Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad ​(vergadering van 13 April 2021)
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 16/04/2021

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Dinsdag 13 April 2021 sy eerste van vier geskeduleerde vergaderings vir die jaar gehou. Ons het weer, nes in Desember 2020, in hibridiese vorm vergader en dus het sommige lede op kampus byeengekom (met voldoening aan alle COVID-19-protokolle) terwyl ander aanlyn ingeskakel het.

Die US het verlede jaar in veeleisende omstandighede besonder goed gevaar en die akademiese jaar 2020 suksesvol voltooi, ondanks 'n snelle oorskakeling na aanlyn metodes toe kontakonderrig in Maart landwyd opgeskort is. Uiteindelik is nie minder nie as 9 079 kwalifikasies, waaronder 270 doktorsgrade, aan studente uit alle omstandighede toegeken, wat onder die hoogste syfers is van alle universiteite in Suid-Afrika.

Op grond van hierdie prestasies, sowel as vele ander wat uitgelig is in die verslae wat ons by die vergadering oorweeg het, het die Raad eenparig twee mosies aanvaar – een van vertroue in die bestuur, en 'n ander van waardering vir alle personeellede. Die Raad bevestig dat die handhawing van akademiese uitnemendheid steeds die beste strategie is om die US se volhoubaarheid te verseker (sien volledige teks hieronder).

Ons was ook ingenome om 'n nuwe logo vir die Universiteit te aanvaar wat die US goed posisioneer in die plaaslike, streeks- en wêreldwye hoëronderwyslandskap as 'n instelling van wêreldklas- akademiese statuur wat teen 2040 Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wil wees. Die Raad het die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, gelukgewens met haar bestuur van hierdie belangrike projek die afgelope drie jaar.

Daarbenewens het ons die grondwet vir 'n nuwe Skool vir Klimaatstudie by die US goedgekeur. Dít baan die weg vir die eersdaagse bekendstelling van wat beloof om 'n transdissiplinêre baanbrekerprojek in die stryd teen klimaatsverandering te wees. Dit sal huidige denke oor klimaat in Afrika konsolideer en integreer, en die vastelandwye oordrag van kundigheid en nuwe tegnologieë fasiliteer om veerkragtigheid teen klimaatsverandering te help bou.

Die Raad is vol vertroue dat die US goed geplaas is om vanjaar wéér sy oorhoofse doelwitte te bereik: om sukses te behaal met die akademiese projek, en om volhoubaar te bly as 'n toonaangewende hoëronderwysinstelling, en terselfdertyd ons studente en personeellede se welstand te prioritiseer. Noudat ons die tweede jaar van COVID-19 betree het, val die klem by die Universiteit nie meer uitsluitlik op die bestuur van die pandemie nie, maar bou ons ook voort aan die toekoms daarná.

Lees gerus verder vir meer inligting oor hierdie kwessies en ander gesprekspunte en besluite by ons vergadering.

Vriendelike groete, en bly veilig

George Steyn
Voorsitter: US Raad


Mosies van vertroue en waardering

Die volgende mosies is eenparig aanvaar:

Ten opsigte van die bestuur

“Dat die US Raad 'n mosie van vertroue in die bestuur aanvaar en sy ondersteuning uitspreek vir die wyse waarop die bestuur, aan die hand van die visie en waardes van die Universiteit, die instelling in uitdagende omstandighede met integriteit bestuur het om akademiese prestasie te handhaaf en uit te bou. Die US het die afgelope paar jaar uitstekend op akademiese gebied presteer en besondere soepelheid en aanpasbaarheid aan die dag gelê. Die Raad bevestig dat die handhawing van akademiese uitnemendheid steeds die beste strategie is om die US se volhoubaarheid te verseker.

Ons wens ook die Rektor 'n spoedige herstel toe, en hoop hy is binnekort terug by die werk."

(Prof De Villiers het die vergadering aanlyn van die huis af bygewoon waar hy aangesterk het nadat hy op 7 April 2021 positief vir COVID-19 getoets het. Klik hier vir ʼn vorige berig daaroor.)

Ten opsigte van personeel

“Dat die US Raad 'n mosie van waardering vir, en gelukwensing aan, alle personeel van die instelling aanvaar wat nie net hul uitmuntende prestasie voortgesit het nie, maar uitgeblink het te midde van die uitdagende omstandighede wat die COVID-19-pandemie in 2020 meegebring het."

