Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Graduati aangemoedig om terug te ploeg in SA
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 03/04/2020

​Graduati aan wie kwalifikasies by die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste virtuele plegtigheid toegeken is, is deur die US se Kanselier, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof regter Edwin Cameron, daaraan herinner dat die ongelooflike geleenthede wat hulle gekry het, ook met sekere verantwoordelikhede gepaard gaan.

Dit sluit in dat elkeen die gawes, kundigheid en geleenthede wat hulle deur hul studies aan die US ontvang het, in Suid-Afrika en die res van die wêreld moet terugploeg.

Die groep van 3 278 graduati het 'n voorafopgeneemde video waarin regter Cameron hul kwalifikasies in absentia toegeken het, gevolg. Weens die uitbreking van die COVID-19-virus in Suid-Afrika, is daar vroeër besluit om die Maart/April-gradeplegtighede as 'n voorsorgmaatreël af te stel.

Regter Cameron, prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en die US se Registrateur, dr Ronel Retief, het almal vroeër vandeesweek boodskappe tuis opgeneem in ooreenstemming met die algehele inperking.

Regter Cameron het aan die graduati gesê dit is 'n groot voorreg en ook 'n plesier om die voorsitterstoel by die virtuele seremonie in te neem.

“Ek het ook 'n graad van die Universiteit Stellenbosch ontvang – lank, lank gelede, langer as wat ek graag wil onthou. Dit is dus 'n groot kopskuif vir my om te dink dat ek vanmiddag, in my amptelike kapasiteit, die grade namens die Universiteit toeken – 'n besondere eer, aangesien dit my eerste amptelike plig as Kanselier is.

“Maar weens die COVID-19-ramp moet ons almal natuurlik groot kopskuiwe en aanpassings in ons persoonlike lewens, gesinslewe, ons nasionale lewe en internasionaal maak. Soos president Cyril Ramaphosa gesê het toe hy 'n paar weke gelede die nasionale ramptoestand afgekondig het: Ons is saam in hierdie situasie, en ons sal ook almal saam anderkant uitkom – en sterker."

Regter Cameron het die graduati-klas gelukgewens en gesê hul toewyding en harde werk word vandag erken.

“Laat my ook toe om jul onmiddellike en uitgebreide families wat julle ondersteun het, geluk te wens, asook die skenkers en vriende wat daar was vir julle."

Prof De Villiers het ook die graduati-klas gelukgewens en die nuwe alumni daaraan herinner dat die US altyd hul akademiese tuiste sal wees.

“Een keer 'n Matie, altyd 'n Matie!" het De Villiers gesê.

Hy het ook die graduati aangemoedig om die aanlyn alumni-platform, www.matiesconnect.com, te besoek wat alumni in staat stel om weer met vriende kontak te maak en geadverteerde poste, mentors en netwerkgeleenthede te vind.

“Ons ondervind almal nou hoe belangrik dit is om in aanraking met mekaar te bly. Bly asb in aanraking met jul alma mater."

Die US se Registrateur, dr Ronel Retief, het die graduati daaraan herinner dat hulle steeds die geleentheid sal hê om by die Desember-gradeplegtighede oor die verhoog te stap, indien die COVID-19-situasie dit toelaat. Weens die algehele inperking kan die Universiteit tans nie graduati se kwalifikasies en grade-dokumente aan hulle stuur nie. Retief het egter gesê hulle sal dit so gou as moontlik ontvang. 

Die virtuele toekenning van 3 278 grade, diplomas en sertifikate het die algehele aantal kwalifikasies wat die US vir die 2019-akademiese jaar toegeken het, op 9 120 te staan gebring. In vergelyking met die 2018-akademiese jaar, was daar weer in 2019 nie net 'n styging in die aantal graduati (9 120 teenoor 2018 se 9 007) nie, maar ook in die aantal doktorale grade wat toegeken is (361 teenoor 2018 se 308).

*Klik hier om na die virtuele toekenning van kwalifikasies te kyk. ​