Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB en ons voorsate
Outeur: Engela Duvenhage
Gepubliseer: 23/03/2016

Nog 'n legkaart-stukkie het in plek geval oor die rol wat voorsate by die vatbaarheid vir tuberkulose (TB) in die Suid-Afrikaanse bruin bevolking speel.

Dié bevolking stam af van kliektaal- en Bantoesprekers in Afrika, Europeërs, Suid- Asiërs and Oos-Asiërs wat 'n paar generasies gelede met mekaar in kontak gekom het.

"Sulke vermenging is 'n welbekende verwarrende faktor in genetiese assosiasiestudies en behoort by statistiese modelle in berekening gebring te word," verduidelik dr Michelle Daya, wat haar PhD in biomediese wetenskappe onder toesig van proff Eileen Hoal en Lize van der Merwe voltooi het.

Wanneer genoom-wye data nie beskikbaar is nie, gebruik navorsers inligtingsmerkers van voorsate ('ancestry informative markers' of AIM) om vermenging in ag te neem. Deur gebruik te maak van die groot genotipiese dataversamelings wat oor baie jare deur die DWT /NNS Sentrum vir Biomediese Tuberkulosenavorsing versamel is, het Daya 'n klompie AIM's vir spesifiek die Suid-Afrikaanse bruin bevolking ontwikkel. Dit maak dit makliker om die genetiese invloede van die vyf voorsaat-bronbevolkings te onderskei.

Volgens Daya is hierdie metode kostedoeltreffend en sal dit navorsers wat TB en ander siektes in hierdie bevolking bestudeer hopelik help om die nodige aanpassings vir herkoms te maak met die wete dat hul bevindings korrek is.

'n Verdere vermengingsuiteensettingstudie het genetiese areas geïdentifiseer waar daar onder voorsate 'n beduidende verskil was tussen TB-gevalle en gesonde kontroles. Immuunverwante gene sowel as gene wat met bloedarmoede, glukose-metabolisme en ontwikkelende diabetes geassosieer word, word in hierdie areas aangetref. "Yster is noodsaaklik vir die groei en metabolisme van Mycobacterium Tuberculosis (wat TB veroorsaak), en diabetes is 'n risikofaktor vir die ontwikkeling van TB ," verduidelik Daya. "Die vermengingsuiteensetting-studie kan moontlik die rigting aandui waarin 'n ondersoek moet plaasvind oor die wyse waarop hierdie faktore die ontwikkeling van TB beïnvloed, gebaseer op die genetiese faktore wat daarmee verband hou."

Navorsers voer aan dat sekere mense se vatbaarheid vir terugkerende TB –infeksies nie bloot oorkom kan word deur die gebruik van huidige beskikbare middels en inentings nie. "Insig in die genetiese meganismes wat agter hierdie vatbaarheid lê, is belangrik sodat effektiewe middels en vaksiene ontwikkel kan word vir die Suid-Afrikaanse bruin gemeenskap en ander gemeenskappe wêreldwyd wat geraak word," glo Daya.

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se jaarlikse publikasie verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.