Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Arbiter beslis ten gunste van US in saak teen Jurie Roux en Chris de Beer
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 24/12/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag, 23 Desember 2020, die finale arbitrasiebeslissing van die arbiter, adv Alasdair Sholto-Douglas SC, ontvang in die dispuut met mnr JW Roux en mnr JC de Beer, nadat die partye ooreengekom het om die saak vir arbitrasie te verwys.

Die arbitrasieproses het uit 'n dagvaarding voortgevloei wat op 19 Junie 2015 deur die US in die Wes-Kaapse Afdeling van die Hoë Hof van Suid-Afrika uitgereik is. In die dagvaarding eis die Universiteit die betaling van skadevergoeding deur Jurie Wynand Roux as die eerste verweerder, en Johannes Christiaan de Beer as die tweede verweerder, op grond daarvan dat hulle strydig met hul indiensnemingskontrakte met die Universiteit opgetree het. 'n Tweede eis teen De Beer het met 'n eis verband gehou dat hy onderneem het om 'n bedrag geld aan die Universiteit te betaal. Die partye het op 15 Mei ooreengekom om hul dispute na arbitrasie vir uitsluitsel te verwys.

Die Universiteit se eise was suksesvol. Die belangrikste punte van die arbitrasiebeslissing is soos volg:

  • Roux moet die Universiteit 'n bedrag van R37 116 402 plus rente betaal;
  • De Beer moet die Universiteit 'n bedrag van R1 904 511 plus rente betaal;
  • Roux en De Beer is ook beveel om die Universiteit se regskoste te betaal.

Daar is 'n outomatiese reg tot appèl teen die finale arbitrasiebeslissing, en die partye kan ook versoek dat moontlike klerikale foute reggestel word.

Ten opsigte van die voorwaardes van die arbitrasie-ooreenkoms, is die hele rekord van die arbitrasieverrigtinge vertroulik, tensy die partye skriftelik anders ooreenkom, maar die bestaan van die arbitrasie en die finale arbitrasiebeslissing (klik hier) is nie vertroulik nie.