Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat staan finalejaarstudente te doen in hierdie pandemiese tye?
Outeur: Leslie van Rooi
Gepubliseer: 22/10/2020

Hoewel die COVID-19-pandemie tot 'n unieke onsekerheid onder finalejaarstudente gelei het oor wat om in die komende jaar te verwag, wink daar ook verskeie moontlike, skryf dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, in ʼn meningsartikel vir University World News.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Leslie van Rooi*

Die jaar 2020 sal waarskynlik onthou word as 'n jaar van uitdagings, angs, nuwe moontlikhede en 'n sin van globaliteit – ons was immers almal “saam hierin vasgevang". By tye het hierdie jaar ons onseker en selfs verbysterd laat voel. En weens die kwaai uitwerking van COVID-19 op gesondheid en die ekonomie, is dit duidelik dat dinge nog vir 'n ruk onseker gaan bly.

Baie (indien nie almal nie) sektore van die samelewing is beïnvloed. Die langtermyn-uitwerking kan tans nog nie ten volle verstaan en gemeet word nie. Maar dit is duidelik dat daar beslis 'n paar verskuiwings in die samelewing gaan plaasvind. Die moontlikheid van fundamentele verandering bestaan ook.

Dalk is dit die onsekerheid, ofskoon relatiewe onsekerheid, wat baie mense angstig maak.

Daar heers 'n unieke onsekerheid onder finalejaarstudente aan ons universiteite. Vir hulle ontwikkel die jaar anders op 'n sekere manier. Wat 'n jaar van afronding en gereedmaak om 'n nuwe en opwindende fase binne te gaan, sou wees, het nou in 'n situasie ontaard waar toekomstige graduandi aanhoudend moet aanpas terwyl hulle ook 'n sin van onsekerheid ervaar oor wat vorentoe wag. Terselfdertyd bly die moontlike langtermyn-, negatiewe uitwerking op die arbeidsmark wat hulle hoop om in die volgende paar maande te betree, skrikaanjaend – selfs nog meer as in vorige jare.

In dít wat hierop volg, wil ek graag van die uitdagings en moontlike geleenthede uitlig wat die graduandi van 2020/2021 in die gesig staar.

Nood-afstandsonderrig (aanlyn)

Net soos alle ander jaargroepe, moes finalejaarstudente by 'n aanlyn leerervaring aanpas. Vir sommiges was die aanpassing maklik, terwyl die uitdagings om tuis te studeer, die uitwerking van ons diepgewortelde probleme in ons samelewing, asook die onpraktiese aard daarvan om navorsing virtueel te doen, soos 'n berg voor ander gelê het.

Gelukkig kon sommige finalejaarstudente in die tussentyd na ons kampusse terugkeer om onder meer laboratorium- en kliniese werk te doen. Gelukkig het inperkingsregulasies diegene wat nie sal kan gradueer terwyl hulle van die huis af probeer studeer nie, ook toegelaat om na ons kampusse terug te keer.

Aan die goue einde van die spektrum is dit duidelik dat die meeste van ons residensiële, openbare universiteite meer as gereed was om klasse aanlyn aan te bied. En wat dalk nog meer belangrik is, is dat die gehalte van grade hoog bly – ook volgens internasionale standaarde. Net die tyd sal leer hoe dit in die toekoms gaan ontwikkel.

Die arbeidsmark(te)

Tot nou toe was die aantal Suid-Afrikaanse gegradueerdes wat sukkel om binne die eerste jaar nadat hulle gegradueer het, werk te kry, toe redelik laag – ook in vergelyking met gegradueerdes in ander wêrelddele. Maar hierdie prentjie mag in die volgende jaar of so dalk verander. Ons sal moet moeg wag en sien of die neigings in werksverliese plaaslik en in die res van die wêreld gaan voortduur en tot watter mate dit gegradueerdes sal beïnvloed. 

In Suid-Afrika het ons die afgelope paar jaar al hoe meer werksverliese gesien en daar word voorspel dat hierdie neiging in die voorsienbare toekoms gaan voortduur.

Met die meeste bedrywe wat tans hul arbeidsmag verminder en namate ons formele werkloosheidsyfer styg, sal die arbeidsmark beslis onder druk bly.

Maar soos die stemme in Bruce Whitfield se The Upside of Down (2020) daarop wys: geleenthede bly aan die deur klop te midde van uitdagende tye. En dit sal beslis waar wees vir diegene wat weet hoe om hulle self te herskep, wat risiko's kan neem of kan bekostig om risiko's te neem en wat 'n geleentheid op die regte plek en tyd aangryp. Dit sal moontlik van ons gegradueerdes vereis om meer te doen as wat van hul voorgangers verwag is.

