Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch se lewende laboratorium baan die weg vir ’n slim volhoubare kampus
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 05/08/2021

Deur hul afdeling as 'n lewende laboratorium te gebruik, het die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Fasiliteitsbestuur sedert 2015 stelsels en prosesse in plek gesit om die weg te baan vir die instelling om 'n slim kampus te word waar data besluitneming sal lei om oplossings vir die toekoms te vind.

Nicolette van den Eijkel, hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur, sê een van hul strategiese doelwitte vir 2021-2025 is om te beweeg na 'n tegnologie-verbeterde kampus deur 'n proses van digitalisering in samewerking met onder meer die US se Ingenieursfakulteit.

Binne die breër konteks van die Verenigde Nasies se 17 volhoubaarheidsdoelwitte en Suid-Afrika se verbintenis deur die ooreenkoms oor klimaatsverandering te onderteken, volg die US sy voorbeeld deur die instelling se koolstofvoetspoor tot Net Zero Koolstof (Net Zero Carbon) te verminder en te verseker dat 50 persent van alle elektrisiteit wat gebruik word, teen 2025 uit hernubare bronne sal kom.

"Ons kan ons nutsdienste slegs bestuur deur dit te meet," sê Nadeem Gafieldien, Direkteur Eiendomsdiente by Fasiliteitsbestuur.  "Daarom het ons hard gewerk om digitale stelsels en infrastruktuur in plek te stel om ons nutsdienste soos water en elektrisiteit te meet. Ons slim meetstelsels bied waardevolle gebruikersdata wat ons help om doeltreffende besluite te kan neem en vinnig kan reageer op probleme soos wat dit opduik."

Volgens Gafieldien het hulle slim meetstelsels geïnstalleer by die meeste van die geboue op die US se vyf kampusse en verskeie projekte begin wat reeds 'n beduidende impak op energie-, water- en afvalbesparing vir die Universiteit gehad het.

"Ons slim meetstelsels bied ons die beweeglikheid om vinnig te reageer en pro-aktief te beplan vir die toekoms. Dit stel ons ook in staat om ons gebruik te verifieer en byvoorbeeld ons rekeninge volgens ons syfers te kontroleer. Hierdie vermoë het reeds groot kostebesparings tot gevolg gehad."

Data-integrasie

Die Afdeling Fasiliteitsbestuur het onlangs hande gevat met prof Anton Basson en sy span navorsers by die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese om 'n stelsel te ontwikkel wat al die verskillende databronne kan integreer met behulp van 'n herkonfigureerbare benadering om data-gedrewe besluite deur verskillende gebruikers moontlik te maak.

"Ons navorsing handel oor die hantering van inligting in komplekse stelsels; stelsels waar daar baie verskillende komponente en interaksies is. Die stelsel is dinamies en ontwikkel oor  tyd heen, wat beteken dat dit verander namate die stelsel verander en wysigings noodsaak," sê Basson.

"Daar is duur kommersiële stelsels op die mark, maar ons het besluit om 'n unieke stelsel te ontwikkel wat 'n geïntegreerde inligtingstelsel bied om Fasiliteitsbestuur te ondersteun in hul besluitneming en verslagdoening."

Die benadering wat Fasiliteitsbestuur se slim kampus volg, bou voort op die idee om digitale tweeling- en mikrodienste te gebruik om inligting van bestaande stelsels, wat tans in “inligtingsilo's" gestoor word, te kombineer om afwykings te identifiseer (byvoorbeeld om gou waterlekkasies te kan dentifiseer), monitering en verslagdoening te bespoedig (byvoorbeeld vir elektrisiteitsverbruik en koolstofvoetspoor), rekord te hou van werklike patrone (byvoorbeeld die besetting van lesingslokale) en ander besluitneming uit data te neem.

Ons benadering spruit voort uit die "skoenveter-benadering" (shoestring approach) wat die Universiteit van Cambridge geformuleer het om klein- en medium ondernemings wat nie duur sagteware kan bekostig nie, te help om hul inligting te bestuur. Die benadering is dat ons 'n basiese raamwerk bou, en maatskappye kan dan nog modules aankoop om die stelsel se vermoëns uit te brei. Basson sê die stelsel kan onbepaald groei namate behoeftes toeneem of nuwe databronne bykom.

Dr Anro Redelinghuys het vir die voltooiing van sy PhD die basiese argitektuur vir die sagteware gebou en werk tans vir Fasiliteitsbestuur om die stelsel te implementeer. Die eerste kommersiële weergawe is naby aan voltooiing. "Uiteindelik sal die stelsel aan verskillende gebruikers hul eie unieke paneelboard (dashboard) verskaf wat  werklike gebruikerspatrone van nutsinligting weergee om hulle tot doeltreffende besluitneming te lei," sê Basson.

'n Volhoubare universiteit

Intussen werk die volhoubaarheidspan by Fasiliteitsbestuur hard om te verseker dat die US 'n volhoubare instelling word. "Ons werk hard om ons stelsels en prosesse in meer volhoubare energiebronne om te skakel en die impak op die omgewing te verminder," sê Gafieldien met verwysing na inisiatiewe soos die skep van hul eie herwinningsaanleg, die installering van sonpanele op die dakke van die US se geboue, konsolidasie en vermindering van lugversorgingstelsels en kragopwekkers, sowel as die installering van gryswaterstelsels by koshuise en fakulteitsgeboue op die verskillende kampusse - alles projekte wat verdere kostebesparings tot gevolg gehad het en bydra tot die instelling se volhoubaarheidsdoelwitte.

"Ons het selfs ons bome gedigitaliseer om onder meer hul waterverbruik te meet. In sommige gevalle het die inligting ons in staat gestel om 'n paar bome met waterwyse, endemiese en inheemse bome te vervang."