Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
So kan jy teen COVID-19 ingeënt word
Outeur: Prof Stan du Plessis & Prof Nico Koopman
Gepubliseer: 04/08/2021

'n Boodskap aan US-personeel van prof Stan du Plessis, Voorsitter van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting, en prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel


Beste kollegas

Die Universiteit Stellenbosch (US) kondig graag aan dat ons binnekort ’n inentingsterrein sal open om COVID-19-entstowwe toe te dien.

 

Die terrein, wat in die Lentelusklubhuis by die US se sokkerkompleks in Hammanshandweg, Stellenbosch, geleë sal wees, sal op Dinsdag 10 Augustus in werking tree, en sal met die Pfizer-entstof afskop.

 

Entstowwe is veilig en red lewens. Deur toegang tot inentings uit te brei, sal die US-terrein na verwagting die druk op hospitale en klinieke verlig.

 

Vir eers sal alle permanente en nie-permanente personeellede bo 35-jarige ouderdom op enige van die Universiteit se vyf kampusse voorkeur by die US-inentingsterrein geniet. As ’n ekstra voordeel, sal hulle boonop hul familielede kan laat inent.

 

Sodra personeellede op die nasionale Elektroniese Inentingsdatastelsel (EVDS) geregistreer is, kan hulle op die US se inentingsportaal registreer om ’n inentingsafspraak te maak.

 

Die opening van die terrein val saam met die bekendstelling van die Higher Health-massa-inentingsprogram in samewerking met Universiteite Suid-Afrika (USAf). Dié program het entstowwe vir die hoëronderwyssektor bekom net soos gesondheidsorgwerkers en onderwysers ook met inentings bygestaan is.

 

Om ingeënt te word is die verantwoordelike ding om te doen – nie net ter wille van jouself en jou familie nie, maar om die groter Universiteitsgemeenskap en die algemene samelewing te beskerm. Maak asseblief gebruik van hierdie geleentheid óf van ’n alternatiewe inentingsopsie waartoe jy dalk toegang het.


·       Klik hier om meer oor die fasiliteit te lees.