Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rassistiese TikTok-rekening veroordeel
Outeur: Prof Hester C. Klopper: Deputy Vice-Chancellor: Strategy and Internationalisation / Vise Rektor: Strategie en Internasionalisering
Gepubliseer: 12/04/2021

Boodskap aan personeel en studente: ​

'n TikTok-rekening waarin die Universiteit Stellenbosch (US) se naam en logo wederregtelik saam met rassisties-beledigende plasings gebruik word, is Sondag, 11 April 2021, onder die Universiteit se aandag gebring. Die US veroordeel hierdie dade ten sterkste. Nie die rekening óf die rassistiese woorde en sentimente verteenwoordig die Universiteit nie.​​​​​ (Die Universiteit is nie as instelling op hierdie platform bedrywig nie.) Die betrokke plasings is nie net afstootlik rassisties nie, maar dit is ook uiters vernederend en oneerbiedig teenoor ons studente, personeel en ander belanghebbers.

Die US veroordeel rassisme en die skending van menseregte ten sterkste. Rassisme is in teenstelling met die waardes van die Universiteit en die kultuur van respek en menswaardigheid waarna die instelling strewe en is strydig met die US se Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering.

Die Universiteit het onmiddellik die rekening en plasings onder TikTok se aandag gebring (dit is intussen geblok) en het ook kriminele klagtes aanhangig ge​maak.

Die Universiteit Stellenbosch sal aanhou om rassisme te bestry, terwyl ons ook menseregte, menswaardigheid en demokrasie in gevolge sy eie beleidsdokumente asook die Grondwet van Suid-Afrika en die Handves van Regte bevorder.​
​​​