Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee nuwe studente-leiers op die Tygerberg-kampus
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Sue Segar
Gepubliseer: 12/10/2020

Die onlangse verkiesings wat gehou is om poste te vul in die nuwe studente-leierskapstrukture het gelei tot die verkiesing van twee nuwe studente-leiers, en albei van hulle sit oorgehaal om van diens te wees vir hulle mede-studente: Mbali Mkhonza is verkies as die voorsitter van die Tygerberg Nagraadse Studenteraad en Kristin Arends is die nuwe voorsitter van die Tygerberg Studenteraad.

Die FGGW is uniek daarin dat daar beide 'n eie Tygerberg Studenteraad, asook 'n Tygerberg Nagraadse Studenteraad het.

Mbali Mkhonza – Voorsitter: Tygerberg Nagraadse Studenteraad

Mkhonza, oorspronklik afkomstig van die landelike dorp van Mayflower in Mpumalanga, was die sekretaresse van die Nagraadse Studenteraad tydens die vorige termyn. Sy is tans in haar tweedejaar van 'n Meestersgraad in Molekulêre Biologie, en haar navorsing is in die veld van tuberkulose. Sy het haar BSc-graad op die Universiteit Stellenbosch se hoofkampus voltooi. Dit is gevolg deur 'n Honneursgraad in Molekulêre Biologie op die Tygerberg-kampus. In haar navorsing ondersoek sy geen-uitdrukking in reaksie op infeksies.

Mkhonza sê sy was verheug toe sy verkies is en is opgewonde oor haar nuwe rol. “Die vorige voorsitter, Sandisiwe Matyesini, was wonderlik met die oorhandiging van die portefeulje. Ek het na haar opgekyk in die rol, en het groot bewondering gehad vir hoe sy haar studenteraadspligte met haar studies gekombineer het. My mede- studenteraadslede is ook baie ondersteunend."

Op 'n vraag oor waarom sy glo dat dit belangrik is om betrokke te wees by studente-leierskapstrukture, het Mkhonza die volgende te sê gehad: “Dit is 'n plek waar ons stem gehoor kan word. Nagraadse studente se behoeftes is anders as dié van voorgraadse studente. As sekretaresse van die Tygerberg Nagraadse Studenteraad, het ek die belangrikheid daarvan besef om my vir die belange van die nagraadse studente binne die fakulteit te beywer. Vir my handel dit daaroor om die skakel tussen die fakulteit en die nagraadse studente te wees."

Sy het bygevoeg dat haar visie vir haar termyn was "om voort te bou op wat die vorige studenteraad vermag het in terme van verantwoordbaarheid en deursigtigheid, en ook om na maniere te kyk waarop sy persoonlik die nagraadse gemeenskap kon help ontwikkel."

Toe sy spesifiek gevra is oor die uitdagings wat nagraadse studente ervaar, het Mkhonza die volgende te sê gehad: “Baie nagraadse studente werk en studeer tegelykertyd. Dis nie altyd maklik om 'n balans te handhaaf nie. Ons moet kyk na maniere waarop ons dit vir hulle makliker kan maak deur middel van ons beplanning."

“In terme van persoonlike ontwikkeling, alhoewel ons hier is om te studeer, wil ons ook as mense groei buite die laboratorium-opset. Ek sou regtig graag maniere wou vind om persoonlike ontwikkeling te fasiliteer, en om geleenthede te skep vir studente om byvoorbeeld kommunikasie- en aanbiedingsvaardighede aan te leer, sodat hulle afgeronde individue kan word".

In antwoord oor watter spesiale eienskappe sy aan die pos kan verleen, het sy gesê dat sy iemand was wat versigtig luister, eerder as om net te reageer.

In haar vrye tyd hou Mkhonza daarvan om te lees en te sing, en sy is besig om te leer om die ghitaar te bespeel. Sy geniet dit om tyd met vriende deur te bring, sy is 'n vrywilliger by 'n skuiling vir babas in Goodwood, en is ook baie betrokke by haar kerk.

Oor haar lang-termyn planne, sê Mhkonza sy hoop om in die akademie te bly. “Ek beplan om my PhD te doen, om 'n studieleier te word, om by te dra tot die werk wat in verband met siektenavorsing gedoen word, en om die akademiese leer te bestyg."

