Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Ses maande van COVID-19, en die uitdagings wat nog voorlê’
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 03/07/2020

Beste lede van die US-gemeenskap

Met die koronavirus-grendelstaat wat 100 dae in Suid-Afrika nader, besef ons al hoe meer dat ons nie net 'n gesondheidskrisis beleef nie maar ook 'n keerpunt in die geskiedenis. Die pandemie het die ongelykhede en ander samelewingsprobleme waarmee ons saamleef opnuut skerp in fokus gebring.

Kom ons kyk terug op ons reis die afgelope ses maande sedert die wêreld die eerste keer van ʼn nuwe koronavirus kennis geneem het, en vooruit na die toekoms – gerig deur ons visie om kennis tot diens van die samelewing te bevorder.

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) vind ons klasse en eksamens aanlyn plaas sedert kontakonderrig in Maart opgeskort is, het ons die eerste semester al byna afgehandel, en keer van ons studente, nadoktorale genote en personeellede geleidelik terug na ons kampusse. Namate ons vernuwe en aanpas, is ons ook bewus daarvan dat ons alumni en ander belanghebbendes – beide plaaslik en internasionaal – eweneens deur die krisis geraak word.

Ons het al so gewoond geraak aan wat eufemisties die “nuwe normaal" genoem word, dat ons maklik vergeet hoe groot die skok was. Ons móés gewoon vinnig aanpas, hoe moeilik ook al, want die bedreiging was baie groot – en dit bly steeds die geval.  

Wêreldwyd het daar al meer as 521 000 mense aan COVID-19 gesterf, insluitend byna 3 000 mense in Suid-Afrika – en die syfers styg steeds. Teen dié tyd ken die meeste van ons ʼn familielid, vriend, kollega of iemand in ons gemeenskap wat regstreeks geraak is. My innige meegevoel aan almal wat met die spanning hiervan moet saamleef of al 'n geliefde verloor het.

Ons durf nie ons waaksaamheid verslap nie, want daar is nog nie 'n entstof om ons teen die virus te beskerm nie. COVID-19 is ʼn hoogs aansteeklike respiratoriese infeksie – vandaar die advies om ʼn veilige afstand van ander mense te handhaaf, 'n masker te dra, gereeld hande te was en nie aan jou oë, neus of mond te vat nie.

Ek vind dit nuttig om die situasie te beskou as 'n marathon, nie 'n naelloop nie. Dít geld nie net ons stryd teen die pandemie nie, maar ook ander aspekte van ons lewens wat daardeur geraak word – en dit is feitlik alles, of hoe?

Ons sien menslike lyding om ons – werkloosheid, armoede, voedselnood, karige behuising, skole sonder water, hospitale sonder die nodige toerusting. Ons sien hoe die verdeeldheid en onreg van ons verlede 'n skadu oor die hede bly werp, en ons toekoms bedreig. Ons sien opnuut dat geslagsgebaseerde geweld 'n pandemie in eie reg is wat óók drastiese ingryping benodig.

Ek haal my hoed af vir almal wat in hierdie tyd na hul medemens uitreik. Dit sluit ons studente en personeellede wat vrywilligerswerk doen in. En ons Afdeling Sosiale Impak wat met organisasies en strukture saamwerk om bystand aan kwesbare huishoudings en individue te verleen.

Welgedaan ook aan ons almal vir al die harde werk om die oorgang na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering te maak. Ons besef terdeë daar is haakplekke, wat wissel van gebrekkige internettoegang tot stelselprobleme. Maar hierdie kwessies geniet voortdurend aandag, en agter die skerms werk ons personeellede toegewyd aan oplossings in ʼn poging om geen student agter te laat nie. Alles word in die stryd gewerp om die akademiese projek voort te sit.

Ons toekoms hang daarvan af – nie net ons toekoms as universiteit nie, maar die toekoms van die samelewing in geheel. Want dit is ons taak om studente met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om 'n positiewe bydrae tot die mensdom te maak – in Suid-Afrika, maar ook op die res van ons vasteland en wêreldwyd.

Nog 'n belangrike deel van ons werk as universiteit is om na oplossings vir hardnekkige en veelkantige probleme te soek – wat die koronaviruskrisis by uitstek is. Ek is dus bly ons navorsers doen hul deel met vindingryke bydraes in die stryd teen die pandemie en gepaardgaande uitdagings.

Die afgelope ses maande was 'n ervaring wat ons die res van ons lewens gaan bybly. Ons is uit ons gemaksones gepluk en met groot uitdagings gekonfronteer – sommiges nuut en vreesaanjaend, ander welbekend maar ewe dringend.

​Ons moes nuwe vaardighede aanleer, anders dink en doen. Daar word groot gewag gemaak van die feit dat ons deesdae van die huis af werk, maar soms voel dit eerder asof mens by die werk woon!

As ek terugdink, onthou ek laagtepunte maar ook hoogtepunte, trane én vreugdes, swaarkrydae maar ook goeie tye. Dít was alles voorbereiding vir die uitdagings wat voorlê.

Ons het nou die kans om te herbesin oor wat in die verlede verkeerd geloop het en wat reggestel moet word, om te herontdek wat regtig belangrik is – vir ons as individue en vir die groter geheel waarvan ons deel is – en om die toekoms te herontwerp sodat die lewe beter vir almal is.

Ons wedloop het maar pas begin. Neem 'n slukkie water, eet iets, strek 'n bietjie en kom ons hardloop verder. Ons kán dit doen.

Mooi bly, en kom ons kyk goed na mekaar.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier​