Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-dosent verkies as vise-president van SAAHE
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 12/01/2021

Dr Elize Archer is verkies tot die vise-president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gesondheidsopvoedkundiges (SAAHE - South African Association of Health Educationalists).

"Gesondheidsberoepe-onderwys is werklik my passie," sê Archer, die hoof van Simulasie- en Kliniesevaardighede-eenheid by die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO), by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch (US). "Om verkies te word om hierdie nuwe rol te vervul is werklik vir my 'n hoogtepunt na jare se betrokkenheid in hierdie veld."

Sy was op die Wes-Kaap se Streeksraad, asook die Simulasie Spesialebelange-groep, en het ook gedien as sekretaris van die Nasionale Raad gedurende die laaste 10 jaar.

"Ek is gelukkig dat ek 'n lang geskiedenis van betrokkenheid met SAAHE het," sê Archer. "Die nuwe rol in SAAHE slaan ag op die bydrae wat ek oor die jare aan die SAAHE-gemeenskap gemaak het, en maak dit vir my moontlik om te netwerk met mense van ander inrigtings op 'n kollegiale vlak." 

Die SAAHE is 'n vereniging vir opvoedkundiges van Suider-Afrika wat studente onderrig in die gesondheidswetenskappe, en lede is afkomstig van verskeie universiteite, nie-regeringsorganisasies, regerings- en privaatsektor hoër onderwys-inrigtings en so meer. Die fokus van SAAHE is om die gehalte van leer en onderrig in die veld van gesondheidswetenskappe-onderwys te verbeter, en om die lewering van hoë gehalte, bekostigbare en volhoubare gesondheidsorg-onderrig te bevorder. SAAHE het in 2004 tot stand gekom en het tans ongeveer 350 aktiewe lede uit al die verskillende gebiede. Daar is vyf streekstakke in Suid-Afrika, elke met twee verteenwoordigers wat dien op die raad van SAAHE, en daar is ook 'n nuutgevormde tak in Zimbabwe.

Die doelstellings van SAAHE is as volg:

  • Om diegene wat betrokke is by die onderrig van gesondheidswerkers in Suider-Afrika bymekaar te bring, en om samewerking te bevorder.
  • Om idees uit te ruil en inligting te versprei wat verband hou met die onderrig van gesondheidswerkers.
  • Om navorsing oor die onderrig van gesondheidswerkers aan te moedig, te bevorder en te doen, met die doel om beter gesondheidsdienste aan gemeenskappe te lewer.
  • Om sub-groepe daar te stel binne die vereniging wat spesifieke belangegroepe verteenwoordig.

Archer, is opgelei as ʼn Kritieke Sorgverpleegster, en het in 2005 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit. Sy het voorheen gewerk in beide privaat- en staatshospitale waar sy grotendeels verantwoordelik was vir die lewering van Kritieke Sorgprogramme. Sy het haar Meestersgraad voltooi in Hoër Opvoeding in 2008 en het daarna in 2016 haar Doktorsgraad in Gesondheidsberoepe-onderwys verwerf.

Die fokus van haar PhD-navorsing was onderrig en leer op die gebied van pasiënt-gesentreerdheid vir voorgraadse mediese studente. Sy staan aan die hoof van 'n span geregistreerde verpleegkundiges wat 'n geformaliseerde kliniesevaardigheids-program aanbied vir die voorgraadse MBChB-kurrikulum, en wat ook ondersteuning bied aan alle programme wat gebruik maak van die SGBO. 

Sy het 'n genootskap ontvang van die Sentrum vir Onderrig en Leer by die Universiteit Stellenbosch in 2017. Hierdie drie-jaar genootskap het haar daartoe in staat gestel om tyd te wy aan die ontwerp en implementering van inisiatiewe wat gefokus het op die ontwikkeling van empatiese kommunikasievaardighede in die kurrikula van voorgraadse studente. Die onderwerp van kliniese empatie en hoe dit in gesondheidsorg-studente se opleiding aangebied word is vir haar van besondere belang.

Haar visie vir SAAHE

"My visie vir SAAHE is dat dit die ruimte moet word waar almal wat betrokke is by Gesondheidsberoepe-onderwys (opvoeders, studente, navorsers en beleidmakers) bymekaar kan kom, met die doel om uitnemendheid en leer te bevorder in gesondheidsberoepe-onderwys."

Sy meld dat om dit te bereik, beide netwerk en adverteer onder alle beroepe besonder belangrik is. Iets anders wat sy graag sal wil bevorder is die daarstelling van 'n afdeling wat studente sal insluit by die SAAHE-gemeenskap.

"Die werk wat SAAHE bevorder is vir my werklik van belang. Vir my is SAAHE 'n platform waar ek idees met mense kan uitruil met wie ek belangstellings deel. Ek glo dat 'n platform soos SAAHE kan help om alle inrigtings wat effektiewe onderrig verskaf om nog beter te wees in wat ons doen. Ons kan hulpbronne en kundigheid deel sonder dat ons van vooraf die wiel hoef te ontdek elke keer as iemand 'n nuwe onderrig-kwessie teëkom," sê Archer.  

"Die feit dat ek die vise-president van SAAHE is, en terselfdertyd ook 'n personeellid by die FGGW, gee my die geleentheid om trots die US te verteenwoordig. Dit gee aan ons as 'n Fakulteit die geleentheid om by nasionale projekte betrokke te wees, en nie agtergelaat te word in die opwindende werk wat ander om ons dalk besig is om te doen nie," sê Archer. 

Foto deur Damien Schumann.