Nelson Mandela-museum as deel van kritiese debatte oor kwessies rakende menseregte, demokrasie, opvoeding, vryheid en geregtigheid. Die doel van die Colloquium is om deur dialoog oor die akademiese aspirasies van die Universiteit en die nagedagtenis en bevordering van Nelson Mandela se strewe na ʼn Suid-Afrika waarin mense van alle rasse in harmonie saamleef ʼn bydrae te lewer tot die bevordering van dít wat reeds op demokratiese gebied in Suid-Afrika bereik is.

Die hoofsprekers by die verrigtinge, asook verdere inligting oor hulle onderwerpe is soos volg:

 

  • Dr Tozama Qwebani-Ogunleye: Om GGG onaanvaarbaar te maak


    Nelson Mandela het op ʼn keer gesê: “Vryheid kan nie bereik word nie tensy vroue bevry is van alle vorms van onderdrukking." Hierdie vryheid is die grondslag waarop die gewone mense en die individu, die ware demokraat en ware individualiteit, man en vrou, sonder antagonisme of teëkanting byeen kan kom.
     

    Gendergebaseerde geweld is een van die wêreld se grofste skendings van menseregte. Dr Qwebani-Ogunleye sal magsverhoudings in die konteks van sosiokulturele definisies van manlikheid, vroulikheid en ekonomiese verhoudings vanuit die perspektief van die geweldpleger bespreek. Die diepliggende pyn wat deur die geweldpleger veroorsaak word, kan ʼn mens lewenslank verpletter en in die meeste gevalle gebeur dit deur die toedoen van iemand wat vertrou word en in vertrouenssituasies en -plekke, byvoorbeeld in die gesin of by die skool, werk of kerk. Opvoeding oor en bewusmaking van GGG is van die uiterste belang in die bekamping daarvan.
     
  • Dr Tozama Qwebani-Ogunleye is die hoof van die Instituut vir Tradisionele Kennis en Tradisionele Medisyne by die Vaal-Universiteit van Tegnologie waar tradisionele medisyne wetenskaplik geverifieer word met die uiteindelike doel om dit vir verbruik te produseer. Sy het 'n BSc Honneurs- en Meestersgraad in Organiese Chemie van die Universiteit van Kaapstad.

 

  • Prof Dion A Forster: Die (on)moontlikheid van vergifnis? Nelson Mandela en die vergifnispolitiek in Suid-Afrika

Prof Forster se bespreking sal fokus op die sintese van sommige aspekte van twee van die projekte waaraan hy die afgelope paar jaar by die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie by Universiteit Stellenbosch werk.

Hy sal die ingewikkelde en omstrede rol van idees soos vergifnis onder Suid-Afrikaners na aanleiding van die voortgesette ongeregtigheid van kolonialisme en apartheid bespreek. Hy sal ook die verhouding tussen sosiale identiteit en vergifnis onder swart en wit Suid-Afrikaanse Christene bespreek.

Hierdie aspekte sal oorweeg word met betrekking tot die persoon en werk van Nelson Mandela en hoe hy die verlede hanteer het en vorentoe gekyk het na ʼn toekoms vir Suid-Afrika.

 

  • Prof Forster is die direkteur van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en voorsitter van die Departement van Sistematiese Teologie en Ekklesiologie by Universiteit Stellenbosch. Hy is ʼn medeprofessor in Sistematiese Teologie en Etiek. Sy mees onlangse boeke is The (im)possibility of forgiveness? An empirical intercultural Bible reading of Matthew 18.15-35; Reconciliation, forgiveness and violence in Africa; en African public theology.

  • Vir meer inligting, skakel asseblief met Ricky Brecht by 0218083660 OF e-pos hom by rickyb@sun.ac.za