Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele professorale intreerede van Nicolene Wesson
Begin: 29/09/2020, 15:00
Einde: 30/11/2020, 15:00
Kontak:Amira Brown - 0218089500
Plek: www.sun.ac.za/streaming

Sal verpligte ouditfirma-rotasie ouditmarkkonsentrasie in Suid-Afrika verlaag?

Verpligte ouditfirma-rotasie sal op 1 April 2023 in Suid-Afrika in werking tree. Verpligte ouditfirma-rotasie in hierdie land is daarop gemik om ouditeuronafhanklikheid te bevorder, transformasie te versnel en dekonsentrasie in die ouditprofessie aan te spreek. Hierdie studie het ondersoek ingestel na die uitwerking van verpligte ouditfirma-rotasie op een van hierdie drie doelstellings, naamlik ouditmark-dekonsentrasie.

In die studie is gebruik gemaak van openbaarmakings oor ouditfirma-identiteit in jaarverslae om neigings in ouditmark-konsentrasie van JSE-genoteerde maatskappye vir die tydperk  2010–2018 te ontleed en te beskryf. In die laaste drie jaar van die navorsingstydperk, toe data oor die dienstermyn en rotasie van ouditfirmas in die openbaar beskikbaar gestel is, is dit ook ingesluit. Konsentrasieverhoudings is bereken, onderwyl rotasies en dienstermyn per ouditfirma-grootte ontleed is om die uitwerking van verpligte ouditfirma-rotasie op ouditmark-konsentrasie te beraam.

Suid-Afrikaanse ouditmark-konsentrasie weerspieël bewyse uit die meeste ontwikkelde lande, met Groot 4-ouditfirmas wat die ouditmark in elk van die studiejare oorheers het, terwyl ʼn monopolie in die Groot 4-ouditfirma-groeperings ook sigbaar was. Op grond van waargenome ouditfirma-dienstermyne en rotasiegedrag in die teikenperiode word daar verwag dat die verpligte rotasie van ouditfirmas ouditmark-konsentrasie verder sal verhoog. Die blote skaal van rotasies wat voor 2023 uitgevoer moet word, kan tot ontwrigting van die Suid-Afrikaanse ouditmark lei.

Reguleerders word aangemoedig om regsmiddele te implementeer om die onbedoelde gevolge van verpligte ouditfirma-rotasie tydig voor die 2023-aanvangsdatum die hoof te bied.