Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Welkom Maties-klas van 2023
Outeur: Corporate Communication and Marketing (Hannelie Booyens) | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 03/02/2023

​Coetzenburg se Danie Craven-stadion was Donderdag 2 Februarie 2023 met 'n vreugdevolle gegons gevul toe die Universiteit Stellenbosch (US) se eerstejaarstudente en hul gesinne die jaarlikse amptelike verwelkomingsgeleentheid bygewoon het.

Die nuwelingstudente het 'n maroen golf in die volgepakte stadion gevorm waar hulle gewys het dat die klas van 2023 reeds geïnspireerd en gemotiveerd is om die uitdagings van die studentelewe aan te durf.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, was saam met die studente opgewonde. Hy het gesê dit is 'n vreugde om weer 'n vol stadion mense te kan toespreek ná die afgelope paar jaar se Covid-19-protokols. “Ons is vanjaar terug met volle krag," het De Villiers te midde van oordonderende toejuiging uitgeroep.

Nuwe personeellede wat sedert Februarie 2022 by die Universiteit begin werk het, asook nuweling-nagraadse en -postdoktorale studente het ook die verwelkomingsgeleentheid bygewoon.

Waardes

De Villiers het in sy toespraak aan die nuwe kohort Maties die Universiteit se waardes – uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid – beklemtoon en studente aangemoedig om dit as hulle kompas gedurende hulle tyd by die Universiteit te gebruik.

Hy het ook oor die Universiteit se doelwit om 'n inklusiewe ruimte te wees gepraat – 'n plek waar menseregte voorrang geniet en waar mense van alle agtergronde welkom is. “Die idee dat die Universiteit Stellenbosch net 'n plek vir 'n sekere groep mense is, is iets van die verlede. Dit is julle plek dié," het De Villiers gesê.

Hy het die studente gelukgewens dat hulle aanvaar is om aan die US te studeer in 'n jaar waarin die Universiteit 'n rekordaantal aansoeke ontvang het. “Julle het dit gemaak. So wees trots! Gee julleself 'n klop op die skouer, julle verdien dit."

Hy het egter die nuwelinge daaraan herinner om nederig en gefokus te bly. “Julle het almal spesifieke vaardighede en talente wat julle hier kom aanbied. Ons is gretig om te sien wat julle elkeen se bydrae gaan wees. Ons sal die hele pad daar wees vir jou, maar dit hang van jouself af om jou drome 'n werklikheid te maak," het hy gesê.

Studente is ook daaraan herinner dat hulle nie “alleen by die Universiteit" is nie.

“Ons beskik oor 'n uitgebreide netwerk om jou te ondersteun – van die studenteleiers en mentors in jou koshuis en kluster tot die dosente en ander personeel in jou fakulteit en die administratiewe eenhede van die Universiteit, insluitende ons toegewyde Afdeling vir Studentesake," het hy gesê.

Die nuwe kohort Maties is ook aangemoedig om tyd in te ruim vir buitemuurse bedrywighede. “Sluit by verenigings aan; gaan verken die omgewing; maak vriende wat jou horisonne sal verbreed; kies 'n studente-ervaring wat jou sal transformeer. Dis alles daar vir jou om aan te gryp."

Jy behoort hier

Die voorsitter van die Studenteraad, Masilo Silokazi, het die nuwelingstudente met inspirerende woorde verwelkom wat op die belangrikheid van inklusiwiteit en diversiteit op kampus gefokus het.

Silokazi het vertel hoe sy werk om positiewe verandering teweeg te bring sodat elke student kan tuis voel. “Die gevoel van tuishoort kom slegs saam met die wete dat hoewel ek swart, queer en 'n vrou is, klop my bloed maroen in my are, want ek is 'n Matie en ek is trots daarop om 'n Matie te wees. En daardie trots kan slegs saam met die sekerheid en vertroue kom dat ek hier tuishoort, dat ons almal hier hoort," het Silokazi gesê.

Sy het die eerstejaars voorgegaan om 'n belofte af te lê om hulleself en hulle medestudente te bemagtig en mekaar aan te moedig om hoë standaarde van inklusiwiteit, regverdigheid en gelykheid te handhaaf.

Die nuwelingstudente is ook by die verwelkomingsgeleentheid aan die US Rektoraat, lede van die senior bestuur, die SR, die Tygerberg Studenteraad, die Militêre Akademie se Studenteraad, die Akademiese Belangeraad, die uitvoerende komitee van die Raad van Verenigings, klustersameroepers en die Primkomitee bekendgestel.

  •  Nuwelingstudente begin op 13 Februarie met klas. Dit is ook die amptelike begin van die Universiteit se 2023-akademiese jaar.

* Foto: Stefan Els