Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Instituut wat op waarde van wildbedryf fokus ontvang skenking van Oppenheimer Generations
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 30/09/2021

Oppenheimer Generations Research and Conservation het R10 miljoen oor die volgende vyf jaar bewillig aan die Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut (AWEI) aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat onder leiding van prof Francis Vorhies die ekonomiese waarde van die wildbedryf in Afrika ondersoek en ondersteun. Dié vennootskap het ten doel om deur navorsing, uitreikaksies, opvoedingsgeleenthede en skakeling met rolspelers volhoubare en inklusiewe wildverwante ekonomieë regoor Afrika te bevorder. Die befondsing sal die ontwikkeling van navorsingsprojekte ondersteun, asook geleenthede om invloed uit te oefen en skakeling te bewerkstellig op dié gebied bevorder. Verskeie rolspelers regoor die kontinent sal betrek word, vanaf besluitmakers tot by lede van die publiek.

'n Sterk fokus van die samewerking sal wees om die wildsvleisbedryf en die benutting van verwante produkte in Suid-Afrika en elders te versterk en te bevorder.

Volhoubare en veerkragtige wildverwante ekonomieë is krities om die bewaring van wildlewe met inklusiewe ekonomiese ontwikkeling in Afrika te belyn. Die toerismesektor rondom wildbesigtiging is ernstig deur die pandemie geraak. Dit het die besef versterk oor hoe belangrik dit is om die sektor uit te brei en te diversifiseer.

Die hoof van Oppenheimer Generations Research and Conservation, dr Duncan MacFayden sê: “Volhoubare en inklusiewe wildverwante ekonomieë is krities vir die toekoms van wildbewaring in Afrika. Daar is egter 'n gebrek aan kennis oor verwante wildverwante ekonomieë, en wat nodig is om die bydrae daarvan tot volhoubare ontwikkeling en wildbewaring regoor die vasteland uit te brei. Daar is 'n dringende behoefte na die ontwikkeling en diversifisering van Afrika se wildverwante ekonomieë. Dit sal toekomstige bewaringspogings, sowel as die volhoubare benutting van wildlewe en verwante ekosisteme, verseker."

Die volhoubaarheid van die wildverwante ekonomie hang af van goed funksionerende waardekettings wat help om produkte soos toerisme en ontspanningsgeleenthede, jag en visvang, asook verwante produkte soos wildsvleis, te lewer.

Fokus op wildsvleis deur Taste of Game-inisiatief

Die wildsvleisindustrie is divers en groei steeds. Volgens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het die gemiddelde bruto waarde van wildsvleis tussen 2000 en 2008 by die R38 miljoen beloop. Meer onlangs het Wildlife Ranching South Africa in 2018 beraam dat die wildsvleisprosesseringsbedryf jaarliks R4,5 miljard werd is. Hierdie groei word grootliks gedryf deur verbruikers se toenemende behoefte aan gesonder, GMO-vrye, lae vet proteïene. Danksy die stygende vraag en aanbod na wildsvleis word meer wild op grondgebied gesien, en dit dra by tot landelike ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en voedselsekuriteit.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-​kanselier van die Universiteit Stellenbosch, sê die instelling is “opgewonde oor die vennootskap met Oppenheimer Generations Research and Conservation, deur die AWEI".

Hy beskryf die AWEI as 'n multi- en transdissiplinêre sentrum vir navorsing en skakeling oor die beleid en bestuur van wildverwante ekonomieë, wat volhoubare en inklusiewe ontwikkeling in die oog het.

“Deur akademici uit verskillende dissiplines – soos die regte, ekonomie, bestuurs- en bewaringswetenskappe – saam te bring met rolspelers en beleidmakers word beoog om fasiliterende, ondersteunende omgewings te skep waarbinne dit kan gebeur.

“Een so 'n projek is 'Taste of Game', wat die benutting van wildsvleis bevorder. Dit wys watter potensiaal daar is om die waardeketting van wildverwante inisiatiewe te diversifiseer deur verantwoordelike verbruik met getransformeerde landskapsbestuur te koppel, en om ekonomiese, gesondheids- en sosiale voordele te kan bied danksy bewaring."

