Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dringende besluit oor A4-assesserings
Outeur: Prof Stan du Plessis / Chairperson: ICBC
Gepubliseer: 21/07/2021

​​21 Julie

Beste kollegas en studente

In die Universiteit se onlangse e-pos (17 Julie) oor die onrus wat baie gemeenskappe in ons land geraak het, het ons onderneem om verder te kommunikeer oor die impak van dié gebeure op studente wat A2- en A3-assesserings aanlyn vanuit die geaffekteerde gebiede aflê. Die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het die saak oorweeg en ek kan dus nou die volgende besluit aankondig.

Omdat dit moeilik sal wees om te bepaal en te bevestig watter studente deur die onrus geraak is, sal A4-assesserings vir alle eerstesemestermodules beskikbaar wees (buiten enkele uitsonderings, wat deur spesifieke fakulteite gekommunikeer sal word).

A4 bied ’n assesseringsgeleentheid vir studente wat ’n A2- of A3-assessering wat vir die voltooiing van ’n semestermodule vereis word, misgeloop het.

Omdat elke fakulteit sy eie assesseringsreëls het, sal die presiese besonderhede vir die A4-assesserings deur die onderskeie fakulteite bekend gemaak word. Verwag daarom asseblief ’n e-pos van jou fakulteit.

Alle vorige COVID-verwante administratiewe kriteria om vir die A4’s in aanmerking te kom, word dus hiermee herroep. Dít impliseer dat bewys van COVID-infeksie en die aanlyn aansoekvorm vir A4-toegang nie meer van toepassing is nie. Die akademiese kriteria om toegang tot A4 te bekom, geld egter steeds.

Verdere kommunikasie oor A4-logistiek (waaronder datums) volg binnekort omdat dit sentraal in samewerking met die Assesseringskantoor bestuur word.

Selfs noudat die land van die onlangse onrus begin herstel, gaan die COVID-19-pandemie voort om sy tol te eis. Sien asseblief in hierdie moeilike tyd goed na jouself en jou geliefdes om.

Vriendelike groete

Prof Stan du Plessis 

IKBV-voorsitter​​​