Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 22 Junie 2020)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/06/2020

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) tweede vergadering vir 2020 het op Maandag 22 Junie plaasgevind. Soos in April, het ook hierdie vergadering op 'n aanlyn samewerkingsplatform plaasgevind ter voldoening aan die nasionale inperkingsregulasies om die verspreiding van die koronavirus- (COVID-19-)pandemie te stuit.

Die Raad het die hele US-gemeenskap geloof vir hoe hulle saamstaan in reaksie op die krisis. Die Universiteit het blitsvinnig na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (oftewel “aanlyn leer") oorgeslaan, wat baie daartoe sal bydra om die akademiese jaar suksesvol te voltooi. Dankie vir al die harde werk deur US-werknemers – sowel akademiese as professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel – en studente om dit moontlik te maak. En alle sterkte met die eksamens wat tans aan die gang is!

Die US se navorsers beïndruk ook met hul innoverende bydraes in die stryd teen COVID-19. En die Universiteit verleen verskeie vorme van noodsaaklike steun aan die groter gemeenskap.

Span US het hulle inderdaad “goed van hul taak gekwyt", soos die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, dit in sy oorhoofse bestuursverslag aan die Raad gestel het. Die Raad het waardering uitgespreek vir die proaktiewe manier waarop die bestuur die situasie hanteer, wat die impak van die krisis op die Universiteit beperk.

Die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, het volledig verslag gedoen oor werksaamhede in sy verantwoordelikheidsentrum die afgelope jaar. Die Raad het ook die US Koor lof toegeswaai vir hoe hulle steeds die maroen vlag in hierdie uitdagende tye laat wapper. Selfs al is hierdie wêreldkampioenkoor nie fisies bymekaar nie, bly hulle in harmonie en beur hulle ons met roerende virtuele uitvoerings op (klik hier en hier om te kyk).

Lees gerus verder vir meer besonderhede van ons vergadering.

Vriendelike groete en bly veilig.

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Rekordgetal kwalifikasies in 2019 toegeken

In sy verslag aan die Raad (klik hier vir die volledige dokument, en hier vir 'n skyfieaanbieding) het Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers uitgewys dat die US vir die akademiese jaar 2019 weer 'n rekordgetal kwalifikasies toegeken het – altesaam 9 120. Dít is 15% meer as in 2015, toe hy met sy eerste termyn begin het.

Doktorsgrade het 'n nuwe hoogtepunt van 361 bereik. Dit oortref die getal doktorsgrade van 2015 met nie minder nie as 35%. In die geheel het die US ook weer meer nagraadse as voorgraadse kwalifikasies toegeken (51% teenoor 49%), wat met die instelling se posisionering as 'n navorsingsintensiewe universiteit strook.

“Ons is trots op die aansienlike bydrae tot vooruitgang en ontwikkeling wat ons op hierdie manier lewer – nie net in ons land nie, maar ook op die res van ons vasteland en wêreldwyd," het prof De Villiers gesê.

Jaarverslag en finansiële state vir 2019

Op aanbeveling van die Oudit- en Risikokomitee het die Raad die US se geïntegreerde jaarverslag vir 2019, wat die Universiteit se gekonsolideerde finansiële jaarstate insluit, goedgekeur.

'n Eksterne oudit van die Universiteit het 'n ongekwalifiseerde eksterne ouditverslag oor die US se gekonsolideerde finansiële state vir die jaar geëindig 31 Desember 2019 opgelewer. Die Raad het die US se status as lopende saak goedgekeur en die mening uitgespreek dat die Universiteit se finansies gesond is en dat die instelling vir die volgende 12 maande as lopende saak sal voortgaan. Die ernstige impak van die pandemie op die finansiële vooruitsigte van die meeste instellings, waaronder die Universiteit, het dit noodsaaklik gemaak om hierdie saak noukeurig te ondersoek.

Die goedgekeurde jaarverslag en finansiële state sal nou by die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie ingedien word, waarna 'n elektroniese kopie op die US-webtuiste beskikbaar sal wees.

Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

By hierdie Raadsvergadering was dit prof Nico Koopman se beurt om oor die afgelope jaar se bedrywighede in sy verantwoordelikheidsentrum – Sosiale Impak, Transformasie en Personeel – verslag te doen. (Klik hier vir die volledige dokument, en hier vir 'n pdf-weergawe van sy PowerPoint-aanbieding.)

Prestasies op hierdie gebied hou belofte in vir die US se strewe om 'n instelling te skep wat deur inklusiwiteit, diep en doelbewuste transformasie sowel as diversiteit gekenmerk word – iets waartoe die Universiteit hom in Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 verbind.