Akademiese jaar suksesvol afgesluit

Sedert die vorige Raadsvergadering is die akademiese jaar 2020 suksesvol afgesluit met twee gradeplegtigheidsreekse (Desember 2020 en Maart/April 2021).

Die US het altesaam 9 079 kwalifikasies toegeken, asook vyf eredoktorsgrade (laasgenoemde aan me Louisa Mojela, prof Daya Reddy, me Nasima Badsha en prof Quarraisha Abdool Karim, en postuum aan me Rachel Kachaje).

Die Raad het alle gegradueerdes gelukgewens en sy trots uitgespreek op die akademiese uitnemendheid van die Universiteit en die instelling se aansienlike bydrae tot die ontwikkeling van ons land, ons vasteland en die res van die wêreld.

Registrasie en inskrywings vir 2021

Die Raad is ʼn oorsig gegee van die registrasieproses van 2021, wat teen die einde van Maart suksesvol afgehandel is ondanks uitdagings met finansiering deur die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS). Die US se taakgroep oor studenteskuld beywer hom jaarliks daarvoor om finansiële hindernisse uit die weg te ruim wat kan verhoed dat studente registreer. Vanjaar is beurse vir meer as 500 studente bekom om hul uitstaande studiegeld te dek.

Die jongste syfers toon dat 20 867 voorgraadse studente vanjaar ingeskryf het, wat 4% meer is as verlede jaar. Die Raad het hierdie mosie van vertroue in die Universiteit se akademiese aanbod verwelkom.

Aansoeke vir 2022 open op SUNStudent

Die Raad het met waardering daarvan kennis geneem dat fase 1 van SUNStudent geaktiveer is en dat aansoeke met die oog op 2022 op 6 April geopen het. En die syfers lyk belowend: Bykans 16 000 voornemende studente het in die eerste week reeds ingeteken, en byna 7 000 volledige aansoeke is ingedien.

SUNStudent is die US se nuwe studente-inligtingstelsel wat die huidige verouderde stelsel geleidelik vervang. Die stelsel spog met moderne koppelvlakke, wat 'n beter algehele gebruiker-ervaring verseker, en sal boonop gemaklik op nuwe en snel veranderende vereistes kan reageer.

Nuwe logo vir die US

'n Reis wat meer as drie jaar gelede begin het, het Dinsdag uitgeloop op die Raad se goedkeuring van 'n nuwe visuele identiteit, waaronder 'n nuwe logo, vir die Universiteit.

Die nuwe logo is 'n uitbeelding van die US se visie, naamlik om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit" te wees “wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder".

Die Universiteit se eeufees in 2018 het ons die geleentheid gebied om te beplan vir die toekomstige US wat ons graag wil skep. Dít het ons met Visie 2040 gedoen, en die nuwe logo is 'n visuele voorstelling van waar ons nou is én waarheen ons op pad is.

Nadat Visie 2040 aanvaar is, is 'n visuele raakpuntoudit deur die hele Universiteit onderneem, wat aan die lig gebring het dat die verskillende US-omgewings in daardie stadium meer as 170 verskillende logo's gebruik het. Ons handelsmerk was duidelik aan die verwater, en dus is daar besluit om na 'n enkele visuele identiteit te beweeg.

Altesaam 3 100 belanghebbendes het deelgeneem aan, en bygedra tot, die proses om die US se nuwe logo te ontwikkel en gesamentlik te skep – waaronder studente, personeel en alumni, ál tien fakulteite, die Visuele Regstellingskomitee, die Institusionele Transformasiekomitee en die Studenteraad. Voor die aanvaarding van die nuwe logo Dinsdag het die Raad daarvan kennis geneem dat sowel die Institusionele Forum as die Senaat, twee van ons statutêre liggame, die logo-opsie wat aan die Raad voorgelê is, steun.

Sodra die nuwe visuele identiteitstelsel later in 2021 amptelik bekendgestel is, sal die inwerkingstellingsproses 'n aanvang neem. Tot dan bly die huidige US- (eeufees-)logo in gebruik.

Klik hier vir verdere inligting, waaronder antwoorde op algemene vrae.

Navorsing, innovasie en nagraadse studie

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het sy jaarlikse verslagdoeningsgeleentheid benut om die Raad 'n oorsig te bied van hoogtepunte in sy verantwoordelikheidsentrum (VS) sedert hy nege jaar gelede aangestel is. (Klik hier vir sy bestuursverslag, en hier vir 'n pdf van sy PowerPoint-aanbieding.)

