Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika Doktorale Akademie- (ADA-)somerskool
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 27/01/2023

​Vanjaar se Afrika Doktorale Akademie- (ADA-)somerskool het Maandag (23 Januarie 2023) amptelik begin. Die skool, wat in die Krotoagebou by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied word, is die eerste wat sedert die Covid-19-pandemie weer in kontakvorm plaasvind.

 Die ADA, wat deel uitmaak van US Internasionaal, beoog om deur 'n geïntegreerde, holistiese benadering doktorale opleiding en akademieskap in Afrika oor vakrigtings heen te ondersteun, te versterk en te bevorder.

 Die twee weke lange ADA-somerskool bied praktiese en relevante opleiding in navorsing en tegnologie, en keusemodules in akademiese gereedheid en loopbaanontwikkeling. Dit is afgestem op (sowel huidige as voornemende) doktorale kandidate, promotors en navorsers van Suid-Afrika, Afrika en verder. Daarbenewens bied dit deelnemers 'n geleentheid om met medekursusgangers en dosente te skakel en idees en kennis uit te ruil.

 Deelnemers van so ver as Gaboen, Kenia, Mosambiek, Nigerië, Rwanda, Tanzanië, Uganda en Zambië sal tot en met 3 Februarie 2023 kan voordeel put uit kursusse oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe, van navorsingsetiek en PhD-voorbereiding tot die skryf van finansieringsvoorstelle en gevorderde kwalitatiewe navorsingsontwerp. Die kursusse word deur toonaangewende vakkenners en fasiliteerders aangebied.

 Vir die meeste universiteite in Suid-Afrika en op die res van die vasteland is doktorale akademieskap noodsaaklik vir die ontwikkeling van die hoër onderwys en navorsingsproduksie in Afrika. In die lig daarvan dien die ADA as 'n unieke hulpbron om die hoër onderwys en navorsing in Afrika te versterk. Die einddoel is om kennisskepping in Afrika te ondersteun deur die getal en gehalte van doktorale gegradueerdes in Suid-Afrika en elders op die vasteland te verhoog.

 Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het gedurende die amptelike opening van die somerskool gesê dat hoewel Covid-19 ontwrigtend was, dit ook heelwat geleenthede vir akademici en wetenskaplikes geskep het.

 “By die US het die pandemie ons die geleentheid gebied om werklik aan die voorpunt van sommige van die wetenskap te wees. So byvoorbeeld het die US se prof Tulio de Oliveira, internasionaal erkende bio-inligtingskundige, aan die hoof gestaan van die groep wat die Omicron-variant van Covid-19 ontdek het."

 Sy het bygevoeg dat die US, deur sy visie en missie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, daartoe verbind is om navorsing op die vasteland te bevorder en dit te gebruik om 'n voelbare impak te hê.

 “As deel van ons doel om 'ontwrigtende innovasie' bekend te stel, het ons die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Skool vir Klimaatstudie tot stand gebring. Ons werk saam met meer as 100 instellings of universiteite op die vasteland, en meer as 350 wêreldwyd. Ons is deel van ARUA (die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie) – 'n liggaam van 16 universiteite wat hetsy navorsingsintensief is of wil word."

 Klopper het die deelnemers aangemoedig om oor die volgende twee weke na te dink oor hoe hulle gesamentlik 'n verskil kan maak. “Die vraag wat ons onsself as wetenskaplikes en opvoeders moet afvra, is hoe ons hierdie vasteland vir die toekoms gaan voorberei. Hoe kan ons sorg dat ons onderwysgeleenthede voorsien? Hoe kan ons tot nuwe ondernemings bydra en sodoende die uiterste armoede op die vasteland help verlig?"

 Deelnemer Oko Chima Enworo, 'n Nigeriese doktorale kandidaat, studeer tans aan die Departement Sosiologie van die Universiteit van Pretoria. Hy is opgewonde oor die vooruitsig om oor die volgende twee weke sy skryfvaardighede te verbeter. “Ek het vir die kursus 'Akademiese Skryfvaardighede vir Doktorale Studente' geregistreer. Dit bied my die ideale geleentheid om my skryfvaardighede te verbeter, want teen die tyd wat ek my tesis indien, is ek veronderstel om artikels te publiseer. So, die kursus sal my help om my skryfvaardighede op te skerp."

 Hy sien ook daarna uit om met ander deelnemers te gesels en by hulle te leer. “Die lekker ding van die kursus is dat jy in jou interaksie met ander ook aan nuwe kennis van vakkundiges in verskillende vakrigtings blootgestel word. So, eintlik brei jy sommer ook jou kennis uit," sê hy.

 Die US bied boonop elke Junie/Julie ADA-winterskole aan. Sedert die totstandkoming van die ADA in 2009 het meer as 2 000 voornemende en ingeskrewe doktorale kandidate en hulle promotors van 37 lande al die jaarlikse somer- en winterskole bygewoon.​