Hoogtepunte uit prof Koopman se verslag sluit die volgende in:

  • Personeelgesondheid en -welstand is 'n voorrangsaak. 'n Tweede tweejaarlikse personeelopname oor werkkultuur en -klimaat het in 2019 plaasgevind, die Rektoraat het 'n Konsepplan vir Personeelgesondheid en -welstand aanvaar, en 'n eksterne beoordeling van die US se Afdeling Menslike Hulpbronne is aan die gang.

  • Die diversifisering van die US se studente- en personeelkorps vorder goed, hoewel daar steeds uitdagings is op senior vlakke – onder sowel akademici as professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel. 'n Nuwe Kode vir Diensbillikheid en Diversiteit is goedgekeur, wat transformasie nou 'n kernprestasiegebied vir elke personeellid maak.

  • Die US se institusionele kultuur geniet ook prioriteit. Die transformasiebevoegdhede van personeellede en studente word op verskeie maniere ontwikkel, en visuele regstelling en vernuwing vind oor die hele Universiteit plaas.

  • Sosiale impak is deeglik in die aktiwiteite van fakulteite, PASD-afdelings en studentestrukture vasgelê. En die Universiteit werk sy aan sy met belanghebbendes en vennote om waardevolle steun aan kwesbare gemeenskappe tydens die COVID-19-krisis te bied.

Vernuwing van US-handelsmerk

Die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, het die Raad op hoogte gebring van vordering met die vernuwing van die US se institusionele handelsmerk. Die bedoeling is om dit te belyn met die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 en handelsmerkposisioneringstrategie.

Die Raad het opnuut steun uitgespreek vir die proses, wat beoog om die US-handelsmerk te konsolideer en te versterk nadat 'n raakpuntoudit in 2018 aan die lig gebring het dat meer as 170 verskillende visuele identiteite in verskillende omgewings van die Universiteit gebruik word. 'n Handelsmerkwaardasie en -opvattingsoudit is in 2019 voltooi, en maak nou die grondslag uit van die US se handelsmerkstrat​egie en -narratief.

Prof Klopper het die ooreengekome grondbeginsels wat die proses rig, uiteengesit:

  • om by 'n monolitiese handelsmerkontwerp (d.w.s. een, enkele handelsmerk) uit te kom;

  • om 'n vars nuwe visuele identiteit te ontwikkel; en

  • om maroen as die vernaamste institusionele kleur te behou.

Daar is besluit dat die bestuur met die proses moet voortgaan – met bydraes deur die Raad en ander belanghebbendes – en die Raad uiteindelik van aanbevelings moet voorsien om 'n finale besluit te neem.

Personeelaangeleenthede

Prof Johan Fourie het sy laaste Raadsvergadering bygewoon in sy hoedanigheid as nie-Senaatslid wat verkies is deur permanente akademiese personeel van die Universiteit wat nie in die Senaat dien nie. Hy is tot volprofessor bevorder, en word dus nou 'n lid van die Senaat, wat hom diskwalifiseer om in sy huidige hoedanigheid as lid van die Raad te dien. Die Raad het hom vir sy bydrae bedank, en gelukgewens met sy bevordering.

Die tweede termyn van die Dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, prof Jimmy Volmink, loop op 31 Desember 2020 ten einde. Omdat die huidige omstandighede vanweë die koronaviruspandemie en die inperking dit moeilik maak om 'n opvolger te werf, het die Raad 'n aanbeveling van die Uitvoerende Komitee aanvaar om die proses vir die aanstelling van 'n nuwe dekaan met een jaar te verleng. Dít beteken dat ʼn nuwe aanstelling teen nie later nie as Januarie 2022 sal diens aanvaar.

Volgende vergadering

Die volgende raadsvergadering vind op 21 September 2020 plaas.

ONDERSKRIF: 'n Collage selfies deur Raadslede wat deelgeneem het aan ʼn aanlyn vergadering van die liggaam op 22 Junie 2020, van links af, boonste ry: drr Ronel Retief en Tsakani Ngomane, mnr Charl Cillié, proff Aslam Fataar en Amanda Gouws, mnr Lewis Mboko en prof Hester Klopper. Middelste ry: mnr Jannie Durand, adv Jean Meiring, me Ingrid Heydenrych, prof Wim de Villiers, me Nadine Moodie, en mnre George Steyn (voorsitter) en Ainsley Moos. Onderste ry: prof Stan du Plessis, mnre Wayde Davidse en Hubert Brody, me Ziyanda Stuurman en proff Arnold Schoonwinkel, Nico Koopman en Eugene Cloete.