Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Geestesgesondheidskrisis op ons kampusse?
Begin: 19/09/2019, 18:30
Einde: 19/09/2019, 19:30
Kontak:Wiida Fourie-Basson - 021 808 2684
Plek: GUS Art Gallery, c/o Dorp and Bird Streets, Stellenbosch

Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer geestesgesondheid as:

“'n toestand van welwees waarin elke individu sy of haar eie potensiaal verwesenlik, die normale stressors van die lewe kan hanteer, en 'n produktiewe en betekenisvolle bydrae tot hul werksomgewing en die breër gemeenskap kan lewer."

Hoër Onderwys Instellings (HOIs) verskaf genoegsame geleenthede aan studente om hul kennis en vaardighede te ontwikkel ten einde optimaal in die behoeftes van 'n florerende gemeenskap te kan voorsien. Die werklikheid is egter dat ons kampusse op die rand van 'n krisis t.o.v. die geestesgesondheid van ons studente staan.

Studente wat geestesgesondheidsprobleme ervaar, vind dit moeilik om normale stressors van studentelewe die hoof te bied, hulle vermoë om optimaal te funksioneer en hulle volle potensiaal te bereik word ingekort, hulle produktiwiteit ly daaronder en uiteindelik kan hulle nie 'n beteknisvolle bydrae tot die gemeenskap lewer nie. HOIs verkeer tans onder ontsaglike druk om te kan voorsien in die sielkundige behoeftes van kwesbare studente wat moontlik geestesgesondheidsiektes kan ontwikkel.

'n Onlangse Amerikaanse studie het getoon dat kwessies aangaande studente se geestesgesondheid en gepaardgaande siektegedrag sedert 2015 betekenisvol toegeneem het in vergelyking met vorige jare. Angs en depressie was boaan die lys van psigopatologiesimptome wat studente ervaar het . In 2017 het 'n studie getoon dat minstens 12% van universiteitstudente by 'n Suid-Afrikaanse HOI matige tot ernstige simptome van depressie ervaar.

Soos wat die 2019 akademiese jaar besig is om tot 'n einde te snel, het Science Café Stellenbosch mnr. Charl Davids en dr. Elmien Sinclair van die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) genader om oor studente se geestesgesondheid te gesels: hoe studente hul emosionele hanteringsvaardighede kan ontwikkel ten einde hul eie én die gemeenskap se geestesgesondheid te bevorder. Die gesprek word gelei deur Prof Anna-Mart Engelbrecht van die Departement Fisiologiese Wetenskappe.

Meer oor die sprekers

Mnr Charl Davids is onlangs as adjunkdirekteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) aangestel. Hy was voorheen 'n lektor in die Departement Sielkunde by die Universiteit van die Wes-Kaap, waar hy vanaf 2013 tot 2015 as adjunkdepartementshoof gedien het. Hy is 'n geregistreerde voorligtingsielkundige met 'n belangstelling is middelmisbruik, sportsielkunde en identiteitskwessies.

Dr Elmien Sinclair is hoof van die SSVO se Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling.  Sy is 'n geregistreerde opvoedkundige sielkundige met 'n passie vir die skep van geleenthede vir studente om hul potensiaal te ontwikkel. Sy is 'n voorstander van 'n holistiese ontwikkelingsbenadering om studentesukses te verseker.

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling bied professionele sielkundige ondersteuning en ontwikkelingsdienste aan Stellenbosch se universiteitsgemeenskap. 

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om gesprekke oor wetenskaplike kwessies aan te moedig, in 'n taal wat almal kan verstaan. Toegang is gratis.

Volg ons op Facebook.

Grafika: ©​Cayla Basson