Kristin Arends – Voorsitter: Tygerberg Studenteraad

Arends, 'n vierde-jaar mediese student, wat oorspronklik van Oos-Londen afkomstig is, is al sedert haar aankoms by die Universiteit Stellenbosch betrokke by studenteleierskap. Gedurende haar tweede jaar in 2018 was sy 'n mentor in die Hippokrates-koshuis, en het toe die Primaria van Hippokrates geword. Sy het sopas haar termyn voltooi as die ondervoorsitter van die Tygerberg Studenteraad.

Arends het baie duidelikheid oor haar visie vir haar nuwe posisie: "Ek wil graag hê dat die Tygerberg Studenteraad 'n struktuur moet wees wat werklik studente verteenwoordig. My grootste rol bestaan daarin om voorbrand te doen vir die belange van studente en vir hulle behoeftes. In my rol het ek 'n plek op die Stellenbosch Studente se Vertweenwoordigende Raad, waar ek die Tygerberg studente verteenwoordig. Dit is baie belangrik, aangesien ek hulle behoeftes op 'n groter platform kan bevorder".

Sy ontvang baie inspirasie by van haar leierskap-voorgangers - insluitende dr Mokgohloe Chitsadi Thulare (die eerste swart Primaria van Hippokrates); dr Tevarus Naicker, “wat my gewys het hoe ver deursettingsvermoë in studente-leierskap mens kan neem"; en me Wamahlubi Ngoma, wat onlangs haar termyn voltooi het as die Universiteit Stellenbosch se Studenteraad se onder-voorsitter, en wat die persoon was "wat my geïnspireer het om nie bang te wees om die stemme van die Tygerberg studente na groter platforms te neem nie".

“Hierdie kragtige studenteleiers het my geïnspireer om die beste studenteleier te wees waartoe ek in staat is, en om te onthou vir wie ek dit doen, naamlik die studente."

Arends het gesê dat een van die grootste onlangse uitdagings die oorgang was na aanlyn leer gedurende die Covid-10-pandemie. Dit het ook veranderinge ingesluit in hoe studente geassesseer word. Daar was ook heelwat "finansiële druk" onder die studente, insluitend veranderinge aan hulle rekenings vir koshuisverblyf.

“Tydens die pandemie het heelwat studente ook gesukkel met geestesgesondheids-kwessies. Hulle was so gewoond daaraan om op kampus te wees, tussen vriende, in lesings, en om in die hospitaal te werk. Die aanpassing was enorm. Die Sentrum vir Studenteberading en -ontwikkeling (SSVO) het gedurende hierdie tyd baie hard gewerk."

Arends glo dat sy reeds heelwat ondervinding opgedoen het. “Studente nader beide my, en van die ander studenteraadslede, dikwels oor probleme. Saam vind ons maniere hoe om personeellede en studente met mekaar te laat skakel om sodoende probleme op te los. Ek is goed daarmee om te bepaal wie die regte persoon is om mee te praat wanneer 'n student my met 'n probleem nader. Dit is een van my sterk punte in my rol as voorsitter."

Arends, wat dit geniet om te kook, reekse te kyk, en interessante plekke in Kaapstad te besoek in haar vrye tyd, wou nog altyd geneeskunde studeer. Sy doen haar elektiewe module by die Frere-hospitaal in Oos-Londen. “Ek het nou eerstehands die gebroke gesondheidstelsel in die Oos-Kaap ervaar. Hierdie ondervinding het my verder gemotiveer om myself heeltemal toe te wy aan my mediese loopbaan," het sy gesê.

Sy is nie heeltemal seker wat die toekoms vir haar inhou nie.

“Ek het nog nie al die spesialiteitsrigtings meegemaak nie, maar ek het 'n paar gunstelinge, soos noodgevalle en trauma," het sy gesê. Op die lange duur sien sy haarself werk in 'n hospitaal met mediese studente.

“Ek geniet dit om opleiding te gee in 'n hospitaal-opset en om kennis en ondervinding oor te dra."


Onderskrif: Mbali Mkhonza (links) and Kristin Arends (regs).