Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendmaking van nuwe B.1.1.529-variant (Omikron)
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 29/11/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) neem met besorgdheid kennis van die kritiek wat op sosiale media geopper is oor die bekendmaking van die nuwe Covid-19-variant, B.1.1.529 (Omikron) deur die US-navorser, prof Tulio de Oliveira.

De Oliveira, 'n wêreldbekende bioinformatikus en professor in Bioinformatika aan die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, het verlede week (25 November 2021) saam met die nasionale departement van gesondheid en wetenskaplikes van die Netwerk vir Genomiese Waarneming in Suid-Afrika, die opsporing van 'n nuwe COVID-19-virusvariant in Suid-Afrika tydens 'n mediakonferensie bekendgemaak.

“As 'n voorste navorsingsintensiewe universiteit in Suid-Afrika, neem die Universiteit Stellenbosch sy morele plig ernstig op om die publiek en openbare gesondheidsowerhede oor enige navorsingsbevindings oor nuwe variante in te lig wat uiteindelik in die publiek se beste belang sal wees en om maatreëls voor te stel ter beskerming van openbare gesondheid. Gegewe die pandemietoestand waarin ons ons bevind, is dit ons plig om die breër publiek van 'n nuwe variant bewus te maak. Ons het dit voorheen gedoen en glo dit is ons wetenskaplike en etiese verantwoordelikheid om betyds inligting oor deurbraakvariante te deel soos en wanneer hulle geïdentifiseer word. Dit sou onverantwoordelike wetenskap wees om nie hierdie belangrike inligting aan die publiek bekend te maak nie," sê prof Eugene Cloete, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies.

Die Universiteit Stellenbosch bly verbind tot die verskerpte nakoming van bewese veiligheids- en gesondheidsmaatreëls, en veral tot inenting as 'n onontbeerlike instrument in die bekamping en stuiting van die pandemie. Daar bestaan geen twyfel dat entstowwe die oordrag van die virus verlaag en dat dit mense teen ernstige siekte, hospitalisering en sterfte beskerm nie. Dit sluit aan by die President se verklaring gisteraand (28 November 2021) waarin hy mense wat nog nie ingeënt is nie, aanmoedig om dit so gou as moontlik te laat doen.