Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese agentskap en hoop: aan die ander kant van COVID-19
Begin: 23/09/2020, 13:00
Einde: 23/09/2020, 14:00
Kontak:Anthea Jacobs - 021 808 9258
Plek: MS Teams

Leer en Onderrigverryking Seminaar: 23 September 2020

​​​ 

U word uitgenooi na die volgende kwartaallikse Leer- en Onderrigseminaar onder die vaandel van die Vise-rektor (L&O), prof Arnold Schoonwinkel, en die Afdeling: Leer- en Onderrigverryking.

Onderwerp
Akademiese agentskap en hoop: aan die ander kant van COVID-19

Aanbieder
Dr Melanie Skead

Kort biografie
Melanie Skead is die Direkteur van die Sentrum vir Onderrig en Leer. Sy het vroeër Engelse Studies gedoseer en is sedert 2003 aktief in die domein vir akademiese ontwikkeling in hoër onderwys. Sy het ʼn PhD in Engels en ʼn Nagraadse Diploma in Akademiese Ontwikkeling van Rhodes Universiteit. Voorheen was sy bestuurder van leerbevordering by die Universiteit van Fort Hare, senior bestuurder van leerontwikkeling by Nelson Mandela Universiteit, en senior lektor in die Sentrum vir Navorsing, Onderrig en Leer in die Hoër Onderwys by Rhodes Universiteit voordat sy in 2018 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het. Haar navorsingsbelangstellings sluit in die transformasie van hoër onderwys deur maatskaplike geregtigheid, dekolonialiteit, gelykwaardigheid en akademiese agentskap, of bemiddeling, in die opstel van curricula en sistemiese verandering.

Reklameteks
Gedurende ʼn relatiewe kort tydperk is daar heelwat geskryf oor die globale pandemie wat die wêreld tot stilstand geruk het. Te midde van hierdie krisis word ons uitgedaag om die moontlikhede vir ʼn hernude “pedagogie van hoop" raak te sien, om nie “die stryd teen fatalisme gewonne te gee nie," maar om “al ons kragte in te span vir ʼn verbete stryd wat die wêreld sal herskep" (Freire, 2014).

Hierdie seminaar sal geleentheid bied om te besin oor opvattings oor akademiese agentskap en hoe die bereiking van hierdie soort bemiddeling moontlikhede om anders te dink en op te tree ontsluit, ook aan die ander kant van die COVID-19-oomblik. Agentskap is ʼn “ontluikende verskynsel" (Priestley et al. 2015) en het die vermoë om die vorm van reaksies op uitdagende situasies krities te beïnvloed (Biesta 2006). Dit is nie iets wat mense hét nie, maar iets wat hulle dóén (Priestley et al. 2015). Die COVID-19-oomblik sal ʼn impak op toekomstige agentskap hê en hou groot moontlikhede in vir vernuwing. Dis is byvoorbeeld moontlik dat ons aan die anderkant van COVID-19 uitkom met dieper deernis, medemenslikheid en wysheid. Ons universiteit kan opnuut omvorm word tot ʼn plek waar hoop en medemenslikheid gedy en waar meting nie hoogty vier nie.

Bandura herinner ons dat “om ʼn agent te wees, is om dinge intensioneel te laat gebeur deur ʼn mens se optrede". Agentskap maak dit moontlik vir “mense om ʼn rol te speel in hul selfontwikkeling, aanpassing en selfvernuwing in veranderende tye" (Bandura, 2001).

Hierdie seminaar sal akademiese agentskap uitlig as 'n verbintenis tot aksie wat individueel en gesamentlik funksioneer. Aksie in hierdie sin sou kon manifesteer as weerstand, transformasie en innovering. Weerstand teen selfgenoegsaamheid hou moontlikhede in vir ʼn beredeneerde, konstruktiewe proses van introspeksie, besinning en dialoog. Dit is nodig dat ons gunstige omstandighede skep vir verandering met betekenis nie net ten spyte van nie, maar ook as gevolg van die krisisoomblik. Hoop lê daarin om te besef dat ons nie net omstanders is nie, maar “agente van ervarings" (Bandura, 2001). Hoe kan ons ons agentskap aanwend om ons eie en ons studente se ervarings en omgewing by die Universiteit Stellenbosch aan die ander kant van COVID-19 te verryk?

Tyd: 13:00-14:00, 23 September 2020 op MS Teams

Navrae: Anthea Jacobs (jacobsa@sun.ac.za)

RSVP teen 21 September 2020

Klik hier om te registreer:
https://forms.office.com/Pages/DesignPage.aspx#FormId=Azv6pjwKWEKEM6Eg3_zTSBSekPOUyjxMk3TVVydyj1NUNFQyVU5VOU9UUUdUUDRQQjdMMjY0RVFQRC4u

​​