Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voormalige direkteur van Iziko praat by US Museum
Begin: 23/10/2019, 13:00
Einde: 23/10/2019, 14:00
Kontak:Natasha Coltman - 021 808 3691
Plek: Stellenbosch University Museum

Voormalige direkteur van Iziko praat by US Museum

Marilyn Martin, 'n voormalige direkteur van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery en ere-navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad (UK), besoek Stellenbosch op Woensdag, 23 Oktober om by 'n etensuurgesprek by die Universiteitsmuseum oor haar boek, Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871–2017, te praat.

Martin se boek is op uitgebreide navorsing en ondervinding gegrond. Sy besoek weer belangrike tentoonstellings, geleenthede en vergete polemieke. Die boek vestig ook die aandag op die prestasies van direkteure wat dikwels politieke agendas in die gesig moes staar en gespanne verhoudings binne en buite die instelling die hoof moes bied, en vier die Suid-Afrikaanse erfenis, kunsgeskiedenis en kulturele rykdom.

Die onderskeid tussen openbare en private museums het sover nog nie veel aandag gekry nie. Maar met die koms van belangrike private inisiatiewe in Kaapstad, is dit die ideale geleentheid om weer terminologie en benamingstelsels (nomenklatuur) wat ons as vanselfsprekend aanvaar, van nader te bekyk en om 'n gesprek oor die verskille, ooreenkomste en kruispunte aan die gang te sit.

Van die vrae wat Martin in haar praatjie sal bespreek, sluit in:

  • Wie swaai nou die septer vandat ons gevestigde, maar sukkelende nasionale en munisipale kunsmuseums in die skadu's verdwyn het?
  • Het mans, geld en die mark die kunsmuseum se ruimte ingeneem?
  • Is die nuwe private (self as “openbare" beskryf) instellings teen kritiek en noukeurige ondersoek bestand?
  • Wat doen die nasionale departement van sport, kuns en kultuur?

Nadat sy vir 11 jaar as direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery gedien het, is Martin in Mei 2001 as direkteur van kunsversamelings by die Iziko-museums aangestel. Voor haar loopbaan in die museumsektor was sy 'n senior dosent by die departement van argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

Sy werk sedert haar aftrede by Iziko-museums in 2008 as 'n onafhanklike skrywer en kurator. Sy was 'n besoekende professor by die Kingston-universiteit in die Verenigde Koninkryk (2008–2011) en 'n senior vakkundige by die Michaelis Skool vir Skone Kunste en 'n dosent in Visuele en Kunsgeskiedenis aan die UK. In Julie 2016 is sy as 'n ere-navorsingsgenoot by die UK aangestel.

Martin was van 1997 tot 2004 lid van die Nasionale Kunsteraad en tot 2007 'n trustee van die Kuns- en Kultuurtrust. In 2010 is sy in die Raad van Iziko-museums aangestel, waar sy vir drie jaar gedien het.

Martin het aan verskeie nasionale en internasionale konferensies deelgeneem en het al verskeie artikels oor kuns en kultuur vir nasionale en internasionale publikasies geskryf. Haar biografiese inligting verskyn onder meer in die Who's Who of Southern Africa en The International Who's Who of Women.

Martin is in 2002 as 'n offisier tot die Legioen van Eer van die Republiek van Frankryk toegelaat en in 2013 het sy die medalje van die Alliance Française-stigting in Parys ontvang.

Eksemplare van Martin se boek, Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871–2017, sal by die geleentheid te koop wees.

Toegang is gratis. Om 'n sitplek te bespreek, RSVP aan Natasha Coltman by 021 808 3691 of ncoltman@sun.ac.za. Verversings sal na afloop van die geleentheid bedien word.

Inligting oor die gesprek:

  • Plek: Stellenbosch Universiteitsmuseum (voorheen die Sasol-kunsmuseum, Ryneveldstraat 52, Stellenbosch
  • Datum: 23 Oktober 2019
  • Tyd: 13:00–14:00
  • Skakel: Ricky Brecht by rickyb@sun.ac.za of (021) 808 3660