Die volgende hoogtepunte – wat volgens die US se kern strategiese temas aangebied word – is gegrond op data van 2012 tot 2020, tensy daar anders aangedui word:

'n Florerende Universiteit Stellenbosch

Die US se derde geldstroom (inkomste uit navorsingskontrakte) het die afgelope nege jaar byna verdubbel, van ongeveer R500 miljoen tot byna R1 miljard per jaar, waarvan 70% internasionale finansiering is. Dít dra by tot die institusionele doelwit om 'n finansieel volhoubare organisasie te skep, en toon dat die Universiteit wêreldwyd erkenning geniet. Selfs te midde van die COVID-19-pandemie is 'n aansienlike getal navorsingskontrakte in 2020 aangegaan.

'n Transformerende studente-ervaring

Vir enige navorsingsintensiewe universiteit is die toekenning van doktorsgrade van deurslaggewende belang. Die US se getalle het van 150 in 2012 tot 270 in 2020 gestyg.

Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke

Verhoudingsbou en interaksie met sake, nywerhede en die regering is belangrik om ons sterkpunte ten volle te benut. 'n Aansienlike getal nuwe navorsingsinstitute en -sentrums is die afgelope nege jaar in alle US-fakulteite op die been gebring.

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

Die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, wat in 2019 tot stand gebring is, vorder fluks met sy visie om 'n wêreldklasinstelling op sy terrein te wees – ín en vír Afrika.

Navorsing vir impak

Volgens die jongste verslag van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) oor navorsingsuitsette (in 2019) het die US 1,72 publikasie-uitsette per kop gelewer, wat die Universiteit landwyd in die tweede plek plaas. Die US se getal publikasie-uitsette het sedert 2012 met meer as 75% toegeneem.

Die US is die afgelope vyf jaar reeds onder die voorste universiteite op die DHOO se ranglys én onder die beste Suid-Afrikaanse universiteite op die vernaamste internasionale ranglyste (THE, QS, Leiden, ensovoorts).

Daarbenewens het die Universiteit in die tydperk 2009–2020 die meeste Suid-Afrikaanse patentaansoeke ingevolge die Patentsamewerkingsverdrag (“PCT") opgelewer, en sodoende ander universiteite, navorsingsrade sowel as privaat maatskappye oortref.

Voorkeurwerkgewer

Die getal geborgde navorsingsleerstoele aan die US het die afgelope nege jaar byna verdriedubbel, van 18 in 2012 tot 52 in 2020.

Nadoktorale genote het meer as verdubbel, van 157 in 2012 tot 350 in 2020. Nadoktorale genote dra beduidend tot die Universiteit se akademiese prestasie by.

US-navorsers met 'n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het ook sterk toegeneem, en is tans meer as twee keer soveel as nege jaar gelede. Die Universiteit het op die oomblik 490 gegradeerde navorsers.

Terugvoer van die Taalkomitee

Die Raad het kennis geneem van verslae van sy Taalkomitee, en het ook terugvoer oor vordering met die hersiening van die US se Taalbeleid (2016) ontvang. Laasgenoemde vind vanjaar plaas omdat die beleid aan die einde van 2021 – vyf jaar ná implementering (wat aan die begin van 2017 was) –verstryk. Die Raad het reeds by sy vorige vergadering in Desember 2020 die tydlyn vir die hersiening goedgekeur.

Volgens terugvoer van die Taalbeleidhersieningstaakgroep verloop die hersiening volgens plan. Die eerste van twee openbare oorlegplegingsprosesse het op 12 April ten einde geloop. (Die eerste konsep van die voorgestelde hersiene beleid is op 20 Maart vir openbare kommentaar beskikbaar gestel.)

Die taakgroep sal nou alle kommentaar wat ontvang is deeglik oorweeg, 'n verslag saamstel, en in Julie 'n tweede konsep vir openbare oorlegpleging uitreik. Die doel is om in Desember 'n finale weergawe vir bespreking en aanbeveling aan die tersaaklike institusionele komitees voor te lê, gevolg deur indiening by die Raad om die beleid, met die instemming van die Senaat en ná oorlegpleging met die Institusionele Forum, vir goedkeuring te oorweeg.

Klik hier vir verdere inligting.

