Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW groet Prof met ʼn ‘briljante brein en mensliewende hart’
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 16/04/2021

Van jongs af, was dit duidelik dat prof Rafique Moosa 'n goeie akademikus sou wees. In 1973 het hy die hoogste punte in die land behaal in die matriekeksamen van die destydse Departement van Kleurlingsake. Hy het voortgegaan en in 1979 sy MBChB-graad cum laude verwerf by die Universiteit van Kaapstad.

Dit was die belowende begin van wat 'n lang en uitsonderlike loopbaan sou blyk te wees, wat tot 'n einde gekom het in Februarie, toe hy afgetree het as die uitvoerende hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Geneeskunde en die Tygerberg Akademiese Hospitaal.

Wat sy loopbaan so uitsonderlik gemaak het, was dat dit nie beperk was tot akademiese prestasies nie. Hy het terselfdertyd 'n groot toewyding geopenbaar om die die sosiale ongelykhede van apartheid te beveg, en het dwarsdeur sy loopbaan transformasie in gesondheidsorg en opvoeding nagestreef.

“Apartheid was op sy felste toe ek in die mediese skool was," sê Moosa. “Rassisme was redelik algemeen." Swart studente mag byvoorbeeld nie in die sale vir blanke pasiënte ingegaan  het nie, en mag aanvanklik nie eens nadoodse ondersoeke bygewoon het wat op blanke afgestorwenes gedoen is nie.

Dit was teen hierdie agtergrond wat hy die mediese professie betree het. In 1980, het hy na die  Somerset-hospitaal gegaan vir sy jaarlange internskap. Daarna het hy besluit om te spesialiseer in interne geneeskunde, en hy is toe na Baragwanath-hospitaal in Soweto vir ses maande as senior huisbeampte: “Dit het my regtig aan die werklikheid blootgestel. Die hospitaal was totaal oorweldig deur pasiënte; party het op matrasse gelê, partykeer sommer onder die ander beddens."

Na hy ses maande by elk King Edward-hospitaal in Durban as senior huisbeampte in pediatrie en by Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth (nou Gqeberha) as mediese beampte deurgebring het, is hy in 1982 terug na Baragwanath-hospitaal as mediese beampte.

In Februarie 1983, het hy ʼn kliniese assistent by Groote Schuur-hospitaal geword. Die hospitaal se sale en noodeenhede was toe steeds afgeskei, maar die toegewyde Moosa en ander kollegas met dieselfde beginsels as hy, het dit eenvoudig stilweg geïgnoreer. As die noodeenhede vir blankes nie besig was nie, het hy swart pasiënte daar ingesmokkel. "Een van die superintendente het my aangespreek, maar ons het maar die reëls verbreek wanneer ons kon."

Terwyl hy by Groote Schuur-hospitaal was, het hy nefrologie as 'n subspesialiteit gekies. Toe die hospitaal egter daarna geen poging aangewend het om hom te akkommodeer nie, het Moosa in Februarie 1989 begin werk by Tygerberg-hospitaal as 'n nierspesialis. "Dit was harde werk, maar die mense het meer vriendelik en warmer voorgekom," onthou hy.

Maar, voeg hy by, alles in die hospitaal was steeds afgeskei. “Ons het baie sterk voorbrand gemaak daarvoor om hospitaalsale en die twee dialise-eenhede te laat integreer," sê hy. Moosa het ook aan die voorpunt gestaan van ander veranderinge by Tygerberg, soos om die infrastruktuur te verbeter, wat hy as 'vreeslik' beskryf.

Hy het hoërskole in die omliggende areas gekontak en hulle leerders gevra om te help; hulle het dadelik ingestem en die leerders het gehelp om die viniel van die mure af te trek en ook die mure van die dialise-eenhede geverf. Hy het ook kunsstudente gekry om reproduksies in die sale te verf van skilderye deur beroemde kunstenaars soos Matisse en Van Gogh. “Dit was my aanvanklike oogmerk om deur middel van visuele transformasie 'n heel ander atmosfeer te probeer skep, en om die stemming en die moreel van die pasiënte en die personeel te verbeter," verduidelik hy.

Hy het ook die profiel en aansien van die Tygerberg-hospitaal se nefrologiedepartement verhoog deur by verskeie organisasies aan te sluit, insluitende die Suid-Afrikaanse Nierverening, die Suider-Afrikaanse Oorplantingsvereniging, die Internasionale Nierstigting, en die Internasionale Verening vir Nefrologie, en hy het ook as gasheer opgetree by verskeie akademiese vergaderings.  Dit het gelei daartoe dat die Tygerberg-hospitaal gevra is om verskeie mense te akkommodeer uit ander Afrika-lande in die 1990's wat opleiding in nefrologie ondergaan het. “Daar is 'n desperate behoefte aan nierspesialiste, nie net in Suid-Afrika nie," sê Moosa, wat in 1992 die hoof van die hospitaal se Niereenheid geword het.

