Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNLearn Oorrol 2021-2022
Outeur: Thys Murray
Gepubliseer: 03/12/2021

​Dit is iets wat elke jaar op SUNLearn gebeur wanneer die nuwe jaar se modules geskep word, die inhoud oorgedra en die personeel gelaai word, alles wat in plek moet wees wanneer die student begin registreer en toegang tot hul aanlyn inhoud kry.

Maar hoe werk hierdie proses?

Van julle mag die vraelys onthou wat ʼn paar jaar gelede uitgestuur is. In hierdie vraelys word personeel gevra om al hul vakke wat op SUNLearn is te lys, om aan te dui of die inhoud na die volgende jaar oorgedra moet word, en om enige kollegas in te sluit wat ook gelaai moet word. Die span het dan deur die lys gegaan, een vir een, en die oorrol van daardie module met die hand gedoen, die bykomende vereistes afgehandel, en na die volgende versoek aan beweeg.

Soos jy kan dink het hierdie proses die span baie lank geneem om te voltooi. Inteendeel, die grootste vertraging was die laat versoeke; ongeveer ʼn derde van die oorrol versoeke is geplaas nadat die jaar reeds begin het. Die span het daarom besluit om die proses te outomatiseer.

SUNLearn, of eerder, die Moodle sagteware, het ʼn funksie waarmee jy ʼn groot klomp modules op een slag kan skep en ook inhoud van ʼn aangeduide bron module kan oordra. Ons het hierdie funksie ondersoek vir massa module inhoud oordrag en dit het verbasend goed gewerk. Wat dit behels is om ʼn dokument op te stel met ʼn lys van teiken kodes van die daaropvolgende jaar asook ʼn lys van bron kodes van die huidige jaar. Jy laai die lys op na die stelsel en wag. Sodra die stelsel die dokument geprosesseer het, is die aangeduide bron modules se inhoud oorgedra na die teiken modules.

Deur van hierdie proses gebruik te maak laat dit ons toe om die oorrol proses in enkele weke te voltooi, in stede van maande.

Die finale stap is om ʼn lys te trek van personeel soos hulle tans vir die modules gelaai is, en hierdie personeel vir die dienooreenkomstige modules van die daaropvolgende jaar te laai en die oorrol is voltooid.

Meer inligting omtrent die 2021-2022 oorrol sal op die SUNLearn webblad geplaas word.