Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrouepioniers bespreek loopbaanontwikkeling
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 03/08/2022

'n Paneelbespreking met die doel om jong alumni te help om voordeel te trek uit die advies en ervarings van twee kundige pioniers in die werksomgewing, is onlangs deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied as deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Wêreld van Werk-week.

Die geleentheid met die tema Loopbaanontwikkeling en -groei: wenstrategieë, is in samewerking met die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aangebied. Dit maak deel uit van 'n reeks aanbiedings wat oor die werksomgewing handel.

Die twee kundiges na wie verwys word, is vroue wat al geruime tyd in hulle onderskeie velde bekendheid verwerf het.

Rachel Jafta is 'n professor in Ekonomie aan die US en spesialiseer in die Ekonomie van Tegnologiese Verandering. Sy is 'n direkteur van maatskappye, voorsitter van Media24 en NaspersLabs, stigter van die Media24 Rachel's Angels-mentorskapprogram, die Kaapstad Karnaval en WeCode24, wat daarop gemik is om kinders te help om voordeel te trek uit digitale tegnologieë. Jafta dien op die Bestuurskomitee van die Buro vir Ekonomiese Navorsing, Naspers Foundry Adviesraad en die Internasionale Adviesraad van Fundação Dom Cabral Sakeskool in Brasilië.

Terry Volkwyn is the voormalige uitvoerende hoof van Primedia Broadcasting en wenner van die Vrou van die Dekade-mediatoekenning. Onder haar leierskap is Eyewitness News, 'n relevante en leidende nuushandelsmerk met 'n uitgebreide digitale voetspoor regoor Suid-Africa, by die maatskappy geïntegreer. PrimeTalent, 'n interne talentbestuursagentskap, en Crime Line, 'n diens vir anonieme wenke oor misdaad, het ook tydens haar ampstermyn tot stand gekom. Volkwyn, wat 17 jaar lank die uitvoerende hoof van Primedia was, is tans mede-eienaar van 'n konsultasiefirma wat maatskappye help met leierskapsopleiding en besigheidstelsels.

Die vroue het vrae van jong gegradueerdes en studente beantwoord. Karabo Mogashoa, voorsitter van die Studentekomitee vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die vraag- en antwoordsessie gefasiliteer. Die vrae het die volgende ingesluit:

Hoe belangrik is dit om deur mense raakgesien en ondersteun te word in jou loopbaanontwikkeling?

Volkwyn: Binne Primedia was daar twee of drie individue wat my talent opgemerk het. Maar ek sou sê my beloning het uit my prestasie voortgevloei. Wanneer jy by 'n maatskappy begin, ongeag van jou posisie of rol, probeer om alles te gee, veral as jy passievol is oor die besigheid en regtig jou merk daar wil maak. Om te leer hoe alles werk, sal jou 'n bestuursposisie besorg as dit is waarna jy streef. Dit is ook belangrik om by te dra tot die besigheid buite jou kundigheidsgebied en om 'n sakementor te kry. Ek het 'n mentor vir 15 van my 17 jaar by die maatskappy gehad het.

Jafta: Mense het my glo raakgesien omdat ek geniet wat ek doen en dit het hulle gefassineer. Maar 'n mens moet ook gereed wees wanneer geleenthede na jou kant toe kom. Elke keer wanneer 'n nuwe deur vir my oopgegaan het, was dit 'n nuwe omgewing vir my en moes ek baie nuwe dinge aanleer. Ek het byvoorbeeld ter voorbereiding van my voorsitterskap van die Media24-direksie 'n program vir uitvoerende hoofde by Harvard Besigheidskool bygewoon om meer te wete te kom oor wat die rol van my sou vereis.

Ek stem heelhartig saam dat jy 'n afrigter of 'n mentor moet hê, veral as dit iemand buite jou onmiddellike werksomgewing is, want hulle kan dan 'n onafhanklike klankbord vir jou wees.

Hoe ontwikkel jy netwerke, veral as jy as 'n pas afgestudeerde in die korporatiewe wêreld begin werk?

Volkwyn: Ek dink kontakte is baie belangrik, maar om goeie netwerke tot stand te bring waarop jy jou hele lewe kan staatmaak, is harde werk. Hulle moet ware kontakte wees en verkieslik mense wat jy op skool en universiteit leer ken het. Wanneer jy wel aan 'n nuwe kontak bekendgestel word, moet jy genoeg tyd investeer om daardie konneksie te ontwikkel. Om te veel te gou en te vinnig te doen, werk nie.

Jafta: Probeer om mense van alle ouderdomme in jou network te hê. Jy kan baie leer van beide jongmense en mense met baie ondervinding.

Hoe bly 'n mens gemotiveerd en positief in jou werksomgewing gedurende hierdie onstuimige tydperk in die land en ons wêreld?

Volkwyn: Eerstens benodig jy 'n doelwit waarna jy kan streef. Om 'n doelwit te hê, kry jou deur die slegte en moeilike tye. 'n Gedeelte van daardie doelwit is om jou rol in die onderneming te identifiseer. Maar jy moet geduldig wees. Jy kan nie iets vir ses maande doen en dan die bestuurder van daardie departement wil wees nie. Sommige mense het die talent om dit te kan doen, maar in die meeste gevalle tuimel mense wat te gou bevorder word, van die korporatiewe leer af. As jy gefokus is, doelwitte het, die regte dinge doen en passievol is oor wat jy doen, sal jy suksesvol wees.

  • ​Foto's (verskaf): Van links na regs is me Terry Volkwyn, prof Rachel Jafta en fasiliteerder Karabo Mogashoa.​​