Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-wetenskaplikes help skep ʼn beter wêreld — Prof Wim de Villiers
Outeur: Prof Wim de Villiers Rector and Vice-Chancellor/ Rektor en Visekanselier
Gepubliseer: 03/02/2023

​Die onlangse Global Scholars Academy wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid en die Harvard Regskool se Instituut vir Globale Reg en Beleid (IGLP) aangebied is, het aan vakkundiges van ses vastelande die geleentheid gegee om saam met hul eweknieë aan gesprekke oor die wêreld se dringendste kwessies deel te neem. In ʼn meningsartikel vir News24 (1 Februarie 2023) besin prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, oor hierdie en ander medewerkende geleenthede as 'n teken daarvan dat Afrika besig is om sy stem te verhef om die behoeftes van die samelewing aan te spreek.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Om in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor te floreer verg durf, vasberadenheid en harde werk. Begrotingsbesnoeiings, onsekerheid oor finansiering vir studente vanaf die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), inflasie en beurtkrag is maar net van die kwessies wat ons pogings bedreig om nie net ons land se jeug op te voed en te bemagtig nie, maar ook om doeltreffende navorsing te doen wat 'n werklike invloed op die wêreld het.

Ons is beslis nie die enigste sektor wat swaarkry nie. Die ooglopende kwessies met ons kragnetwerk, 'n watertekort in sekere dele van die land en verskeie ander hindernisse het 'n uitkringeffek wat alle sektore, ondernemings, maatskappye en individue beïnvloed. En dit is duidelik dat ons nie net van die regering kan verwag om oplossings vir hierdie probleme te vind nie.

Net soos ons in die Covid-19-pandemie ondervind het, bied uitdagings ook geleenthede. Die feit dat leer en onderrig voortdurend verander en die vermoë om betekenisvolle navorsing te doen, bied aan universiteite die geleentheid om aan te pas en met oplossings vorendag te kom om te help om die lewens van die mense in ons gemeenskappe te verbeter.

Met gemeenskappe bedoel ek plaaslike, nasionale en wêreldgemeenskappe. Suid-Afrikaanse universiteite lok talle internasionale studente en ons het geweldige kapasiteit om denke te vorm en die samelewing te beïnvloed. Die globale gemeenskap word al hoe meer en meer bewus van ons vasteland se wetenskaplike navorsing. Dit het 'n wêreldwye uitkringeffek gehad wat die narratief van navorsing oor Afrika en Afrikane verskuif het na navorsing deur Afrikane vir Afrikane en die res van die wêreld.

Soos bewys is met die identifisering en aanmelding van die Omikron-variant van Covid-19 in 2021, maak ons wetenskaplikes grensverskuiwende ontdekkings wat die hele wêreld tot voordeel strek.

Maar dit kan nie gebeur sonder medewerking nie.

Globale medewerking

Die US se jaar het met die Global Scholars Academy (GSA), 'n vennootskap tussen die US se Fakulteit Regsgeleerdheid en die prestigeryke Harvard Regskool se Instituut vir Globale Reg en Beleid (IGLP) in die VSA afgeskop. Die GSA is op Stellenbosch aangebied.

Die doel was om uitgelese én jong vakkundiges van regoor die wêreld byeen te bring om van die wêreld se dringendste kwessies op die gebied van internasionale reg, beleid en ekonomie te debatteer. Deelnemers van elke vasteland – sowat 'n derde van die meer as 130 deelnemers was van Afrika – uit uiteenlopende agtergronde het bymekaar gekom om kwessies wat gestrek het van strukturele armoede, menseregte, ongelykheid en migrasie na internasionale ekonomiese en regsbeleide tot omgewingsvolhoubaarheid en globale sekerheid, te bespreek en ernstig te debatteer.

Die uitkomste van die geleentheid sal beslis 'n uitwerking op verskeie gemeenskappe regoor die wêreld hê. En ons hoop om dit weer in die toekoms aan te bied.

Nobel in Afrika

Nog 'n voorbeeld van die globale wetenskaplike gemeenskap wat die kollig op Afrika-navorsing laat val, is die Nobel in Afrika-simposium wat by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou is. Die simposium, wat deur meer as 150 deelnemers bygewoon is, het in Oktober verlede jaar plaasgevind en daar is op fisika gefokus.

