Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Du Plessis vereer vir spesialiskennis in gevorderde vervaardiging
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 13/01/2020

'n Spesialis in 3D tegnologie by die US, Prof Anton du Plessis, is onlangs deur die Departement van Handel en Nywerheid vereer vir sy bydraes tot Suid-Afrika se toetrede tot die Vierde Industriële Revolusie.

Die Africa Advanced Manufacturing Innovation Awards, wat deel vorm van die jaarlikse African Advanced Manufacturing and Composities Show, bevorder en beloon innovasie in die gevorderde vervaardiging en samestellingsektor, en sluit alle vorme van gevorderde vervaardigingstegnologieë in, waaronder 3D-drukwerk, robotika, kunsmatige intelligensie en outomatisering.

Gedurende die toekenningseremonie op 27 November 2019 in Port Elizabeth, het Prof Du Plessis die goue toekenning in die kategorie “Scholarly Impact in Advanced Manufacturing" ontvang. Volgens 'n mediaverklaring van die DHN was die hoë standaard van inskrywings vir die toekennings 'n goeie aanduiding van Suid-Afrika se vermoë om met 4ir tegnologieë te werk en uit te blink.

Sy navorsing fokus op metaal additiewe vervaardiging (metaal 3D-drukwerk) en die strukturele integriteit daarvan. Hy verduidelik: “Ek fokus op nuwe toetsmetodes en verbetering van prosesse om hoë gehalte onderdele te produseer. Dit is belangrik om die effek van verskeie tipes van defekte te verstaan ten einde die kwaliteit en meganiese werking van die parte te verbeter."

Hy ondersoek ook nuwe konsepontwerpe vir additiewe vervaardiging, veral die produksie van hoogs komplekse dele: “Ons kan by die natuur leer om unieke nuwe material te ontwikkel. In ons groep ondersoek ons natuurlike strukture en probeer om ontwerpreëls te identifiseer wat in praktiese ingenieurstoepassings gebruik kan word.

Oor die afgelope drie jaar het hy al meer as 30 artikels in vervaardigingsverwante vaktydskrifte gepubliseer, waaronder 'n reeks van hersieningsartikels.

“Ek is opgewonde oor die rol wat additiewe vervaardiging in die vierde industriële revolusie gaan speel, en hoop om 'n verskil te maak in dié sektor," sluit hy af.

Vir meer oor Prof Du Plessis se navorsingsgroep, 3D Innovation, klik hier http://blogs.sun.ac.za/duplessis

Op die foto, Prof Anton du Plessis van die US ontvang sy toekenning van Irish Tshifhiwa Bologo, Hoof Operasionele Beampte van Spesiale Ekonomiese Sones en Ekonomiese Transformasie in die Departement van Handel en Nywerheid op 27 November 2019 in Port Elizabeth.