Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS bied ’n tweede kans om drome te bewaarheid
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 11/12/2019

​'n Tweede kans, gekoppel aan harde werk en die vasberadenheid om sukses te behaal, het daartoe gelei dat Phumeza Gova, 'n begunstigde van die SciMathUS-program, twee keer gedurende die Universiteit Stellenbosch se Desember 2019-gradeplegtigheidsweek oor die verhoog sal stap.

Gova het by die Fakulteit Natuurwetenskappe se gradeplegtigheid haar BSc-graad in Geologie ontvang en vanaand ontvang sy haar Nagraadse Sertifikaat in Opvoeding (PGCE) by die Fakulteit Opvoeding se gradeplegtigheid.

Gova is een van talle studente wat 'n tweede kans gegun is deur die SciMathUS-program. Dit is 'n inisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) wat aan leerders wat reeds graad 12 met 'n gemiddelde van ten minste 60% geslaag het, maar wat nie vir toelating tot hoër onderwys gekwalifiseer het nie, nog 'n geleentheid bied om hul Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae in spesifieke vakke te verbeter ten einde weer vir universiteitsprogramme te kan aansoek doen.

“Ná een jaar by SciMathUs was ek onkeerbaar in Wiskunde en Fisiese Wetenskap, maar ek het gesukkel met akademiese geletterdheid – en het twee keer gedruip. Opgee was egter nie 'n opsie nie, om dat ek die enigste een in my familie is wat die geleentheid gekry het universiteit toe te gaan.

“Ek het in 2013 en weer in 2014 gedruip, maar snaaks genoeg was daar steeds mense wat in my geglo het – mense wat wou sien dat ek sukses behaal," onthou Gova.

Een van hierdie mense was Nokwanda Siyengo, Direkteur by SciMathUS, wat volgens Gova in haar bly glo het, selfs toe sy nie in haarself geglo het nie.

Selfs nadat Gova aanbeweeg het om haar studies aan die Fakulteit Natuurwetenskappe voort te sit, het sy steeds in voeling met SciMathUS gebly en in 2019 'n mentor geword.

“Omdat ek deel van die SciMathUS-program was, het ek geweet het waarmee studente in die program sukkel," sê Gova.

Die gegradueerde beplan nou om 'n werk te kry en vir haar familie te sorg. “Ek wil my ma rede gee om trots te wees; sy was baie geduldig met my en het in my bly glo, selfs toe ek gedruip het."