Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorser veg saam teen COVID-19
Outeur: René-Jean van der Berg [Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie]
Gepubliseer: 31/03/2020

'n Doktorale kandidaat van die Universiteit Stellenbosch (US), Caroline Pule, het by die voorste linies in die stryd teen die COVID-19-virus - wat reeds meer as 715 000 mense wêreldwyd aangetas en die dood van meer as 30 000 mense veroorsaak het - aangesluit.

Sy het onlangs as 'n vrywilliger by die CrowdFight COVID-19-inisiatief in Suid-Afrika aangesluit. Dit is 'n wêreldwye organisasie wat vrywilliger-wetenskaplikes van verskillende lande in staat stel om saam te werk deur te help waar hulle kan in hul onderskeie vakgebiede om die stryd teen die COVID-19-pandemie te ondersteun.

“Wat hierdie COVID-19-pandemie besig is om te doen, het my baie diep geraak en ek kon nie anders as om van droefheid te huil nie. My passie vir wêreldgesondheid, mediese navorsing en om te verseker dat ons 'n siektevrye land het, het my aangespoor om na vore te kom en op enige moontlike manier by te dra om die uitwerking van COVID-19 te verminder."

Caroline sê dit het vir haar as 'n mediese wetenskaplike met 'n agtergrond in middelweerstandige tuberkulose (TB) – een van die dodelikste oordraagbare siektes – en omdat sy in verskeie gesondheids- en wetenskaplike organisasies dien, sin gemaak om iets te doen, selfs al was dit net om haarself bereidwillig te verklaar om as vrywilliger ons land en die wêreld in die stryd teen COVID-19 te help.

In haar normale lewe sit Caroline op verskeie stoele – nie net in die laboratorium nie. Sy is nie net 'n TB-navorser by die Afdeling vir Molekulêre Biologie en Menslike Genetika by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe nie, maar deel ook deur uitreikprogramme haar passie vir die wetenskap met die jeug. Sy is ook die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse nasionale tak van die Organisasie vir Vroue in Wetenskap vir die ontwikkelende wêreld (OWSD SANC). Sy is ook die stigter van die Caroline Pule Wetenskap- en Geletterdheidstigting (CPSLF) wat verskeie inisiatiewe, insluitende boekskenkings, wetenskapklubs, 'n veldtog vir geletterdheidsentrums en 'n mentorprogram, bedryf.  

Meer oor CrowdFight COVID-19

Die CrowdFight COVID-19-inisiatief is daarop gemik om 'n wêreldwye span navorsers uit verskillende vakgebiede saam te bring om te help om die wetenskaplike en gesondheidseise van die COVID-19-virus te verstaan en te verlig. Die inisiatief wil graag meer mense in die mediese en gesondheidswetenskaplike professies betrokke kry en doen 'n beroep om mense wat belang stel om hul tyd en vaardighede beskikbaar te stel, om aan te sluit by https://crowdfightcovid19.org/.