Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toets ontwikkel om bees-TB in wilde renosters te bespeur
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Michelle Galloway
Gepubliseer: 30/03/2021

Haar nuuskierigheid om siektes – in diere en mense – te verstaan, het daartoe gelei dat dr Josephine Chileshe ʼn nuwe toestel ontwikkel om tuberkulose (TB) in renosters te diagnoseer. En dié week het sy haar doktorsgraad daarvoor ontvang van die Universiteit Stellenbosch (US).

“As ʼn diere gesondheidstegnikus stel ek in diere en siektes belang. Oor die langtermyn lê my belangstelling by voorkoming- en beheerstrategieë van soönotiese siektes, waarvan bees-TB een is. As ons dieresiektes kan diagnoseer voordat dit mense bereik, sal dit ʼn groot impak maak," het Chileshe gesê. Sy het haar PhD by die Diere-TB Navorsingsgroep by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe voltooi. 

Chileshe se PhD-skripsie, met die titel Identification of immunological biomarkers for detection of Mycobacterium bovis infection in African rhinoceros, het gekyk na die opsporing van biomerkers en die gebruik daarvan vir die diagnose van Mycobacterium bovis-infeksie in Afrika-renosters. Die bakterieë Mycobacterium bovis veroorsaak bees-TB, gewoonlik by vee soos beeste, maar dit kan infeksie en siekte by enige soogdiere, insluitende mense, veroorsaak.

Ofskoon TB reeds sedert die 19de eeu by renosters opgemerk is, is dit slegs by gevange renosters vermeld. Bees-TB is endemies in baie dierespesies in Suid-Afrika, insluitende diere in die Kruger Nasionale Park, waar hierdie navorsing gedoen is. Sedert bees-TB by renosters gevind is wat weens ander oorsake dood is, was dit duidelik dat dit ook by wilde renosters voorkom.

“Weens stropery en dalende renoster-getalle is dit noodsaaklik om hierdie diere oor te plaas na vestings waar hulle beskerm sal word om hulle genetiese diversiteit te bewaar. TB is ʼn beheerde siekte en sedert dit in die Kruger gevind is, het die Departement van Landbou die diere onder kwarantyn geplaas en is ons nie toegelaat om die renosters te skuif nie," het prof Michele Miller, die hoof van die Diere-TB Navorsingsgroep en toesighouer van Chileshe se skripsie, gesê. “Die oplossing was om met ʼn toets vorendag te kom om besmette diere te identifiseer voordat hulle geskuif word om die oordrag van siekte te voorkom."

ʼn Bloedtoets maak dit moontlik om TB in lewende diere te bespeur en die voorkoms daarvan te bepaal – tans blyk dit of sowat 5% van die Kruger se bevolking blootgestel is daaraan. “Chileshe se tesis het ondersoek ingestel tot die beste manier om besmette diere te bespeur – nie soseer vir die diere se eie gesondheid nie, aangesien ons nie dink dat renosters aan TB sterf nie, maar om die verspreiding daarvan na meer vatbare bevolkings te voorkom. Hierdie bevindings maak ʼn beduidende bydrae tot die kennis en bestuur van diere-TB," het Miller gesê.

Chileshe het ʼn interferon-gamma vrylatings-essai (ʼn bloedtoets wat gebruik word om TB-infeksie te bespeur) ontwikkel en geldig verklaar, en het ook sitokien geen-uitdrukking essais getipeer wat gebruik kan word om tussen renosters met, of sonder Mycobacterium bovis-infeksie te onderskei.

Sy het verduidelik dat die huidige kennis oor biomerkers in ander spesies, insluitende mense, haar studie ingelig het. “Ons het gekyk of ons biomerkers wat by ander spesies geïdentifiseer is ook by renosters kan identifiseer. Interferon-gamma in mense is reeds goed bestudeer. Ons kon ʼn toets identifiseer wat daardie merker in renosters herken het. Met behulp van reële tyd geen-uitdrukking het ons die Interferon-gamma induseerbare proteïne 10 (IP10) geïdentifiseer. Ons het ses uit 84 merkers in een siftingstoets geïdentifiseer. Hoe meer merkers jy identifiseer, hoe beter."

In die veld is dit belangrik om van die beskikbare reageermiddels en toetstoestelle te gebruik wat makliklik reproduseerbaar is. Verskeie toestelle is getoets om ʼn stelsel te ontwikkel wat deurlopend die biomerkers herken het.

“In die natuur kan diere nie naby gemoniteer word nie," het Chileshe gesê. “Vroeë aanduidings van infeksie sal ons in staat stel om proaktief op te tree. Maar toetsing is slegs die puntjie van die ysberg en daar is baie wat ons nog nie weet nie." Sy het verwys na die behoefte vir verdere geldigheidstoetse in groter kohorte; om die meganismes van IP10-produksie te verstaan, en of dit siekte in renosters aandui; die evaluering van meer sitokiene as biomerkers; en om die immunologie van bees-TB-infeksie te verstaan.

Vir nou beweeg haar belangstelling na mense. “Ek gaan ʼn nadoktorale genootskap by die Universiteit van die Vrystaat doen wat kyk na die ontwikkeling van ʼn versorgingspunt diagnostiese toests vir Covid-19," het sy gesê.

“Soos wat ons by Covid-19 gesien het, steek baie siektes die spesiesgrens oor," het Miller bygevoeg. “Ons kan nie ʼn spesie-sentriese fokus hê nie en ons moet siektes benader vanuit die koppelvlak tussen mense, vee, troeteldiere en wilde diere, en hoe om infeksies akkuraat te voorspel. Ons sal nooit die stryd wen deur siektes in net een spesie te probeer beheer nie."

 

Hierdie werk is gedoen in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, die Departement van Landbou en openbare veeartse.