Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsingsverslag fokus op US se bydrae tot wêreldwye VOD'e
Outeur: Division for Research Development
Gepubliseer: 25/06/2020

​Klimaatsverandering, energie, bewaring, gesondheid en geneeskunde, menseregte, transformasie, geslag, gestremdheid, kunste, demokrasie, opvoeding, groot data, oorsigbestuur en tegnologie.

Dis is maar net van die interessante baanbrekersnavorsing wat in die jongste uitgawe van die veelbekroonde publikasie Research at Stellenbosch University verskyn. Hierdie spogpublikasie word jaarliks deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) uitgegee en bied aan die nasionale en internasionale navorsingsgemeenskap, asook ander belangstellendes 'n omvattende, dog toeganklike oorsig van innoverende en interessante navorsing wat by die instelling onderneem word.

Die tema van die uitgawe is 'n opvolg van die 2018-uitgawe en fokus weer eens op Navorsing vir Impak, een van die US se kern strategiese temas in sy Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024. Met verslae oor spesifieke projekte van individuele navorsers en navorsingsgroepe aan die US, verken die 2019-uitgawe spesifieke fokusgebiede wat goed inpas binne die US se vyf strategiese navorsingstemas, asook hoe die US tot die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) deur middel van navorsing bydra.

Navorsing vir impak by die US beteken die optimalisering van die wetenskaplike, ekonomiese, sosiale, vakkundige en kulturele impak van die instelling se navorsing. 

In die voorwoord tot die publikasie, meld prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, dat die publikasie praktiese uitdrukking gee aan wat die Universiteit beplan het om op 'n wêreldwye skaal te doen – om by te dra tot die bevordering van die samelewing. “Dit is wat navorsing vir impak beteken – om ons navorsingskundigheid te gebruik om die samelewing te verbeter en om 'n positiewe bydrae tot mense se lewens te maak."

Volgens Maryke Hunter-Hüsselmann, Direkteur: Navorsingsinligting en -strategie en redakteur van die publikasie, gee dit ook erkenning aan US navorsers se toewyding en vasberadenheid, asook hul uitsonderlike bydraes tot die samelewing.

“Die verslag bied 'n oorsig van die bydraes deur hoogs talentvolle en toegewyde US-navorsers wat help om 'n samelewing te skep waar mense vreedsaam kan leef, waar goeie gesondheid, maatskaplike geregtigheid en menswaardigheid bevorder word, waar menslike kreatiwiteit en sosiale innovasies ontwikkel word, waar armoede en verwante toestande uitgewis word, waar volhoubare ontwikkelings die toekoms van ons natuurlike hulpbronne en die omgewing verseker, en waar tegnologiese ontwikkelings help om die lewens van mense en die samelewing te bevorder."

Weens die COVID-19-pandemie sal hierdie uitgawe tans net in elektroniese formaat beskikbaar wees.

Klik hier om die virtuele weergawe te lees.

Vir verdere inligting oor die publikasie, stuur 'n e-pos aan Maryke Hunter-Husselman by mh3@sun.ac.za