Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wen groot by MACE-toekennings
Outeur: Marick Hornsveld
Gepubliseer: 30/07/2021

US wen groot by MACE-toekennings

Kommunikasie- en bemarkingspraktisyns van die Universiteit Stellenbosch (US) is weer eens vir hul voortreflike werk vereer by die jaarlikse Toekennings vir Uitnemendheid in Bemarking, Bevordering- en Kommunikasie in die Onderwys (MACE) vir 2021 ondanks die uitdagings wat COVID-19 teweeggebring het.

Die US het met nie minder nie as 26 toekennings weggestap by die seremonie wat Donderdagaand (29 Julie 2021) virtueel plaasgevind het. Die US se oes van toekennings bestaan uit 12 brons en nege silwer toekennings, twee goue toekennings (wat aan die inskrywing met die hoogste punt in elke kategorie toegeken word) en 'n platinum toekenning (gaan aan die inskrywing wat die hoogste punt in elk van drie afdelings behaal het).

Die US het ook die Voorsitter se Toekenning vir Uitnemendheid ontvang vir die COVID-19-bystandsfonds (toegeken aan 'n enkele inskrywing wat ware uitnemendheid in bemarking, bevordering en kommunikasie vergestalt), asook die Severus Cerff-toekenning vir Volgehoue Uitnemendheid (vir die hoogste suksesverhouding van alle instellings wat ingeskryf het).

Die MACE-toekennings vir Uitnemendheid gee erkenning aan en vier die prestasies van spesialiste en praktisyns in bemarking, bevordering en kommunikasie in die hoëronderwyssektor in Suider-Afrika. Inskrywings van die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (AKKB), die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB), Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) en die Nagraadse Kantoor het erkenning ontvang.

“Hierdie toekennings is gepaste erkenning aan die voortgesette hoëgehaltewerk wat deur die US se kommunikasie-, bemarking- en fondswerwingspanne gelewer is. Wat dit nog merkwaardiger maak is dat dit gedurende die pandemie, nieteenstaande vele uitdagings, bereik is. Die span lééf die US waarde van uitnemendheid," sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering.

Die Senior Direkteur van die US se AKKB, me Christelle Feyt, sê in haar gelukwensing aan die seëvierende spanne “ons almal het in hierdie uitdagende jaar geleer uitnemendheid is nie net 'n vaardigheid nie, maar ook 'n wen-ingesteldheid".

MACE is 'n lidmaatskaporganisasie en vervul 'n leierskapsrol in die hoëronderwys-, tegniese beroepsonderwys- en opleiding- en private onderwyssektore in Suider-Afrika. Dit voeg waarby tot praktisyns in bemarking, bevordering en kommunikasie deur hoëgehalte-ontwikkelingsprogramme aan te bied, netwerkvennootskappe en transformasie te fasiliteer en bevorder beste praktyke onder hierdie spesialisberoepe binne die instellings wat lid is van MACE.

Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, sê haar span het die afgelope anderhalfjaar uitmuntende werk onder uitdagende omstandighede gelewer en sy wil bars van trots. “Die span het met kreatiewe idees vorendag gekom om met ons alumni, donateurs en vriende van die Universiteit te skakel en hulle te laat deel voel toe ons alle geleenthede in persoon moes kanselleer weens die COVID-19-staat van inperking. Die feit dat hul eweknieë in die hoëronderwyssektor al hul harde werk erken, maak ons net nog meer dankbaar vir hierdie toekennings."  

“Ons span voel geëerd en baie nederig om deur ons eweknieë in die bedryf erken te word. Ons glo die erkenning is 'n bewys van ons verbintenis om die personeel en studente in ons fakulteit te dien en om te help om hul verhale van prestasie, diens en uitnemendheid met sorg en toewyding uit te dra," voeg Ronel Bester, Bestuurder: Strategiese Verhoudings by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, by.

Toekennings deur die US verower (let asb daarop dat die individue wat hieronder genoem word, sleutelpersone in elke projek was en het die spesifieke inskrywing ingedien, maar die toekenning gaan aan al hul kollegas wat deel was van die poging):

Brons

Silwer

  • Digitaal: Eksterne tydskrifte en nuusbriewe: VIVUS Nuusbrief-e-pos – Wilma Stassen, FGGW

Goud

Platinum

Spesiale toekennings

  • Voorsitter se Toekenning vir Uitnemendheid: COVID-19-bystandsfonds – OAB-span
  • Severus Cerff-toekenning vir Volgehoue Uitnemendheid vir die hoogste suksesverhouding  – Universiteit Stellenbosch