Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kruger Trust vereer dr Elbie Adendorff
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/12/2020

Dr Elbie Adendorff, 'n senior lektor in Taalverwerwing in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die ontvanger van die heel eerste toekenning vanaf die Kruger Trust, spesifiek in die kategorie Wetenskapsbeoefening in Afrikaans.

Hierdie eer word jaarliks aan 'n persoon of instansie betoon wat 'n wesenlike rol speel in die bereiking van die doelstellings van die Trust. Daar word elke jaar 'n ander kategorie gekies vir moontlike befondsing. Die Kruger Trust is 'n trustliggaam wat die beskerming en bevordering van die Afrikaanse taal en Afrikaanse kultuur sonder voorkeur aan enige ras, geslag of godsdiens nastreef.

“Die aanbevelingskomitee, bestaande uit akademici van verskillende Suid-Afrikaanse universiteite, was eenparig in hulle aanbeveling dat die toekenning aan dr Adendorff gemaak moes word," verduidelik prof Rufus Gouws, sameroeper van die Aanbevelingskomitee en 'n professor in Leksikografie en Afrikaanse Taalkunde aan die US.

Volgens Gouws het die Aanbevelingskomitee se  steun op hoofsaaklik twee aspekte gekonsentreer:

  • Dr Adendorff se onderrig van Afrikaans as vreemde en as tweede taal en haar wetenskapsbeoefening i Afrikaans in hierdie verband.
  • Haar werk in die uitbou en bevordering van Afrikaanse redenaars- en debatswerk en haar rol as beoordelaar van Afrikaanse redenaars- en debatskompetisies waar skoliere geleer word hoe om Afrikaans ook as debats- en redenaarstaal te gebruik.

Adendorff sê sy voel “ongelooflik nederig en bevoorreg om die toekenning vir Wetenskapsbeoefening in Afrikaans" te ontvang en is dankbaar aan die Departement vir die volgehoue ondersteuning wat sy ontvang om Afrikaanse Taalverwerwing nie net as onderrigvak nie, maar ook as navorsingsveld, te bevorder.

“Ek waardeer dit om op hierdie manier vereer te word vir dit wat ek as my passie beskou: om met nie-Afrikaanssprekende studente te werk en 'n liefde vir Afrikaans by hulle te kweek; om vir Afrikaansstudente in die metodologie van taalverwerwing te onderrig sodat hulle dit verder in onderrigsituasies kan gaan toepas," sê Adendorff.

“Hierdie passie laat my ook toe om my nagraadse studente op hulle navorsingsreis te begelei sodat hulle Afrikaans verder kan uitbou en bevorder; om artikels oor en in Afrikaans te skryf ter bevordering van Afrikaans; om referate in Engels by internasionale konferensies en kongresse te gaan lewer oor my onderrig en navorsing in Afrikaans; en laastens om Afrikaans onder jongmense te bevorder deur middel van my betrokkenheid by redenaars en debat."

Volgens Gouws is Adendorff sedert haar aanstelling in die Departement nie net daarop gefokus om Afrikaanse Taalverwerwing as volwaardige vak uit te brei om vir onderrig aan sowel tweede- as vreemdetaalsprekers van Afrikaans voorsiening te maak nie, maar sy bou ook kapasiteit onder senior studente van Afrikaans en Nederlands om hulle moedertaal as vreemde taal te onderrig.

Daarbenewens het sy ook Afrikaanse Taalverwerwing as volwaardige navorsingsgebied help vestig en sy word nasionaal en internasionaal erken vir haar bydrae tot hierdie vakgebied.

“Deur haar publikasies, kongresoptredes en die begeleiding van verskeie magister- en doktorale studente in die teorie van Taalverwerwing het sy gehelp om hierdie vorm van wetenskapsbeoefening in Afrikaans nog verder te laat groei. Sy beoefen haar wetenskap veral in Afrikaans en lewer nogmaals bewys daarvan dat Afrikaans oor die teoretiese en terminologiese apparaat beskik om 'n wetenskaplike vakgebied te kan beoefen."

Dr Adendorff is ook aktief betrokke as beoordelaar en aanbieder van Afrikaanse redenaars- en debatskursusse op alle vlakke – laerskole, hoërskole en universiteite.

“Deur haar betrokkenheid by hierdie aktiwiteite wys dr Adendorff leerders hoe 'n kulturele en wetenskaplike aktiwiteit in Afrikaans beoefen kan word," voeg Gouws by.