Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vele musikante en talente... Ons skep ‘n orkes wat groter is as die somtotaal van sy dele
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 10/12/2019

‘n Groot universiteit, gedrewe deur navorsing, maak staat op die samewerking van kollegas en studente binne die organisasie, asook plaaslike en internasionale belanghebbendes. Sommige bestuurskole gebruik die analogie van simfonieorkeste om die uitdagings en prestasies van hierdie samewerking uit te beeld. Ons almal kan die majesteit van ‘n simfonieorkes en ‘n klassieke opvoering waardeer. Die akkuraatheid, presiese tydsberekening en intonasie kom bymekaar in ‘n groot golf van musiek wat ons inspireer en by tye selfs oorweldig. 

orchestra pic.jpg

Die Verantwoordelikheidsentrum (VS) van Bedryf en Finansies, wat die afdelings van Finansies, Fasiliteitsbestuur, Inligtingstegnologie, Innovus en Maties Sport insluit, het omvermoeid gewerk om van hierdie Universiteit 'n nog beter plek te maak.

Konstruksiewerk op ons vyf kampusse ter waarde van R2,2 miljard is aan die gang, 'n Universiteit Tegnologie Fonds is onder leiding van Innovus in die lewe geroep, IT se fokus is ingestel op 'n optimale dienslewerings- en bestuursmodel, Maties het die Universiteitsbeker gewen en ons is op pad wolke toe met ons finansiële en administratiewe stelsels.

Ons maak gereed vir die volgende generasie se leer-ervaring

"Imagination creates reality." - Richard Wagner:

Terwyl daar steeds hyskrane, stof en geraas op ons kampusse is waar ons in 2020 weer die nuwe eerstejaars gaan verwelkom, maak ons ongelooflike vordering om groter en beter spasies te ontwikkel vir navorsing, studies, ontspanning en verblyf tot die voordeel van die hele US-gemeenskap.

Die Kampus Hernuwingsprojek se waarde beloop R4,2 miljard, waarvan R1,4 miljard op die oomblik in konstruksie is – so ook kapitale projekte van R800 miljoen. Vanjaar is 26 konstruksieprojekte voltooi en 74 nuwe projekte is begin. Ongeveer 47 projekte sal volgende jaar voltooi wees, wat insluit: die Oorvloei-fasiliteit (R128m) en Silvertrees parkeerprojek (R37m), 'n gedeelte van die Biomediese Navorsingsinstituut-gebou (R974m), wat ons eerste 4-ster gradering “groen"-gebou gaan wees, die GC Cillie gebou opgradering (R17m) en die opgradering van die Meganiese en Megatroniese geboue (R109m) as deel van die groter Ingenieurskampus Hernuwingsprojek (R729m). Ons sien ook uit na die voltooiing van die Jan Mouton leersentrum en opgradering van Huis ten Bosch ná die verwoestende brand vroeër vanjaar.

Tussen al hierdie konstruksieaktiwiteite heen beplan Fasiliteitsbestuur om 'n interaktiewe kampuskaart – die eerste van sy soort – in die nuwe jaar aan studente bekend te stel. Hierdie is 'n toepassing wat studente gaan help om meer doeltreffend hul weë op kampus te vind.

Fasiliteitsbestuur se implementering van 'n gryswaterstelsel by koshuise op die kampus vroeër vanjaar het reeds 'n 35% afname in watergebruik tot gevolg gehad. Daar is ook 'n afname in elektrisiteit wat nodig is om warm water vir storte op te wek.

Dankie aan al die brand warriors van Fasiliteitsbestuur wat projekte op tyd en binne begroting voltooi. 

SUNFin skuif wolke toe

Ter ondersteuning van die US se strategiese tema van “'n florerende Universiteit van Stellenbosch", is die SUNFin-span besig om die ou tegnologie vaarwel te roep en die kragtige geleenthede wat opgesluit lê in die nuwe Oracle Cloud Financials (OCF) ten volle aan gryp. Sedert April vanjaar werk ons Finansiële Afdeling se personeel hard om die projek van die grond af te kry en ons is dankbaar vir kollegas in die fakulteite en die PASS afdelings wat saam met hulle op hierdie belangrike projek werk.

