Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vryheid om te leer
Outeur: Corporate Communication - Rene van der Berg
Gepubliseer: 16/01/2020

​Om saam met gevangenes in ʼn klaskamer by ʼn korrektiewe fasiliteit te sit en saam lesings by te woon was tot nou toe nog ongehoord vir studente van die Universiteit Stellenbosch (US). Maar hierdie transformerende studenteervaring is presies wat dr. Mary Nel, ʼn senior dosent by die Fakulteit Regsgeleerdheid, moontlik gemaak het met ʼn nuwe kortkursus wat sy by die Brandvlei- Korrektiewe Sentrum op Worcester van stapel gestuur het. 

Dié inisiatief, wat as die Ubuntu Leerkortkursus bekend staan, is die eindresultaat van ʼn sosiale impak-vennootskap tussen die US en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD). Dis ʼn interdissiplinêre kursus wat in Maart vanjaar begin het en 14 weke geduur het. Dit het studente van Stellenbosch en gevangenes in dié tronk een keer per week by die Brandvlei-gevangenis bymekaar gebring vir ʼn drie uur lange klas. Die doel van die kursus was om sosiale geregtigheid te bevorder en om leer te vermenslik deur samewerking, gemeenskapsbou en bande te skep. 

“Ons is dikwels bang vir, en haat soms selfs, vreemdelinge. In Suid-Afrika het baie van ons beperkte geleenthede om buite ons gemaksone te beweeg om in aanraking te kom met mense wat uit heeltemal ander omstandighede kom en ander lewenservaring as ons het, en by hulle te leer. Daarom is ons geneig om mense buite ons gevestigde groepe as 'Die Ander' te beskou, en dikwels verdierlik ons hulle of maak ons hulle selfs as demone uit," sê Mary. Sy voeg by dat dit beslis die geval is met oortreders in korrektiewe sentrums en selfs nadat hulle vrygelaat is.

STEREOTIPES

Mary meen onkundige stereotipering keer dat vrygelate gevangenes toegang tot verdere onderrig en opleiding kry, om werk te vind en om weer suksesvol in die samelewing opgeneem te word om stabiele, produktiewe en vervullende lewens te lei. Dit maak dit onvermydelik dat die persoon weer ʼn misdaad gaan pleeg. “Om studente by ʼn gevangenis en inwonende universiteitsstudente in dieselfde klaskamer te hê waar hulle saam met en van mekaar leer, daag die vernietigende stereotipes uit van die bedreigende, onvoorspelbare gevaarlike misdadiger en die verwaande kampusstudent wat in ʼn invoortoring woon. “Ons moet die persepsie oor diegene wat agter tralies is verander en maniere vind om die skeidsmure tussen die gevangenis en die gemeenskap af te breek – in ons spesifieke konteks tussen die gevangenis en die universiteit. Dis presies die oogmerk van die Ubuntu Leer-kortkursus." 

In die kursus het die onderwerp “Is ek omdat ons is? Bestudeer onsself en gemeenskappe" deur die vakgebiede van die regte, literatuur, geskiedenis en ekonomie ondersoek. Mary het die program op soortgelyke gevangenisopleidingsinisiatiewe van kolleges in die Verenigde Koninkryk (“Learning Together" by Cambridge-universiteit) en Amerika (“Prisonto-College Pipeline" by die John Jay-kollege vir Kriminele Geregtigheid, New York) gegrond. Die ander US-akademici wat saam met Mary as kursusfasiliteerders opgetree het, was drr. Chet Fransch van die Departement Geskiedenis, Daniel Roux van die Departement Engels en Debra Shepherd van die Departement Ekonomie.

GETRANSFORMEERD

 “ʼn Mens is geneig om jouself en jou rol in die samelewing te bevraagteken – veral hier," sê die 24-jarige Awande Mshotana, een van die kursusgangers van Brandvlei. “Deur ons talle intensiewe besprekings in die klas het ons nie net meer oor verskeie akademiese vakrigtings geleer en begin om dit te verstaan nie, maar ook mekaar leer ken en mekaar wedersyds begin respekteer." 