Prof Kennedy Dzama, AWEI voorsitter en vise-dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe, voeg by: “Beleid rondom die wildbedryf is kompleks, en word benadeel deur beide 'n gebrek aan en 'n oormaat van mandate, standaarde en regulasies. Dit gesê kan die privaatsektor saam met regerings steeds fokus op geleenthede om 'n ondersteunende omgewing daarvoor te skep."

Volgens prof Dzama kan verwante ekonomiese waardekettings in die wildbedryf voordele inhou vir gemeenskappe, insluitend geleenthede vir gemeenskapsgebaseerde wildbestuur, die ontwikkeling van besighede en geleenthede, en werkskepping.

“'n Belangrike fokus van die AWEI se werksaamhede is om te identifiseer hoedat gemeenskappe se bestaansmiddele uitgebrei kan word deur wildverwante ekonomië te versterk."

Deur die “Taste of Game"-inisiatief wil die AWEI saam met Oppenheimer Generations Research and Conservation die ontwikkeling van 'n inklusiewe en volhoubare wildsvleissektor regoor Afrika ondersteun en verder uitbrei, tot voordeel van mense én die natuur.

Prof Francis Vorhies staan as direkteur en medestigter aan die stuur van die AWEI. Hy is as buitengewone professor verbonde aan die US Departement Veekundige Wetenskappe, en het uitgebreide ervaring oor wildbewaring, verwante ekonomieë en finansiële strategieë. Hy dien ook as akademiese direkteur van die African Leadership Universiteit in Rwanda, en is 'n besoekende genoot van WILDCRU, die Universiteit van Oxford in die Verenigde Koninkryk se navorsingseenheid oor wildbewaring.

Hy is verbind tot volhoubare ontwikkeling en bewaring in Afrika. Sodoende het hy reeds talle innoverende inisiatiewe van stapel gestuur, en talle verwante leierskapsrolle ingeneem. Hy het onder meer vir Eco-Plus gestig wat ekonomiese beleidsinsette aan bewaringsinisiatiewe bied, en was die eerste omgewingsekonoom van die wêreldbewaringsunie, die IUCN, in Switserland. Hy was ook die eerste ekonoom wat by die Afrika Wildlewe Stigting (AWF) in Kenia aangesluit het, en het die Earthwatch Instituut in Oxford gelei.

“My navorsing fokus tans op wat dit beteken om by wildbewaring binne die konteks van internasionale beleid betrokke te wees, en hoe ons die ekonomie rondom die wildbedryf in Afrika kan ontsluit ter ondersteuning van inklusiewe volhoubare ontwikkeling, en om die veerkragtigheid daarvan te bewerkstellig te midde van klimaatsverandering en landskapstransformasie," vertel hy.


Bykomende inligting

Oor Oppenheimer Generations Research and Conservation:

Die span bou voortdurend aan 'n eersteklas navorsingsentiteit deur plaaslike en internasionale navorsers te ondersteun, te befonds en mee saam te werk, ten einde toonaangewende navorsing te kan lewer wat gefokus is op die natuurwetenskappe en wat praktiese uitkomste met impak kan lewer. Die entiteit is daartoe verbind om sisteme van volhoubare bewaringsprogramme en netwerke regoor Afrika verder te ontwikkel, uit te brei en te bevorder.

Oor die Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut (AWEI):

Dit het ten doel om die toonaangewende akademiese instituut in Afrika te wees wat betref navorsing, opleiding en uitreikaksies ten opsigte van wildverwante ekonomieë. Dit is 'n akademiese, multidissiplinêre entiteit wat kenners in verskillende fakulteite van die Universiteit Stellenbosch saamsnoer. Dit werk ook saam met universiteite, navorsingsinstitute en bewaringsliggame regoor Afrika. Die AWEI poog om nuwe verwante navorsing te doen, en om dit te gebruik om beleidmaking en bestuurspraktyke in die sektor uit te brei.

 

Foto:
Prof Francis Vorhies, direkteur van die Afrika Wildlewe-ekonomieë Instituut aan die Universiteit Stellenbosch

 

Vir medianavrae, kontak:
Cebisa Luzipho van Orchardon25
cebisa@orchardon25.co.za

Lwazi Piti
lwazi@orchardon25.co.za