Daar is 'n magdom finansiële data in hierdie projek betrokke wat ons na die OCF moet oorplaas.

Tussen 1 Januarie en 31 Oktober vanjaar is daar meer as 2,3 grootboek-inskrywings gemaak, 167 408 bestellings ter waarde van R3,2 miljard is geplaas en 69 663 betalings ter waarde van R3,2 miljoen is gemaak. Daar is op die oomblik 27 759 verskillende kostesentrums op ons finansiële stelsel en 869 366 koste sentrum en rekening-kombinasies met inskrywings. Teen Januarie 2021 moet ons al hierdie data in verskillende fases na OCF oorplaas.​

Sunfin in syfers.jpg

Wel gedaan aan ons finansiële span dat julle die tweede mylpaal, die beoordeling van OCF Iterasie 1 voltooi het en stewig op koers is met die projek.

Beste LaunchLab in Afrika

Vir die tweede jaar in 'n ry is die Nedbank US LaunchLab vereer en bekroon as die top Universiteit-inkubator in Afrika. Die toekenning is gemaak deur UBI Global, 'n Stockholm-gebaseerde intelligensiemaatskappy.

Twee van Innovus se maatskappye wat in 2018 geïnkorporeer is – CubeSpace en GeoSmart – het vanjaar ná hulle finansiële jaar vir die eerste keer dividende betaal. Nog 'n Innovus-gebore maatskappy, Stellenbosch Nanofibre Company (SNC), se produk (Artis Phantom Cleansing Silks; 'n 3-in-1 gesigwasmiddel) is benoem as een van Time Magazine se 100 beste uitvindings vir 2019.


"There was no one near to confuse me, so I was forced to become original."

 - Joseph Haydn

Innovus en die indrukwekkende LaunchLab se bydrae tot die skep van 'n kennisstreek binne die groter Stellenbosch is noemenswaardig. Geen wonder dat hulle instrumenteel was in die stig van die Stellenbosch Network, 'n kruis-sektorale en interdissiplinêre lidmaatskap platform wat ten doel het om mense aan mekaar voor te stel, idees uit te ruil en samewerking en vennootskappe aan te wakker.

Innovus het ook die kalklig gesteel toe hulle 'n model ontwerp het om meer as R150 miljoen in te samel vir die eerste fase van die University Technology Fund (UTF) van die SA SME fonds. Die UTF sal in vroeëfase-ontwikkelingsprojekte, asook vroeëfase waagkapitaalfase-projekte belê. Die stigtersuniversiteite is die US en die Universiteit van Kaapstad.

SUNOnline is lewendig

SUNOnline, die US se nuwe kortkursus-aanlynplatform is vanjaar van stapel gestuur en is gereed om 'n naatlose leerervaring aan studente te bied uit die meer as 540 beskikbare kursusse. Vanaf volgende jaar bied die US alle kortkursusse op die nuwe platform aan. Dit was nie 'n maklike projek nie, en ons is baie dankbaar vir die vele kollegas wat hiervan 'n suksesverhaal maak.

Nuwe sentrale geleentheids- en konferensiekantoor open gou

Terwyl ons nog die innovasie en entrepreneurskap deuntjie speel, het die Innovus en SUNCOM spanne 'n suksesvolle loodsprojek van stapel gestuur om die Adam Small-teaterkompleks in samewerking met die dramafakulteit, uit te verhuur. Sedert hulle in Junie verlede jaar by hierdie funksie betrokke geraak het, is sowat R2,7 miljoen aan huurinkomste vir die US ingesamel. Hierdie loodsprojek was die eerste stap om korttermynbesprekings van fasiliteite op kampus deur middel van 'n geleentheids- en konferensiekantoor te koördineer.  Die nuwe eenheid word vroeg in 2020 van stapel gestuur en sal uitgebrei word om ook die Konservatorium, Sport en verfilmings as deel van die projek se tweede fase in te sluit.

