Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Covid-19 en vullisbestuur
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Florence de Vries
Gepubliseer: 27/10/2020

​Die gebruik van enkel-gebruikitems soos nitriel-handskoene, weggooibare gesigsmaskers en ontsmetmiddelbottels het aansienlik toegeneem tydens die Covid-19-pandemie. Nieteenstaande beskermingsmaatreëls teen Covid-19 gevolg moet word, is dit hoogtyd dat mense beter gewoontes aanneem ter wille van die omgewing. 

Dit is die mening van professor Wolfgang Preiser, hoof van die Afdeling Geneeskundige Virologie by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en lid van die Dekaan se Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid (DACES). Oortollige verpakking weens ʼn toename in aanlyn-inkopies en wegneemetes, asook weggooibare maskers, handskoene en gesigskerms het ʼn skerp toename in plastiek teweeg gebring, net toe mense begin het om bewus te raak van die omgewingsimpak daarvan. Daarom moet almal ʼn daadwerklike poging aanwend om na die omgewing om te sien. 

“Ons skep onopsetlik meer vullis weens die gebruik van weggooibare ontsmetmiddelbottels, weggooilappies en maskers. Ofskoon ons tans geen spesifieke statistieke vir Suid-Afrika het nie, is ek seker dat die meer gegoede dele van ons samelewing die afgelope paar maande meer vullis geskep as wat hulle besef," sê Preiser. 

ʼn Onlangse verslag deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) skryf die volgende probleme toe aan die pandemie: ʼn toename in plastiek vullis (weens inperkings), ʼn toename in rommelstrooi, onwettige stortings en openbare brande, die staking van herwinningsaktiwiteite en die meng van aansteeklike vullis soos handskoene, maskers, snesies, en gaas met ander vullis (blootstelling aan oordrag). 

Die Internasionale Vaste Afval-vereniging (ISWA) het bereken dat enkelgebruik-plastiekitems met 300% toegeneem het in die VSA. Daarbenewens het herwinningstelsels in baie dele van die wêreld – insluitende Suid-Afrika – tot stilstand gekom. “Ek glo dit is ʼn kombinasie van die ekonomiese afname en vervaardigingsineensakking tydens inperkings. Herwinning benodig mense om in te samel en te verwerk, asook iemand om die produkte te gebruik. Dit het gestop toe baie industrieë tot stilstand gekom het," sê Preiser. 

Vullisbestuur op die Tygerberg-kampus

Aangesien baie industrieë nou weer aan die gang kom, is dit tyd om ons energie daarop te fokus om langtermyn volhoubaarheid te verseker – een manier is om die gebruik van plastiek aktief te vermy of te verminder, en indien dit nie moontlik is nie, dit op soveel wyses moontlik te herwin. “Die omgewingskrisis – wat klimaatskwessies insluit maar nie daartoe beperk is nie – het daartoe gelei dat akademiese instellings, soos ons, ons vaste afval-bestuurstelsels herbedink en herontwerp. Vullis sortering by die bron is so te sê enige plek moontlik, maar word die meeste van die tyd nie gedoen nie, of nie reg gedoen nie.

As jy terugkeer na die Tygerberg-kampus vir werk- of studiedoeleindes, maak ʼn daadwerklike poging om die drie-drom-stelsel te gebruik wat in al ons kampusgeboue beskikbaar is om van vullis ontslae te raak. En doen dit goed – moenie “besmette" items (bv. met kos binne in) by die herwinbare items gooi nie. Plaas die kos in die komposblik en gooi dan die houer in die herwinningsopening."

Die kampus-koffiewinkel, Cups & Saucers, ondersteun ook die Groter Tygerberg-projek (GTP) waarby personeel en studente hulle plastiekbottels en blikke in die trollie voor die koffiewinkel kan gooi. Personeel en studente word genooi om hulle herwinbare items van die huis af te bring en ook in die trollie te gooi, en sodoende die omgewing te help, asook diegene wat ʼn inkomste verdien deur ander mense se vullis te herwin.

