Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sien om na jou geestesgesondheid gedurende COVID-19-krisis
Outeur: Ashraf Kagee
Gepubliseer: 01/04/2020

Die COVID-19-krisis het ons wêreld ontwrig en ons in 'n tyd van groot onsekerheid gedompel. In ʼn meningsartikel vir Health24, bied prof Ashraf Kagee van die Department Sielkunde enkele wenke wat ons kan help om geestelik gesond te bly gedurende die inperkingsperiode.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Sien om na jou geestesgesondheid gedurende COVID-19-krisis

Ashraf Kagee*

Die COVID-19-krisis het ons wêreld ontwrig en ons in 'n tyd van groot onsekerheid gedompel. Onder hierdie omstandighede is dit nogal algemeen vir mense om bekommerd, ontsteld en angstig te wees oor wat voorlê. Dit is egter geen rede om enigiemand wat in hierdie moeilike tye bang of angstig voel, as sielkundig abnormaal te beskou nie. Die algehele inperking gaan nog 'n ruk duur en omtrent almal sal in die een of ander stadium sommige van hierdie gevoelens ervaar.  

Die voortdurende stroom nuusberigte oor die COVID-19-pandemie kan egter tot 'n styging in angstigheidsvlakke lei. Indien dit met jou die geval is, moet jy die tyd wat jy spandeer om na die nuus te luister of te kyk, beperk. Natuurlik is dit nodig om die feite – nie gerugte, waninligting en fopnuus nie – in te win, en ons moet ons inligting slegs by betroubare bronne soek. Dit sal ons almal help om praktiese stappe te doen om te beplan en sal ons eie en ons geliefdes se geestesgesondheid beskerm.

Dit is ook 'n goeie tyd om ander te ondersteun, aangesien beide die persoon wat ondersteuning ontvang asook die helper by die verlening van hulp sal baat. Stel byvoorbeeld telefonies vas of alles in orde is by jou bure of mense in jou gemeenskap wat dalk hulp nodig het. Dit kan dalk nuttig wees om wanneer jy winkel toe gaan vir jou eie noodsaaklike aankope, ook ekstra kos te koop vir mense wat nie vermoënd is nie en wat die regering en nie-regeringsorganisasies dalk nie in hierdie moeilike tyd kan help nie.

Vir die meeste mense kan dit baie stresvol wees om vir drie weke in algehele inperking te leef. Dit kan help om struktuur aan jou dag te gee deur aktiwiteite soos skoolwerk en huiswerk te doen, van die huis af te werk indien jou werk dit toelaat, deur te oefen, stiltetyd te hou, TV te kyk en te lees, en deur tyd alleen en ook saam met ander deur te bring. Baie mense baat baie by gebed of meditasie.

Sosiale betrokkenheid is natuurlik baie belangrik. Mense is sosiale wesens, en dit is nodig om telefonies of elektronies in aanraking met vriende en familie te bly ten einde 'n gevoel van gemeenskaplikheid en samehorigheid in hierdie krisistyd te handhaaf.

Mense wat reeds aan 'n geestesgesondheidtoestand soos depressie of 'n angsversteuring ly, mag waarskynlik verergerde simptome ervaar. Daarom is dit baie belangrik dat hulle met 'n geestesgesondheidpraktisyn in aanraking bly. Baie sielkundiges, psigiaters en beraders sal in alle waarskynlikheid telefonies of per Skype beskikbaar wees vir hul pasiënte, wat 'n belangrike rol speel om mense te help om te voel hulle word ondersteun in hierdie moeilike tyd. Hulpbronne soos Lifeline kan nuttig wees vir ander wat nie onder die sorg van 'n geestesgesondheidpraktisyn is nie. Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (SADAG) beskik oor 'n aantal nuttige hulpbronne op sy webwerf, insluitende inligting oor toepassings wat mense kan help om hul stres en angs te verlig en verligting van sielkundige nood te kry. Positiewe sosiale en familie-ondersteuning in hierdie tyd kan mense ook minder eensaam en kwetsbaar laat voel. 

Ons leef in 'n tyd van tegnologie en dit is vir so baie mense gerieflik om teksboodskappe te stuur, of WhatsApp, Skype, e-pos, Instagram en Facebook te gebruik om bymekaar in te loer en in verbinding te bly. Vir diegene wat nie toegang tot sosiale media, die internet en data het nie, kan dit help om onder hierdie omstandighede met bure op 'n veilige afstand in verbinding te bly, briewe te skryf en 'n dagboek by te hou.

Hoewel 'n inligtingoorlading gevaarlik kan wees, is dit nodig om op hoogte te bly van wat aan die gang is en om duidelik te verstaan wat die minister van gesondheid en die president wil hê ons moet weet. Ons leef in 'n samelewing waar ons politieke leiers ons keer op keer al in die steek gelaat het en daarom is baie van ons skepties oor hulle. Dit is egter nou die tyd om na die owerheid te luister. Ons moet regtig gehoor gee aan die boodskap van die algehele inperking. Dit sal lewens red en help om te verseker dat ons gesondheidstelsel die aantal mense wat dienste benodig, sal kan hanteer.

Dit is ook belangrik om hulde te bring aan versorgers en gesondheidswerkers wat mense wat deur COVID-19 geraak word, ondersteun. Hierdie dapper mense speel 'n belangrike rol om lewens te red. Ons moet ook stigmatisering en diskriminasie vermy namate die aantal mense wat COVID-19 opdoen, begin toeneem. Ons moet eerder ons ondersteuning, deernis en welwillendheid gee. Ons moenie na mense wat die virus opgedoen het, as “slagoffers" of “COVID-19-gesinne" of “die besmettes" verwys nie. Hulle is “mense wat COVID-19 het", “mense wat vir COVID-19 behandel word" of “mense wat besig is om van COVID-19 te herstel".

Dit is moeilik om op die oomblik die positiewe dinge uit hierdie ervaring kan kom, in te sien. Dit is volgens alles wat ons hoor en sien, 'n baie stresvolle en moeilike tyd vir almal. Maar dalk is dit ook 'n geleentheid vir ons om ons gedeelde menswees te erken – die broosheid van die menslike toestand en die feit dat ons almal saam hierin is, ongeag hoe verdeeld ons samelewing ook al mag wees.

*Prof Ashraf Kagee is 'n uitgelese professor in die departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.