As deel van die konferensie-aktiwiteite van hierdie nuwe eenheid, sal hulle volgende jaar ook 'n aantal internasionale konferensies aanbied waarvoor hulle reeds suksesvol aansoek gedoen het. Dit sluit in die XI International Symposium on Grapevine Physiology & Biotechnology en die gesamentlike ASM – MYTOX-SOUTH 2020, albei in samewerking met die US se Landbouwetenskappe-fakulteit, Wesgro en SA Toerisme. Hierdie is net die begin, so hou gerus hierdie spasie dop – daar kom nog vele.

Die IT-draad vloei deur

Mens kan nie anders nie as om aan IT te dink as een groot ysberg waar die meeste van die werk onder die oppervlakte gedoen word. Van nuwe finansiële en administratiewe stelselontwikkelings tot nuutgeboude fasiliteite, van die skep van innoverende produkte tot die verskaffing van platforms vir hybrid-studies, daar is 'n lyn wat mens kan deurtrek vanaf IT wat belanghebbendes bemagtig met inligtingstegnologiese stelsels, dienste en infrastruktuur.

Die IT-afdeling het die afgelope jaar gegroei tot 'n volwasse, bekwame eenheid wat saam met hul vennote uitstekende inligtingstegnologiese ondersteuningsdienste kon lewer. Die afdeling het 'n oorsigproses vir diensleweringsmodelle suksesvol voltooi wat uitgeloop het op 'n nuwe model vir dienslewering wat oor 'n tydperk geïmplementeer gaan word in die vorm van vier implementeringsprojekte.

Vir elke hulptoonbank-navraag wat suksesvol opgelos is, tot die installering van 'n geïntegreerde netwerk in 'n nuutgeboude fasiliteit, sê ek dankie aan die IT-span vir nog 'n jaar van naatlose dienslewering oor fakulteite, sake-eenhede en die groter  US-studentegemeenskap heen.

#Inetkey gaan val

“I said to the orchestra, 'If there are discords we must always play them as beautifully as we know how." – Herbert von Karajan

Volgende jaar gaan ons die US se berugte Inetkey, wat dien as 'n hekwagter om individuele internetgebruik dop te hou en die insameling van fondse te vergemaklik sodat die diens aan personeel en studente die diens gelewer kan word, teen Junie 2020 uitfaseer. Vanaf Januarie volgende jaar sal Inetkey nie meer vir fakturering gebruik word nie, maar slegs vir die insameling van data en vir tegniese doeleindes. Gebruikers sal nie meer via Inetkey vir internet betaal nie. Vir die moontlike skerp toename in internetgebruik, het die IT-afdeling reëlings getref om die beskikbare bandwydte aansienlik te verhoog, met moontlike toekomstige toevoegings soos daar 'n behoefte ontstaan.

Sport ambassadeurs

Vroeër vanjaar was die US die trotse gasheer van die 2019 University Sports South Africa Spele (USSA) waar ons atlete onder die sterre van hierdie jaarlikse hoogtepunt op die Universiteit se sportkalender was. Vanjaar het Maties ook die Universiteitsbeker vir die tweede jaar in 'n ry gewen.

Maties Sport se hoëprestasie-atlete het 'n eerstejaar-deurvloeikoers van 85% behaal. Altesame 31 van die 50 atlete wat vanjaar gegradueer het, het ingeskryf vir nagraadse programme.

Die afdeling bestuur dertig sportkodes wat as uitstekende ambassadeurs vir die Universiteit dien, en bied geleenthede vir ontspannings-, mededingende en hoëprestasie-deelname, asook navorsings- en sosiale impakaktiwiteite. Dankie, Maties Sport, dat julle hierdie ensemble fiks en gesond hou.

Die dirigent Bernard Arnault het gesê: “From time to time, the Vienna Philharmonic could play without a conductor because they are so good". Ek glo die personeel in ons VS kan kers vashou by enige orkes in die wêreld. Ek sien uit na nog 'n jaar waar ons nog beter en meer harmonieus sal saamwerk.

Baie dankie vir julle harde werk hierdie jaar en die beste wense vir die Feestyd en 'n gelukkige en voorspoedige 2020.


Stan du Plessis

Bedryfshoof

 

 

Gustavo pic.pngGustavo Dudamel:  “My education was sitting in an orchestra.  And what a beautiful model for a society.  Everyone together, listening to each other, with one goal.  This is the best way I can think of to build a better world.