Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende eerstejaar mediese student ontwikkel ‘bot’ om orgaanskenkers te werf
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 18/11/2021

Duisende mense in Suid-Afrika benodig organe om hulle lewens te red, tog is slegs ʼn baie klein persentasie van ons land se bevolking orgaanskenkers. Inderwaarheid het Suid-Afrika een van die laagste orgaanskenkersbevolkings in die wêreld.

ʼn Innoverende eerstejaar mediese student, Jonty Wright, wil hierdie situasie beredder, en hy hoop dat ʼn “bot" en ander materiale wat hy ontwikkel het sal help om studente as orgaanskenkers te werf.

Wright beskryf homself as ʼn “geesdriftige mediese entrepreneur" en het ʼn veldtog, genaamd 'Save7' ontwikkel wat daarop gemik is om jong mense as orgaanskenkers te werf deur inligting op ʼn “prettige en interaktiewe manier" aan hulle te verskaf.

“Almal het die vermoë om sewe lewens te red – en dit neem ongeveer sewe sekondes om aan te sluit as ʼn orgaanskenker," het Wright in ʼn onderhoud gesê. “Maar vir die een of ander rede doen mense nie die introspeksie wat nodig is om ʼn orgaanskenker te word nie. Hulle vra nie hulself af 'wat gaan gebeur as ek doodgaan nie...' Dit is ʼn probleem in Suid-Afrika, maar ek glo dit is maklik om te oorkom."

Om mee te begin wil Wright die gesprek oor orgaanskenking aan die gang sit. Hy het verduidelik hoe hy die kletsbot ontwikkel het met ʼn “baie gesellige stemtoon om vir studente se boodskapstyl voorsiening te maak" en hy het ook ʼn paar plakkate ontwerp om jong mense aan te trek.

“Die bot help nogal om jong mense te lok. Die klets neem ongeveer 60 sekondes om te voltooi, waarna die gebruiker hulle heldhaftige orgaanskenkerstatus op hulle Instagram-stories, Facebook- of LinkedIn-profiele kan bekendmaak," het hy gesê.

Wright het ook ʼn ander projek, genaamd SimplyMed vanjaar van stapel gestuur. Dit verskaf notas, oefeninge, video's en studietegnieke vir studente wat medies studeer. Die idee vir Save7 het juis gespruit uit die werk wat hy gedoen het om materiaal vir SimplyMed te ontwikkel.

Wright het gesê dat sy orgaanskenkingsveldtog eintlik nog onafgehandel is maar dat hy hoop om dit binnekort vry te stel. “Die bot word ondersteun deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en sal vanaf 2022 deur die Orgaanskenking Stigting gebruik word. “Dit kan via WhatsApp, Facebook, LinkedIn of enige ander webtuiste gedeel word. Ek het ook QR-kodes geskep wat direk na die bot toe deurskakel wat op verskeie plakkate geplaas sal word wat reg oor die universiteit gebruik gaan word," het hy gesê.

Hoewel hy die veldtog by die Universiteit Stellenbosch gaan begin, is sy langtermyndoelwit om dit ook by ander universiteite asook werkplekke en skole uit te rol.

“Ek wil graag hê dat hierdie veldtog nasionaal gaan sodat inligting oor orgaanskenking meer toeganklik en in die publieke oog is. Hierdie kwessie raak baie mense. Tans is daar sowat 5 000 mense wat organe benodig, maar slegs 0.2% van die Suid-Afrikaanse bevolking is orgaanskenkers, wat baie jammer is.

“Ek hoop om deur inligting toegangklik en interessant te maak kan ons die boodskap daar buite kry oor hoe maklik en belangrik dit is om ʼn orgaanskenker te word. Ek hoop die veldtog sal dit op ʼn prettige en innemende manier doen, en dat dit in die langtermyn mense se lewens sal red."

Wright het in Houtbaai in die Wes-Kaap groot geword en deur middel van ʼn beurs by Bishops Diocesan-kollege skool gegaan, waar hy matriek met 10 onderskeidings geslaag het.

Sy belangstelling in geneeskunde is op ʼn jong ouderdom geprikkel deur sy moeder wie aanmekaar migraines gehad het, en dit is later versterk deur die verlies van twee grootouers weens siekte.

“Ek wou meer geweet het ... ek wou meer leer oor mediese kwessies sodat ek mense soos my ma en ander kon help."

Op 16-jarige ouderdom het hy twee neurochirurge by die Groote Schuur-hospitaal vergestel en hy het die vreeslik geniet. “Ek was gefassineer deur die brein en ek wou meer leer oor hoe dit werk. Die brein het ongelooflike kapasiteit, maar tog weet ons eintlik so min oor hoe dit regtig werk. Dit is die een onontginde deel van ons anatomie." Hy het ook gesien hoe operasies op beroerte pasiënte uitgevoer word, en het daarna verskeie mediese korrespondensie kursusse deur Harvard Universiteit gedoen.

Terselfdertyd het Wright ʼn passie vir tegnologie ontwikkel en hoe dit in Suid-Afrika gebruik kan word om gesondheidsorg en gesondheidsorg-onderrig te verbeter.

“Ek was nog altyd lief daarvoor om nuwe dinge te leer en maniere te vind om verskeie velde te integreer, veral geneeskunde en tegnologie. Dit is waar ek my merk in die wêreld wil maak," het hy gesê.

Op die vraag hoekom hy dink Suid-Afrikaners is redelik selfvoldaan oor orgaanskenking het hy die volgende gesê: “Dit is ʼn kombinasie van baie dinge, insluitende ʼn tekort aan inligting en daar is ook ʼn element van wantroue."

Wright geniet dit om tyd saam met sy familie deur te bring en is baie lief vir musiek. Hy het ook reeds sy nuwe projek geïdentifiseer. “Ek is gefassineer deur blokketting-tegnologie en glo dit kan in hospitale gebruik word om boek te hou van pasiënte se rekords. Dit word nie op die oomblik gedoen nie, en ek wil graag die moontlikhede daar rondom ondersoek."