Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kan tee regtig jou bloedsuiker verlaag?
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen & Liske Kotze-Hörstmann
Gepubliseer: 21/10/2020

Baie meer navorsing is nodig voordat die vraag of tee 'n doeltreffende behandeling vir die verlaging van hoëbloedsuiker en die bestuur van diabetes is beantwoord kan word, meen drr Hanél Sadie-Van Gijsen & Liske Kotze-Hörstmann (Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika) in ʼn meningsartikel vir Health24 (20 Oktober 2020).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hanél Sadie-Van Gijsen & Liske Kotze-Hörstmann*

Tee, veral groentee, het 'n goedgevestigde “gesondheidshalo". Ons word gereeld getrakteer op tydskrif- en koerantartikels wat die vele gesondheidsbevorderlike eienskappe van groen tee besing, met die gevolg dat baie mense glo dat groen tee beter as swart tee is. 'n Gewilde aanspraak oor groen tee is dat dit help om bloedsuikervlakke te verlaag en om diabetes te bestuur, maar ons onlangse navorsingswerk toon dat daar baie min wetenskaplike bewyse ter ondersteuning van hierdie aanspraak is.

Afgesien van water, is tee die drankie wat die meeste gedrink word in die wêreld. Die gewildste teeplant is Camellia sinensis en word gebruik om groen, swart, geel, wit en woeloengtee te maak. Groen tee word aangeprys dat dit baie antioksidante bevat, veral EGCG, waaraan baie van die tee se gesondheidsbevorderlike eienskappe toegeskryf word, maar alle tees bevat egter hoë vlakke antioksidante. Die hoeveelhede verskillende antioksidante wat verskillende tipes tee bevat, verskil egter en daar is geen aanduiding dat seker antioksidante bo ander voordeel moet geniet in ons dieet nie.

Data van groot bevolkingstudies dui daarop dat 'n leeftyd se teedrinkery die ontwikkeling van diabetes mag voorkom (chroniese hoëbloedsuiker en insulienweerstandigheid), maar dit is nie duidelik of tee kan help om hoëbloedsuiker of diabetes te behandel nie. Om hierdie vraag te beantwoord, het ons die wetenskaplike literatuur van die afgelope sewe jaar bestudeer om verewekansigde beheerproewe (VBP'e) te vind waar die uitwerking van teeprodukte op bloedglukosevlakke en insulienweerstandigheid getoets is.

Verewekansigde beheerproewe is die goue standaard van die toetsing van medikasie, aangesien hulle die uitslae van 'n behandelingsgroep met dié van 'n noukeurig-gepaarde kontrolegroep vergelyk om lukrake verskille wat met die verloop van tyd voorgekom het, te verklaar. Deur hierdie studies te bestudeer, het ons 'n paar interessante ontdekkings gemaak. Dosyne studies op laboratoriumdiere het meestal positiewe uitslae op hoëbloedsuiker en insulienweerstandigheid vir 'n verskeidenheid tees van verskillende plantspesies getoon. Baie min studies is egter nog op mense gedoen.

Amper 80% van alle tee wat wêreldwyd gedrink word, is swart tee, maar die menslike en dierlike studies het op groen tee gefokus, waarskynlik weens die siening dat groen tee gesonder as swart tee is. Slegs 14 VBP'e wat die uitwerking van tee op die regulering van bloedsuiker toets, is die afgelope sewe jaar wêreldwyd gedoen, wat minder as 1 000 studiedeelnemers regoor al 14 studies saam verteenwoordig

Elf van hierdie VBP'e het groen Camellia sinensis tee getoets, terwyl slegs twee proewe swart Camellia sinensis tee gebruik het en een het Japannese olyftee gebruik. Geen ander tees se uitwerking op bloedsuiker is sover in VBP'e gevalueer nie. Slegs die helfte van die VBP'e wat ons nagegaan het, het 'n afname in bloedsuikervlakke en/of 'n verbetering in insulienweerstandigheid getoon wat kan help om diabetes te verlig, maar die ander helfte het geen verbetering in die regulering van bloedsuiker met tee getoon nie. Wat veral belangrik is, is dat groen tee nie meer doeltreffend as swart tee was om hoëbloedsuiker en insulienweerstandigheid te verlig nie, en daar is inderdaad gevind dat swart tee insulienweerstandigheid en bloedcholesterolvlakke verminder.

Dit is wonderlike nuus indien jy groen tee ondrinkbaar vind, of indien jy eenvoudig swart tee geniet en onwillig is om na groen tee oor te slaan. In sommige van die VBP'e het die verbruik van groen tee met gewigsverlies gehelp, maar sonder om bloedsuiker te verlaag. Verrassend genoeg het dit voorgekom of die hoeveelheid tee of die duur van die proefneming nie met positiewe uitslae verband gehou het nie. Dit het ook geen verskil gemaak of teedrankies of kapsules met gesuiwerde samestellings soos EGCD in die proewe gebruik is nie. Dit was eenvoudig 'n kwessie dat dit in sommige proewe gewerk het, en nie in ander nie.

Sommige tydskrifartikels oor die gesondheidsbevorderlike uitwerking van tee redeneer dat die gewigsverlies en anti-diabetiese eienskappe van tee die gevolg daarvan is dat dit geen kalorieë bevat nie, solank jy dit sonder suiker, heuning of melk drink. Indien dit so gedrink word, kan tee met veiligheid by kalorie-beheerde en suiker-beheerde diëte ingesluit word. Die antioksidante van tee het egter hul eie gesondheidsvoordele en gelukkig verdwyn hierdie voordele nie skielik indien jy melk of suiker byvoeg nie. Gegewe die swak wetenskaplike bewyse wat tans beskikbaar is, kan ons ongelukkig nie regtig sê of tee 'n doeltreffende behandeling vir die verlaging van hoëbloedsuiker en die bestuur van diabetes is nie.

Baie meer werk, veral kliniese proewe, is nodig voordat ons die vraag met sekerheid kan beantwoord. In die tussentyd moet ons dalk die “gesondheidshalo" van groen tee ten opsigte van liggaamsmassa en bloedsuikerbeheer heroorweeg, want jou gewone “cuppa" mag dalk reeds goed genoeg wees.

*Drr Hanél Sadie-Van Gijsen en Liske Kotze-Hörstmann is geaffilieer by die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) by die Universiteit Stellenbosch.