Oorsese ondervinding

Vir die meeste gegradueerdes wêreldwyd, is ondervinding oorsee een van die belangrikste nagraadse “kluitklaplys"-moontlikhede. Hulle gaan oorsee om die tydelike arbeidsmark te betree vir werkservaring (3–6 maande), of om 'n meer voltydse geleentheid aan te gryp, soos om byvoorbeeld hul klerkskap te voltooi. Gegradueerdes in professionele velde is geneig om ten minste by maatskappye aan te sluit wat 'n mate van internasionale blootstelling toelaat.

Maar dinge kan teen Desember 2020 en Januarie 2021 baie anders lyk. Grense mag moontlik nie meer so streng gesluit wees as wat tans die geval is nie, maar dit is feitlik seker dat daar minder werksgeleenthede – ook tydelike werksgeleenthede – gaan wees. Dit sal waarskynlik gegradueerdes se geleenthede om oorsee te werk, beperk.

Veranderende politieke kontekste en 'n toenemende sin van “sluit die geledere" in sommige lande mag veroorsaak dat hierdie verskynsel op die langer duur sal voorkom. Dit is iets wat Suid-Afrikaanse gegradueerders erger kan raak as hul eweknieë in ander wêrelddele.

Terselfdertyd kan dit meer geleenthede vir gegradueerdes op ons vasteland skep om die groeiende arbeidsmark in Afrika te betree. Dit sal egter 'n fokusverskuiwing benodig.

Verdere studies

Die veiligste opsie vir ons graduandi is moontlik om hul studies op 'n doelbewuste en gefokusde manier voort te sit. Daar word baie debatte gevoer oor wat dit beteken om “oorgekwalifiseerd" te wees. Dit is egter moeilik om teen die verbetering van vaardighede te redeneer. Hoe jy hierdie vaardighede gebruik, is natuurlik 'n ander saak.  

Gegradueerdes moet natuurlik die goue reël volg: kies 'n graad/navorsing wat jy sal geniet. Indien dit nie die geval is nie, veral gegewe die feit dat nagraadse studies voortdurende selfmotivering vereis, gaan jy sukkel om jou graad suksesvol te voltooi.

Indien die geleentheid vir nagraadse studies hom gedurende hierdie moeilike voordoen, neem dit. Die bykomende voordeel kan wees dat gegradueerdes hul studies gedeeltelik of heeltemal internasionaal kan voltooi.

Finansiële swaarkry

Wanneer 'n mens die moontlikheid van verdere studie bespreek, moet jy ook die finansiële uitwerking van die pandemie op 'n persoonlike, huishoudelike en regeringsvlak in ag neem. Daarom sal ons gegradueerdes moontlik harder en verder moet soek om in staat te wees om hul studies te bekostig. Maar daar mag moontlik meer geleenthede beskikbaar wees as wat ons dink.

Dit is egter belangrik om goeie finansiële besluite in moeilike tye te neem. Dit moenie die neem van berekende risiko's uitsluit nie.

Werkservaring

Dit is altyd 'n goeie idee om werkservaring op te doen. Dit is stimulerend, jy hou aan met leer en dit mag jou dalk op 'n ander (beter) toekomstige loopbaanpad plaas. Geleenthede mag skaars wees met beperkte vlakke van vergoeding, maar die voordele – veral in die huidige omstandighede – is eindeloos.

Goeie mentorskap is dalk nou nog belangriker as ooit. Om daardie gesprek te voer, daardie vrae te vra en jouself toe te laat om uitgedaag, gelei en ingelig te word, sal waardevol bly.

Ter afsluiting en nadat alles gesê en gedaan is, moet ons onthou dat ons omstandighede en realiteite verskil. En dit sal uiteraard 'n voelbare uitwerking op ons uitkyk en geleenthede hê. Maar ons sal almal moet leer om ons eie geleenthede op die beste manier moontlik te skep. Dit sal ook van ons verg om ondersteuning te soek en om te verstaan dat mislukking inderdaad nie die einde van die verhaal is nie.

Ter oordeel aan die hoeveelheid kere wat ek die woorde “mag", “dalk", “moet", ens gebruik het, is dit duidelik dat ons inderdaad ons in onsekere tye bevind. Maar om onsekerheid te hanteer, is beter as om toe te laat dat elke stap wat ons neem, deur 'n vals sin van sekerheid gerig word.

Wanneer die spelreëls verander, kan ons nie anders as om aan te pas nie. En dit is waar ons onsself nou bevind.

  • Foto: Studente aan die Universiteit Stellenbosch. Fotograaf: Stefan Els

​*Dr Leslie van Rooi is Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die Universiteit Stellenbosch.