Kommunikasiestruktuur

Die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, het die Raad ingelig oor maatreëls wat getref word om strategiese en proaktiewe kommunikasie wat die Universiteit se verhaal vertel, te versterk. Die Raad het met waardering kennis geneem van die vestiging van 'n struktuur in haar kantoor om kommunikasie oor prioriteitsake te stroomlyn.

US verklein sy koolstofvoetspoor

Die Raad het 'n interne lening aan Fasiliteitsbestuur goedgekeur om 'n sentrale verhitting-, ventilasie- en lugversorgingsaanleg vir die Fakulteit Ingenieurswese se kompleks op die US se Stellenboschkampus te finansier. Die aanleg sal die US se koolstofvoetspoor verklein en die Universiteit se belastingverpligtinge ingevolge die nuwe koolstofbelasting verminder. Dit sal ook aansienlike energiebesparings teweegbring, wat op mediumtermyn vir die koste van die lening sal vergoed.

Sistemiese volhoubaarheid is een van die vernaamste kenmerke van die US se visie en strategie. Dít sluit in die kostedoeltreffende voorsiening van volhoubare energie op lang termyn. Die doel is om die Universiteit se CO2-vrystellings teen 2030 tot netto-nulvlak te verlaag deur ons huidige fossielbrandstofenergie met hernubare energie te vervang, wat sonkrag insluit.

In sy bestuursverslag (klik hier vir die volledige dokument) het die Rektor aangedui dat die nuwe fotovoltaïese installasie op die dak van die Neelsie-studentesentrum 'n aansienlike bydrae in dié verband sal lewer. Die installasie is vroeër vanjaar voltooi. Die stelsel sal die Universiteit se elektrisiteitsrekening beduidend verlaag en ons koolstofvoetspoor oor die volgende 20 jaar met 6 000 ton CO2 verklein.

Begrotingsmodel

Die Raad het 'n bywerking van die Universiteit se begrotingsmodel ten opsigte van besparings in die Menslike Hulpbronne-komponent van die hoofbegroting goedgekeur. Die Raad het ook die toepassing van perke op reserwesaldo's in hoofbegrotingskostepunte bevestig, waarvoor die bestaande begrotingsmodel voorsiening maak.

US-beleid oor korttermynverhurings

Die Raad het 'n beleid aanvaar wat alle korttermynverhurings van US-fasiliteite sal reël, waaronder teaters, sale, sportgeriewe en lesinglokale. Hierdie verhurings sal voortaan nie meer gedesentraliseerd plaasvind nie. Die beleid sluit alle US-fasiliteite in en is van toepassing op alle personeellede, studente sowel as eksterne partye wat met die korttermynverhuring van US-fasiliteite gemoeid is. SUNKOM se Sentrale Kantoor vir Geleenthede en Konferensies het opdrag ontvang om die beleid in werking te stel.

Personalia

Prof Deresh Ramjugernath, die US se nuwe Viserektor: Leer en Onderrig, het sy eerste Raadsvergadering bygewoon nadat hy in Januarie die amp aanvaar het.

Ingevolge die Universiteit se nuwe Statuut, wat in 2019 in werking getree het, bestaan die Raad uit 25 lede, van wie die Rektor jaarliks een op 'n rotasiegrondslag uit die geledere van die viserektore aanwys. Prof Eugene Cloete het sy eerste Raadsvergadering in hierdie hoedanigheid bygewoon.

Die Raad het prof Cloete ook met sy verkiesing as voorsitter van die organisasie vir entrepreneurskapsontwikkeling in die hoër onderwys (oftewel EDHE) se praktykgemeenskap vir entrepreneursuniversiteite gelukgewens.

Boonop het die Raad prof Amanda Gouws, 'n Senaatsverkose Raadslid, gelukgewens met haar aanwysing as raadgewer vir die Wêreldbank se Country Gender Assessment. Prof Gouws beklee die SARChI-leerstoel in genderpolitiek in die US se Departement Politieke Wetenskap.

Die termyn van mnr Anthony Dietrich, 'n Raadslid wat deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie aangestel is, het op 22 Maart verstryk. Die Minister mag ingevolge die Statuut vyf lede aanstel. Twee van hierdie poste is nou vakant. Die Raad wag op die Minister se terugvoer oor nuwe aanstellings.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die US Raad vind op 21 Junie 2021 plaas.