Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Implikasies van vlak 3 vir die US
Outeur: Prof Stan du Plessis: Chief Operating Officer​
Gepubliseer: 30/12/2020

30 Desember 2020

Geagte personeellede en studente

IMPLIKASIES VAN VLAK 3 VIR DIE US

Ons kommunikeer nie gewoonlik tydens die jaareindvakansie met die Universiteit Stellenbosch (US)-gemeenskap nie, maar dit is nodig om die implikasies van die nuwe COVID-19-regulasies wat Maandagaand (28 Des. 2020) deur pres Cyril Ramaphosa aangekondig is (klik hier vir sy toespraak), uit te wys.

Ons het die regulasies (klik hier) deeglik ontleed en is vol vertroue dat ons oor die nodige protokolle beskik om veilig met ons beplande aktiwiteite voort te gaan, spesifiek:​

  • die hervatting van Universiteitsaktiwiteite op 4 Januarie 2021, met sommige personeellede wat steeds van die huis af werk, ooreenkomstig spesifieke reëlings met hul lynbestuurders;
  • die gefaseerde hervatting van akademiese aktiwiteite op ons verskillende kampusse ooreenkomstig die Universiteitsalmanak (klik hier); en
  • A4-assesserings geskeduleer vir die tydperk 18 Januarie tot 5 Februarie 2021, insluitend beperkte koshuisverblyf (klik hier vir meer besonderhede hieroor, soos voorheen gekommunikeer).

Dit sal die geval wees selfs al word die huidige Vlak 3-regulasies verleng ná die verstrykingsdatum van 15 Januarie 2021.

Studente in ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) wat gedurende die eerste en tweede week van Januarie 2021 met kliniese rotasies begin, sal hul opleiding hervat soos voorheen gekommunikeer, maar nou binne die protokolle vir Vlak 3.

Klik hier vir inligting oor die terugkeer na koshuise op die Tygerberg-kampus, met inagneming dat daar van studente verwag word om in fases terug te keer ooreenkomstig prioriteite wat verband hou met kliniese opleiding, sodat die Universiteit aan Vlak 3-regulasies kan voldoen.

Studente wat nog nie hul studies op die Tygerberg-kampus hoef te hervat nie of wat naby genoeg aan die kampus woon om te pendel, moet dit oorweeg om nie na koshuise terug te keer nie.

FGGW-personeel en studente sal in kennis gestel word van enige veranderinge aan die bestaande reëlings.

Daar word van alle personeel, studente en besoekers op enige van ons kampusse verwag om COVID-19-protokolle na te kom, insluitend die dra van ʼn gesigmasker, die handhawing van fisiese afstand, handreiniging en beperkings op die aantal persone in ʼn vertrek. Voordat hulle kampus toe kom (behalwe op Tygerberg, waar die US Daily Monitoring-toep gebruik word), moet almal die Higher Health Check-toep gebruik, wat op die volgende maniere verkry kan word:

Besoek gerus ons spesiale COVID-19-webblad (klik hier) op die US-webwerf vir volledige inligting.

Beste wense vir die res van die vakansie, en laat ons almal waaksaam bly en ons deel doen om die verspreiding van COVID-19 te stuit.

Prof Stan du Plessis
Bedryfshoof