Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Program vir toekomstige professore: Dr Uhuru Phalafala
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 28/07/2021

Dr Uhuru Phalafala, 'n dosent in die Departement Engels, is deel van 'n uitgesoekte groep personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat deelneem aan die program vir toekomstige professore (FPP), 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die FPP beoog om 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore oor alle vakrigtings heen te ontwikkel. Ons vertel jou meer oor haar loopbaan.

Dr Uhuru Phalafala van die US se Departement Engels was die dryfkrag agter verlede jaar se herdruk van Malibongwe: Poems from the Struggle by ANC Women, 'n digbundel wat oorspronklik in 1981 uitgereik is. Die heruitreiking is deel van haar voortgesette werk om Suid-Afrikaanse kulturele tekste wat swart bannelinge in die apartheidsjare geskryf het te repatrieer en weer uit te gee sodat hierdie kulturele argiewe ook plaaslik beskikbaar kan wees en by kurrikulums ingesluit kan word.

“Suid-Afrikaanse swart kultuur wat gedurende apartheid geskep is, is in Swede, Londen, die Verenigde State en Japan te kry. Jy kry dit in Ghana, Nigerië, Zambië en Kenia – oral behalwe in ons land," verduidelik dr Phalafala, wie se werk deur 'n Andrew Mellon-toekenning gefinansier is. “Die kunstenaars én hulle werk is in die 1960's en 1970's verban en gesensor. En toe hulle na Suid-Afrika terugkeer, het hulle nie hulle werk saamgebring nie. Dis steeds daar buite. Dis steeds in ballingskap."

Sy het 'n baie duidelike doel voor oë: “Eers as daar 'n argief van Suid-Afrikaanse swart kultuur bestaan, kan 'n mens sien en bepaal wat ons voorsate geskep het. Hierdie kennis stel ons in staat om tradisies te laat voortleef, maar help ons ook verstaan dat ons nie die eerstes is wat die werk doen nie; dat ander die aanvoorwerk vir ons gedoen het."

Oneindige oorvloed

Dr Phalafala is een van drie US-akademici wat ingesluit is by vanjaar se inname van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se program vir toekomstige professore (fase 01) – 'n voorbereidingsprogram vir die volgende geslag Suid-Afrikaanse professore. Die program voorsien op sy manier Suid-Afrikaanse universiteite van “vars talent" en “oneindige oorvloed" vir die toekoms.

Sy beskou kuns en kultuur as 'n poort na onderwerpe soos geskiedenis, politiek, sielkunde, geografie en filosofie. Dr Phalafala gee klas in swart feminisme, Karibiese digkuns, die swart radikale tradisie, die digkuns van die swartbewustheidsbeweging, en “Skryf as genesing: Digkuns deur gekleurde vroue".

“Dit is vir my belangrik om die gaping tussen die akademie en gemeenskappe te oorbrug," sê sy. “As ek nié die akademie en gemeenskappe met mekaar verbind nie, bevind ek my in 'n wêreld wat vir my sê ek kom nie uit 'n kennisstelsel of van 'n plek met 'n groter wêreldstelsel, wêreldsiening en verskillende vorme van kennis nie. Hierdie kennis kan die akademie verryk.

“Die akademie as 'n tipe Eurosentriese, wit, manlike instelling het die einde van sy leeftyd bereik. Ek vind dat die wêrelde en kennisvorme wat ek en my kollegas uit die globale Suide bydra hierdie voorheen uitsluitende, eentonige, eng, homogene ruimte help oopmaak en in 'n heel interessante navorsing- en samewerkingsruimte verander, waar die nuwe kennis wat ons bydra, nie werklik nuut is nie, maar eintlik nog altyd daar was."

Skrywer

Dr Phalafala voltooi tans 'n boek oor vroue se rol in die skep van 'n kennisstelsel uit die mondelinge tradisies van Suider-Afrika, sowel as hulle invloed op hulle kinders en kleinkinders, wat hierdie kennis gebruik het om instrumente teen apartheid en kolonialisme in Afrika en die swart diaspora te ontwikkel.

Haar ouma, ma en tantes het haar 'n ryke sielslewe vol verhale en kosmologieë gegee. Hulle het haar met 'n ander beskouing van geletterdheid en letterkunde toegerus as wat gewoonlik op skool en universiteit onderrig word.

“Hulle was uitstekende storievertellers. Ek het grootgeword met 'n gesproke letterkunde, nie een in boeke nie," onthou dr Phalafala. “Dit was 'n hoë tipe kultuur; een van genot in woorde in die alledaagse taal; baie beeldend, weloorwoë, en niks toevallig nie. Dinge is poëties, deur spreuke en figuurlike taal gesê."

Sy het haar eerste gedig in 2000, haar matriekjaar, op 16-jarige ouderdom oor haar broer geskryf. Vir die volgende vyf jaar het sy die Johannesburgse kunswêreld verken, voltyds geskryf en haar gedigte voorgedra. Eers daarná het sy vir Engelse en Afrika-letterkundestudie aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf.

Sy het haar PhD in Engelse Letterkunde in 2016 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf met 'n verhandeling oor wyle Keorapetse “Bra Willie" Kgositsile, Suid-Afrikaanse hofdigter en ANC-lid. Dr Phalafala is ook besig met 'n monografie oor Kgositsile se lewe en werk, en is samesteller van die komende publikasie The Collected Poetry of Keorapetse Kgositsile.

Terwyl sy gedurende haar onlangse sabbatsverlof met finansiering van die Nasionale Navorsingstigting aan die monografie gewerk het, het sy skrywersblok afgeweer deur met 'n 50 bladsye lange epiese gedig oor haar oupa, 'n kontrakmynwerker in Johannesburg, te begin. Mine Mine Mine sal later vanjaar verskyn.

“Dit maak deel uit van my kritiese rassewerk. Dis vir my sinneloos om oor wit heerskappy en rassekapitalisme, heteropatriargie, swart moderniteit en swart mensheid as abstrakte konsepte te praat, want ek het hierdie dinge persoonlik beleef. My digvorm stel my in staat om van hierdie konsepte in die praktyk, in die eerste persoon, te veranker."