Awande, wat reeds vyf jaar van ʼn 15-jaar vonnis uitgedien het, is met sy LLB-studies deur Unisa besig. “Aan die begin het ons almal getwyfel of ons by die US-studente sou kon byhou. En hier is ons vandag! Die kursus het my gehelp om ʼn ander siening te kry van ʼn groep jongmense wat anders as ek grootgeword het," het Awande by die sertifikaatoorhandiging in Oktober gesê. Caitlin Lee Kleynhans, studente-koördineeer van die Ubuntu Leer-kursus, is al betrokke sedert die eerste dinkskrum om die formaat van die klasse en watter temas behandel sal word te bepaal. “My ondervinding hiervan het my laat besluit om ʼn loopbaan te volg in die hervorming en opvoeding van gevangenes." 

Sy meen die kursus is vir die studente binne en buite die gevangenis ʼn lewensveranderde ervaring – die US-studente is toegewyd om  verandering te bewerkstellig oor hoe misdaad hanteer en gevangenes behandel word, terwyl gevangenes ook agente vir verandering in die land wil word. “Ek kan nie wag om in die volgende jare nog meer studente dieselfde geleentheid te bied nie," sê Caitlin.

LEWENSVERANDEREND

Kelly-Robyn Morey, ʼn US-dramastudent, sê: “Voor ons eerste klas was ek nie seker wat op ons sou wag nie, maar indien ons onsself toelaat om by mekaar te leer, word ons getransformeer. Ek het geleer om my medestudente – dié met die oranje gevangenisoorpakke aan – te respekteer en te verstaan." Vir Sejal Debideen was dit eweneens ʼn lewensveranderde ervaring. “Die beste deel was om die gevangenes te leer ken vir wie hulle is. Hulle is net mense wat hul tyd in ʼn korrektiewe fasiliteit gebruik om beter te word en produktiewe lede van die samelewing te word. Hierdie inisiatief gaan oor menslikheid, en ek sal enige tyd weer deel daarvan wees." Mary glo die Ubuntu Leer-kortkursus sal in 2020 voortgesit word. 

“Ons het reeds saam met die kursusgangers begin beplan hoe ons aanstaande jaar se kursus wil hê. Wat uitgekom het, is dat ons ons denkpatrone wil verander en ons vooroordele verder wil uitdaag – veral die stereotipes wat met geslag verband hou en tot geslagsgebaseerde geweld bydra. “Ons wil ook ʼn onderdeel byvoeg wat op die kunste en kunsuitdrukking fokus, en ons wil die kursus uitbrei om meer kursusgangers in te sluit. Ons hoop vir die toekoms is om voort te gaan om die skeidsmure tussen die gevangenis en die US af te breek. “Ons wil in staat wees om akademiese en maatskaplike steun aan ons gevonnisde graduandi te bied wanneer hulle vrygelaat word – hopelik ook om hulle te help om verder aan die US te studeer."

 Meer oor kortkursusse

Die Afdeling Kortkursusse is reeds in Januarie 2007 by die Universiteit Stellenbosch (US) gevestig met die doel om namens die US die prosesse rakende kortkursusse te koördineer, te standaardiseer en te ondersteun. Die kortkursusse is ʼn onderrigaktiwiteit wat in die naam van die US aangebied word en dit voldoen aan die gehalteversekeringsvereistes van die Universiteit, asook owerheids- en reguleringsinstellings, soos die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 

Die kortkursusse word in verskillende velde aangebied, waaronder bestuursontwikkeling, gemeenskapsinteraksie en ontwikkeling, publieke administrasie, opvoedkunde en die regte. Die verskillende US-departemente in hierdie velde bestuur die kortkursusse, en al die kursusse word deur die US geakkrediteer met behulp van die gehalteversekeringstelsels en -meganismes wat deur die Raad op Hoër Onderwys goedgekeur is. Die openbare én privaatsektor kan baat by die kursusse.

PHOTO (page 14): Caitlin Lee Kleynhans, KellyRobyn Morey and Sejal Debideen who say that their experience of the Ubuntu Learning Short Course was insightful and enriching.​

Lees meer in die Matieland