Volgens die Verenigde Nasies sal meer as die helfte van die bevolkingsgroei van nou tot 2050 na verwagting in Afrika voorkom. Afrika het hoogste bevolkingsgroeikoers onder belangrike gebiede. Die bevolking suid van die Sahara sal na verwagting teen 2050 verdubbel.

Met hierdie soort statistiek is intellektuele belegging op ons vasteland sinvol. Die simposium-reeks het die kennisproduksie en navorsingpotensiaal van ons vasteland ten toon gestel.

Danksy hierdie inisiatief het STIAS die eerste instelling buite Skandinawië geword om sedert die totstandkoming van die simposiumreeks in 1965 Nobel-simposia namens die Nobelstigting aan te bied. En aangesien die fisika-simposium wat deur STIAS en die US aangebied is, ook 'n uitreikingselement ingesluit het waardeur deelnemers openbare lesings by universiteite en navorsingsinstellings landwyd aangebied het, was dit 'n manier om wetenskap na ons gemeenskappe te neem.

Vanjaar se reeksonderwerp is chemie met 'n fokus op tuberkulose en antibiotiese weerstandigheid – twee groot gesondheidsuitdagings wat die mensdom in die gesig staar.

Navorsing vir impak

De twee bogenoemde geleenthede wys dat die dringendste kwessies dikwels betekenisvolle medewerkende navorsing vereis wat 'n direkte impak op die samelewing het – hetsy deur beleid of as riglyne.

'n Voorbeeld van sulke navorsing is die werk wat ons eie prof Tulio de Oliveira, die direkteur van die US se Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (SERI), en sy span oor genomiese waarneming doen wat 'n betekenisvolle impak op die geneeskundige wetenskap het. Die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) se publikasie, Technological Review, het in 2022 hierdie werk by sy lys van die Top 10 deurbraaktegnologieë ingesluit en De Oliviera en dr Sikulile Moyo, laboratoriumdirekteur by die Botswana-Harvard MIV-verwysingslaboratorium en 'n US-alumnus, is deur die Times-tydskrif as van die 100 invloedrykste mense in die wêreld aangewys.

Dit is maar net een voorbeeld van die talle wetenskaplikes van Afrika wie se werk bydra tot die verbetering van die samelewing in geheel. En waar medewerking tot uitvinding lei.

Klimaatstudie

Die behoefte van klimaatsnavorsing word ook al hoe dringender. Die US se Skool vir Klimaatstudie is skaars een jaar oud, maar het reeds 'n belangrike impak gemaak. Die Skool het Globale Jong Klimaatsambassadeurs betrek by die organisering van 'n week van klimaatsgeleenthede wat deur die jongmense gelei is – die Climate X-week in aanloop tot COP27 in Egipte. Laat verlede jaar het die Skool ook die Afrika-streeksforum oor Klimaatsverandering aangebied waarby 16 Afrika-lande teenwoordig was.

Gegewe die talle globale uitdagings wat ons in die gesig staar, word dit maar al te duidelik dat meer as net navorsing wat maar net ter wille van navorsing gedoen word, nodig is. Ons moet saam met plaaslike en internasionale vennote na blywende oplossings soek indien ons onder meer klimaatsverandering, siektes, hongersnood, armoede, werkloosheid en toenemende ongelykheid wil aanspreek. Ons moet verseker dat ons nie in silo's werk nie, buite ons gemaksones beweeg en aktief netwerke skep om ons toekoms te verseker.

Die Nigeriese skrywer Wole Soyinka – die eerste swart Afrikaan wat die Nobelprys vir literatuur gewen het – het die volgende gesê: “Niemand is ryk genoeg om gister te kan koop nie, maar indien jy hard woeker, kan môre joune wees."

Dit is nou die tyd vir Afrika-navorsers om te woeker, om die werk te doen, om te verseker dat komende geslagte by ons arbeid sal baat vind en dat Afrika sy regmatige plek in die wetenskap wêreldwyd inneem.