In 1996, het hy mede-professor geword by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), en het 'n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die transformasie-handves in 2005 – die eerste in die FGGW.  “Dit sit duidelik die waardes en die beleid wat ons aanhang, uiteen," sê hy, en dit sluit in 'n verbintenis tot inklusiwiteit en die skep van 'n bemagtigende omgewing vir beide studente en personeel.

In November 2006, het hy die oorhoofse hoof van die departement geword – die eerste swart hoof, en een van die min departementele hoofde in die Fakulteit. Alhoewel hy egter een van die mees senior posisies in die grootse department in die Fakulteit beklee het, het hy steeds onderliggende vorms van rassediskriminasie ervaar.

"Maar," voeg hy by, “as hoof van die department het ek besef dat ek die outoriteit en die mag gehad het om dinge redelik wesenlik te verander."  Hy het hom toe daarop toegespits om senior swart personeel en swart studente te werf. “Die Departement is tans die mees getransformeerde een met betrekking tot ras," sê Moosa. Hy verwys ook na vordering op die gebied van geslagsgelykheid, en skat dat vroue nou veertig persent van die Departement uitmaak.

Ander, meer subtiele veranderinge sluit in die herbenaming van areas binne die Departement (die ingangsportaal is nou bekend as Steve Biko-plein) en die opdrag aan kunstenaars om skilderye te maak van Biko en van die 1956 vroue-optog in Pretoria teen die paswette.

Die Departement se transformasie-handves het gevolglik die dryfveer geword agter die Fakulteit se besluit om sy eie transformasie-handves op te stel. Dit is in 2019 voltooi, en verbind die Fakulteit tot die huldiging van alle vorms van diversiteit en die beskerming van, onder andere, menseregte.

As 'n lid van die FGGW Dekaan, prof Jimmy Volmink, se raadgewende komitee oor transformasie, het Moosa ook al voorgestel dat daar breëre sigbare regstellings in die Fakulteit behoort te wees. Een van die resultate is die afbeelding van die voorwoord tot die Grondwet - in Engels, Afrikaans en isiXhosa – in die voorportaal van die Fakulteit.

'n Ander inisiatief wat deur Moosa ontwikkel is, is 'n beleid oor veilige ruimtes, wat studente daartoe in staat gestel het om dinge soos rassediskriminasie en seksuele tesitering met veiligheidsbeamptes te bespreek.

Sy besprekings met studente net voor die #FeesMustFall protes-aksies by die Fakulteit in 2016 het sy vasbeslotenheid om te doen wat hy kon oor rassisme by die Fakulteit en by die hospitaal versterk. “Ek kon rassisme op my vlak hanteer, maar ek dink nie ons het altyd 'n goeie begrip vir die uitdagings waarmee swart studente gekonfronteer word nie," sê hy. “Ek is nie heeltemal seker hoe om dit te verander nie, maar verander die moet ons."

Volmink is vol lof vir Moosa se bydra tot hierdie proses: “As 'n lid van die Fakulteit se senior leierskap, kon hy altyd die 'groter prentjie' sien.  As gevolg daarvan, in toevoeging tot sy departementele prestasies, kon hy 'n enorme bydra maak tot die Fakulteit en die universitiet op verskeie vlakke. Sy toewyding tot transformasie by die Fakulteit sal 'n blywende nalatenskap wees."

Volmink voeg die volgende by: “Rafique se mees indrukwekkende eienskap is daardie rare kombinasie van 'n briljante brein en 'n mensliewende hart. Hy het werklik uitgestaan as 'n uitmuntende dokter wat omgegee het vir sy pasiënte, terwyl hy ook 'n geliefde dosent en mentor was. Beide die voorgraadse en nagraadse studente was baie erg oor hom."

Dr Therese Fish, die Fakulteit se Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, het ook hulde gebring aan sy bydra tot transformasie: “Prof Moosa was nog altyd 'n sterk voorstander vir verandering binne ons Fakulteit, ons universiteit en die gesondheidsdienste.

“Terwyl hy gedien het op die transformasiekomitee van die universiteit, het hy die ontwikkeling van 'n transformasie-handves in die Departement van Geneeskunde, en ook in die Fakulteit as geheel, aangemoedig. Die Fakulteit se handves getuig van sy (asook dié van baie ander mense) se toewyding tot die daarstelling van 'n bemagtigende omgewing waar ons studente en personeel hulle volle potensiaal kan bereik."

Prof Usuf Chikte, wat aan die einde van 2018 afgteree het as hoof van die Departement van Globale Gesondheid, gee sy mening:  “Hy het nooit 'n groot lawaai van omhoog gemaak nie, maar was betrokke op voetsoolvlak – stukkie vir stukkie – in die sale, die hospitaal, die klinieke in die vergaderingslokale het hy sy standpunt gestel vanuit die oogpunt van sosiale geregtigheid.

“Sy handelswyse en die mag van sy idees, waardes en visie het oral byval gevind, sodat hy 'n groep mense bymekaar kon bring om die rigting van die Departement te verander, en uiteindelik ook dié van die Fakulteit en die universiteit. Hy was 'n pionier."



Photo credit: Damien Schumann