Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale netwerke laat vertaling gedy
Outeur: Departement Afrikaans en Nederlands | Department of Afrikaans and Dutch
Gepubliseer: 27/07/2021

​​

ʼn Suid-Afrikaner, ʼn Italianer en ʼn Hongaar beland in ʼn Belgiese hawestad. Wat dalk na die begin van ʼn grap vol stereotipes klink was eintlik die begin van verrykende internasionale samewerking in vertaalkunde tussen drie jong akademici.

Marike van der Watt (Universiteit Stellenbosch en KU Leuven), Paola Gentile (Universiteit van Triëst, Universiteit van Namen en navorsingsgenoot aan die US) en Fruzsina Kovács (Pázmány Péter Katolieke Universiteit) het mekaar in 2018 in Antwerpen ontmoet by die KU Leuven se Centre for Translation Studies, oftewel CETRA.

Na hulle CETRA-ontmoeting was hulle in 2019 die sameroepers van ʼn paneel by die European Society for Translation Studies (EST) se negende driejaarlikse kongres (daardie jaar in Stellenbosch gehou). Hulle het daardie suksesvolle samewerking opgevolg met ʼn spesiale uitgawe van die vaktydskrif Translation Spaces.

In hierdie uitgawe word gefokus op wat gebeur as vertaalkunde, resepsiestudie en imagologie saam gebruik word om transnasionale beeldvorming te ondersoek. Met ander woorde, hoe kan ons die drie dissiplines gebruik om te kyk na die manier waarop ons sekere beelde van ander lande, nasionaliteite of groepe vorm of voortsit? Soos hulle dit in die uitgawe se inleiding stel:

“Readers' images of a country are constructed on the basis of texts that are first selected for translation, for example, and the particular ways in which​ translated books are subsequently promoted and packaged within their specific book covers. Cultural images thus undergo an evolution: they are constantly re-elaborated, re-shaped, re-processed, and filtered through marketing, promotion and reviewing phases."

Gelukkig vir almal wat in die onderwerp belangstel, is die spesiale uitgawe nie die laaste sien van die blikkantien nie. Marike van der Watt is nie net besig met ʼn PhD in Vertaling wat juis op imagologie fokus nie (met prof. Ilse Feinauer, die bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk, en prof. Luc van Doorslaer van die KU Leuven as studieleiers). Sy is ook betrokke by ʼn transnasionale navorsingsprojek wat deur die Nederlandse Taalunie befonds word en uitgevoer word in samewerking met die Universiteit van Triëst en die KU Leuven: “Binnenlandse vogels, buitenlandse nesten: de hedendaagse Vlaamse literatuur in vertaling en haar relatie tot het Vlaamse letterenbeleid".​