Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
In gesprek met Patience Badze
Outeur: Viwe Benxa
Gepubliseer: 02/12/2021

“Innoveerder", “entrepreneur" en “bemarkingspesialis" is van die woorde wat Patience Badze gebruik om haarself te beskryf. Patience is 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), wat tans in Kanada woon. Sy is passievol daaroor om dinge te skep en deur haar ervarings en vaardighede lewe daaraan te gee. Viwe Benxa het die geleentheid aangegryp om Patience te vra wat haar ervaring by die Universiteit Stellenbosch vir haar beteken het en wat haar na Kanada gebring het.

Wanneer het jy aan die Universiteit Stellenbosch afgestudeer en wat het jy studeer?

Ek het in Desember 2015 met 'n Nagraadse Diploma in Kennis- en Inligtingstelselbestuur (KISM) aan die US gegradueer.

Hoekom het jy gekies om op Stellenbosch te studeer?

Ek wou nog altyd aan die US studeer, selfs as 'n voorgraadse student, maar ek het laat aansoek gedoen en uiteindelik aan 'n ander instelling studeer. Toe ek besluit om my meestersgraad te doen was Stellenbosch toe die enigste universiteit wat die program aangebied het wat ek wou doen, die MPhil in Inligting- en Kennisbestuur (MIKM). Die lewe het tussenbei gekom en ek het nie klaar gemaak nie, maar gelukkig kon ek wel my Nagraadse Diploma in Kennis- en Inligtingstelselbestuur voltooi.

Wat was jou gunstelingherinnering van jou tyd op Stellenbosch?

Dit is moeilik om 'n gunstelingherinnering uit te sonder, want ek moes heelweek blokklasse bywoon. In daardie weke was my dae volgepak van 08:00 tot 17:00. Wat ek wel baie geniet het, was die ervaring om die ander nagraadse studente te ontmoet en natuurlik die laaste aand van elke sessie wanneer ons kon wegbreek. Dit was als heel verantwoordelik, maar steeds hope pret.

As jy 'n lesing sou “bunk", waar sou jy gewees het in plaas van in die klas?

Ek kon nie bekostig om stokkies te draai nie, maar ek is redelik seker ek sou iewers buite in die son gewees het met 'n goeie boek (fiksie) en moontlik 'n koue boetiekbier, want wyn maak my lomerig.

Wat het jou na die VS of Kanada gebring?

Ek dink soos die meeste mense het ek 'n geleentheid raakgesien. Nadat ons as 'n gesin ons navorsing gedoen het, het ons gevoel Kanada sou meer geleenthede vir ons besigheid en vir ons kinders bied.

Hoe lank is jy al daar?

Ons het in November 2019 hier aangeland, net betyds vir Covid!

Vertel ons 'n bietjie van die werk. Wat geniet jy daarvan?

Ek is 'n vennoot en Bedryfsdirekteur by die handelsmerk- en ontwerpagentskap edgeBD Inc. Ek hou veral van die strategiese deel van my werk waar ek konseptualisering en beplanning vir besighede en veldtogte kan doen. Tegnies gesproke is ek nie 'n kreatiewe persoon nie, maar ek is gek daaroor om deel te wees van die kreatiewe proses en om te sien hoe ons planne gestalte kry.

Wat is jou tuisstad/‑dorp/‑staat/‑provinsie?

Ons woon in die voorstedelike dorp Oakville in Suid-Ontario, sowat 40 km vanaf Toronto.

Wat is jou gunstelingplek of die kuierplek wat jy die graagste in jou woonbuurt besoek?

Dalk het ek 'n antwoord daarvoor in 2022. Vandat ons hier aangeland het, is ons letterlik net toegelaat om vir die basiese dinge uit te gaan. Ek het nog nie kans gehad om genoeg te verken en te ervaar om te besluit wat my gunstelingplek is nie. Ek bly egter in 'n woonbuurt met 'n aantal parke en staproetes en geniet dit om daar te gaan stap wanneer die temperatuur bo nul grade is.

Waar jy nou in die buiteland woon, wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

So baie – die kos, die energie, die kleure! Daar is 'n bepaalde lewenskragtigheid aan Suid-Afrika, wat jy nie waardeer totdat jy dit nie meer ervaar nie. Dan, natuurlik, al die familie en vriende wat ek agtergelaat het – ek mis hulle.

Watter boodskap sou jy graag deel met toekomstige Maties wat in hul finale jaar aan die US is?

Berei betyds voor vir die lewe ná jou studie. Die dag ná jou gradeplegtigheid is te laat om uit te vind wat jy wil doen. Begin vroeg kontakte opbou en onthou om met mense in jou bedryf te netwerk.