Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Klimaatstudies bekend gestel
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 30/07/2021

​In wat beloof om ’n baanbrekersinisiatief in die stryd teen klimaatsverandering te wees, het die Universiteit Stellenbosch (US) Donderdag (29 Julie 2021) sy Skool vir Klimaatstudie bekend gestel – die eerste van sy soort met fakulteitstatus in Suid-Afrika. 

Die Skool sal transdissiplinêre vermoë bou om die klimaatsverwante kennisstelsels van US-fakulteite, die klimaatsbeleide en -inisiatiewe van die openbare sektor, die klimaatsherstel-en-innovasievermoëns van die privaat sektor sowel as die US se missie van sosiale impak op akademiese én praktiese maniere te integreer – alles ter ondersteuning van die oorgang na ’n klimaatsveerkragtige samelewing en ’n laekoolstof-ekonomie.

Daarbenewens sal die Skool navorsing onderneem, kurrikulumontwikkeling koördineer en nagraadse opleiding, advies- en konsultasiedienste sowel as tegnologieoordrag op die verskillende terreine van klimaatstudie fasiliteer. Dít sal gedoen word deur ’n netwerk navorsers by die US en ander universiteite, instellings en organisasies binne en buite Suid-Afrika te betrek by aktiewe samewerking aan studies oor die klimaat en die toepassing daarvan. ’n Voorbeeld van die tipe samewerking waarby die Skool betrokke sal wees, is die Globale Universiteitsalliansie oor die Klimaat (GUAC), wat die universiteite van Oxford en Cambridge, Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT), die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, en ander toonaangewende universiteite oor die hele wêreld insluit. Die US is tans die enigste Afrikalid van GUAC.

In sy openingsrede by die bekendstelling het die Adjunkminister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Buti Manamela, gesê: “’n Onlangse gesamentlike verslag deur die tussenregeringsplatform oor biodiversiteit en ekosisteemdienste (IPBES) en die tussenregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) beklemtoon die behoefte aan ’n nuwe geslag wetenskaplikes wat nie net kenners is op hulle gebied nie, maar wat ook oor verskeie dissiplines heen kan dink om sinergieë uit te wys en met oplossings vir klimaatsuitdagings vorendag te kom. 

“Ons weet nou met groter sekerheid dat ons ekonomieë en ekosisteme interafhanklik is en op mekaar inwerk. Hoewel menslike vindingrykheid oneindig is, is ons natuurlike hulpbronne nié. Ons moet nou meer as ooit vantevore vernuwend dink sodat lewenskragtige menslike samelewings volhoubaar kan ontwikkel teen die agtergrond van beperkte hulpbronne.”

Hy het gesê die nuwe Skool vir Klimaatstudie sal bydra tot bestaande uitnemendheid en opleidingsentrums op die al hoe belangriker terrein van klimaatsverandering en die negatiewe invloed wat dit op die ekonomie en die samelewing het. “Die toegespitste studie van klimaatsverandering is ’n positiewe stap om hierdie kwessie die aandag te gee wat dit verdien – ’n verskuiwing weg van die tradisionele benadering om dit onder die sambreel van omgewingstudie of natuurwetenskappe te hanteer. Die direkte voordele van hierdie toegespitste benadering is die moontlike skepping van nuwe kennis, die lewering van ’n nuwe geslag, deeglik opgeleide klimaatswetenskaplikes en -studente, sowel as ’n toename in navorsingsuitsette, wat insluit wetenskaplike bewyse om beleidsontwikkeling, beplanning en algemene besluitneming te rig,” het Manamela gesê.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê die vestiging van die Skool vir Klimaatstudie sal ’n uiters dringende en nodige diens aan die samelewing lewer. “Soms lyk dit of ons, as Suid-Afrikaners, geneig is om terug te keer na die gedagte dat slegs die groot wêreldekonomieë die skuld behoort te kry vir aardverwarming. Maar as ’n groot bydraer tot die vrystelling van kweekhuisgasse op die Afrikavasteland, kan Suid-Afrika nie juis terugsit en hierdie toenemende humanitêre krisis met ’n skouerophaling afmaak nie. In dié verband sal die Skool vir Klimaatstudie, saam met medewerkers van oor die hele wêreld, ’n aansienlike bydrae kan lewer tot navorsing en oplossings in die stryd teen klimaatsverandering.”

Volgens die US se prof Guy Midgley, ’n wêreldleier op die gebied van biodiversiteit en die wetenskap van globale verandering, bied klimaatsverandering die Skool ’n geleentheid om risiko’s te identifiseer en die geleenthede aan te gryp. “’n Verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum van 2018 het klimaatsuiterstes, natuurrampe, waterkrisisse, die mislukte tempering van en aanpassing by klimaatsverandering, voedselkrisisse en grootskaalse gedwonge migrasie geïdentifiseer as die grootste risiko’s vir die wêreldekonomie op grond van die waarskynlikheid en impak van dié gebeure. Duidelik is dit alles elemente van dieselfde probleem – die oorbenutting van die omgewing. So, om die probleem op te los, sal ons dit holisties moet benader. As ons dit kan regkry, sal ons ’n hele aantal van die mees gevreesde rampe die hoof kan bied.

“Uiteindelik gaan dit oor hoe ons twee uiters komplekse stelsels – die ekologie en die ekonomie – integreer. Om die een of ander rede prioritiseer ons die ekonomie; ons glo dat menslike welstand van ekonomiese welstand afhang. As gevolg dáárvan het ons die wêreldekosisteem oorontgin om die ekonomie te ondersteun. Ons behoort die ewewig tussen die twee te herstel.”

Prof Eugene Cloete, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, sê werk aan die ontwikkeling van nuwe kurrikula (modules) vir die Skool op voor- én nagraadse vlak het reeds ver gevorder.