Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se eerste genderroeteprojek skop af
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 29/10/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste genderroeteprojek is onlangs op die Stellenbosch-kampus van stapel gestuur.

Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, het tydens haar besoek aan Suid-Afrika laat verlede jaar aangekondig dat 'n gendertoelaag van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU) aan drie Suid-Afrikaanse universiteite toegeken is.

Die begunstigdes was US, sowel as die Universiteite van Johannesburg en Wes-Kaapland. Die US het die ACU-toelaag vir sy voorgestelde genderroeteprojek ontvang, wat amptelik op 8 Oktober 2020 bekendgestel is.

Die genderroeteprojek behels 'n groep vrywillige deelnemers wat op 'n wandeling deur die sentrale gebied van Stellenbosch gaan en dan gesprekke oor die rol van gender in die kampuskultuur, emosionele en fisiek veiligheid, gesondheid, sosiale lewe, leierskap, prestasie en die werksplek van die toekoms voer.

Volgens Monica du Toit, ResEd-groepskoördineerder by die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe, het die toekenning hulle aangemoedig om nie eksperiënsiële leer en nuwe idees te onderskat nie.

“Dit is 'n baie klein toelaag en 'n klein projek, maar die feit dat ons idees traksie en ondersteuning ontvang het, het ons aangemoedig."

Sover is 'n groep van 15 studente en personeellede betrokke by die vaslegging van die roete en besprekings vir die eerste twee wandelings. Lede van die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe sal ook saam met posisionele en nie-posisionele leiers help om hierdie wandelings in die toekoms te fasiliteer.

Du Toit sê die eerste roete het organiseerders in staat gestel om te sien hoe die projek uitspeel en wat verbeter kan word in die volgende wandelings. Sy glo hierdie aktiwiteit sal van groot waarde wees indien dit nie in groot groepe nie, maar eerder in klein groepe van vyf tot agt mense onderneem word.

“Dit sal ons tyd gee om eers studente en personeel wat op kampus is, te bereik en sal veiligheid en sosiale afstandskepping verseker. Dit sal 'n kleingroepaktiwiteit bly vir die verwelkoming en senior studente en die doel is nie om massas gelyk te bereik nie, maar om nouverbonde gesprekke aan te moedig," sê Du Toit.

Hulle beplan ook om 'n kort uittreksel met stemgrepe en filmmateriaal van studente te skep om te help om deelnemers se terugvoer vas te lê.

Die roete sal die vorm van 'n reeks weeklikse begeleide wandelings aanneem wat elke Dinsdagmiddag tot 8 Desember sal plaasvind. Hulle het 'n kerngroep studente en personeel wat in 2021 wandelings op hul eie sal fasiliteer.

Vir meer inligting oor die genderroeteprojek, tree met Monica du Toit in verbinding by mdt2@sun.ac.za

Vir die US se genderroeteprojek sal studente as fasiliteerders optree van 'n twee uur lange gesprekswandeling vir groepe van vier tot ses persone – mans, vroue én persone met niekonformerende genderidentiteite. Daar sal spesiaal moeite gedoen word om die roete vir studente en personeellede met gestremdhede of spesiale behoeftes toeganklik te maak.