Vullisbestuur by die huis

Indien jy nog steeds van die huis af werk, doen gerus navorsing oor die herwinningsdienste in jou omgewing, en sorteer jou vullis daarvolgens. Verskeie gebiede in die noordelike en suidelike voorstede van Kaapstad bied reeds ʼn munisipale herwinning-afhaaldiens. Ander gebiede, sê Preiser, het toegang tot fasiliteite soos laerskole waar ʼn mens glas, blik, plastiekbottel en papier kan aflewer. Probeer ook om daarbenewens kompos te maak van jou vergaanbare afval, soos byvoorbeeld, tuinrommel en kombuisafval. Die Stad Kaapstad gee van tyd tot tyd komposblikke gratis weg om inwoners aan te moedig om hulle afval te verminder. Preiser sê dat organiese afval aërobies na metaan – ʼn sterk groenhuisgas – omskakel as dit by afval-terreine begrawe word.

Besmette handskoene en maskers

“As jy van weggooibare handskoene of maskers gebruik maak, moet dit op ʼn veilige manier weggegooi word," sê Preiser. Gesondheidswerkers volg streng reëls as hulle besmette, of moontlik gevaarlike afval weggooi. “As jy seker is dat jou weggooibare masker of handskoene nie besmet is nie, moes jy dit in die eerste plek nie gedra het nie," sê Preiser. Oor die algemeen het weggooibare handskoene (lateks of nitraal) nie ʼn plek in ons daaglikse lewens nie, en moet dit net gebruik word deur mense in sekere beroepe, soos gesondheidsorgwerkers. Enige soort weggooibare maskers is ook onnodig vir die publiek – nog ʼn voordeel van lapmaskers (nie-mediese maskers) is dat dit goedkoper is, gewoonweg gemakliker is, en dit kan eenvoudig gewas word, in plaas daarvan om weg gegooi te word.

Preiser se dat sanitêre items wat moontlik besmet is nie by ander herwinbare items gevoeg moet word nie aangesien dit nie herwinbaar is nie, en ook nie mense wat in herwinning werk, of diegene wat rommel deursoek moet blootstel aan infeksie risiko nie. “As jy tuis is, is die raad met moontlike besmette Covid-19-afval om dit eenkant te hou en vir ʼn week lank die sak te bêre (knoop die sak toe en skryf die datum daarop). Teen daardie tyd sou die virus al “gesterf" het en sal dit nie meer aansteeklik wees nie. Onthou dat weggooilappies nie in die toilet afgespoel moet word nie. Dit is van mensgemaakte vesel gemaak en is nie bioafbreekbaar nie. As dit afgespoel word kan dit moontlik ʼn blokkasie in jou drein veroorsaak, en dié wat dit deur maak sal moontlik in die see beland en deel word van die “plastieksop" wat mariene lewe versmoor."

Preiser waarsku teen oordrewe voorsorgmaatreëls: “Dit is nie nodig om jou inkopies met ontsmettingsmiddels te bespuit of alles met weggooilappies af te vee nie. Jou inkopies gaan jou nie met die koronavirus besmet nie. Die virus is nie baie stabiel nie en sal onskadelik wees na gewone skoonmaak, of na ʼn sekere tyd. Die risiko vir infeksie kom van nabye kontak met aansteeklike individue, of hulle simptomaties is of nie, en dit is hoekom ons almal universele voorsorg moet tref."

Vir meer inligting oor herwinningsdienste in die omgewing van Kaapstad, besoek:

http://www.capetown.gov.za/Family%20and%20home/greener-living/recycling-at-home/recycling-guide

http://www.capetown.gov.za/Family%20and%20home/Residential-utility-services/Residential-solid-waste-services/recycling-services   

http://www.capetown.gov.za/Family%20and%20home/Residential-utility-services/Residential-solid-waste-services/Reduce-your-waste

http://www.capetown.gov.za/Family%20and%20home/greener-living/green-gardening-and-eating/start-composting-at-home

City of Cape Town Waste minimisation infographic http://resource.capetown.gov.za/documentcentre/Documents/Graphics%20and%20educational%20material/Reduce%20your%20waste%20infographic.pdf

https://www.recycle1st.co.za/

https://regenize.co.za  

https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-08-05-practical-guidance-on-disinfecting

https://www.unenvironment.org/resources/factsheet/covid-19-waste-management-factsheets

United Nations Environment Programme (UNEP) Report: Waste Management during the COVID-19 Pandemic: from response to recovery. 12 August 2020. https://www.unenvironment.org/resources/report/waste-management-during-covid-19-pandemic-response-recovery