Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnodiging vir aansoeke: Nagraadse Studentegemeenskap – 2020

​Die Universiteit Stellenbosch Museum wag aansoeke in van nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch vir deelname aan 'n reeks gefasiliteerde virtuele gesprekke met studente aan die Michigan State University in die Verenigde State.

Deelnemers aan die virtuele studentedialoë kry ook 'n eenmalige geleentheid om vir twee weke as afgestudeerde interne aan die Michigan State University deur te bring. Die doel van die internskap van twee weke is om studente diensleergeleenthede in die buiteland te bied.

Die aanlyn studentegesprekke is bedoel om 'n forum vir die deel van ervarings te vestig, kruiskulturele begrip te bevorder en die oplossing van werklike en verbeelde verskille deur middel van dialoog te bevorder. Die opkoms van wêreldwye maatskaplike bewegings soos #Black Lives Matter het hierdie globale gesprek dringender as ooit tevore gemaak.

Die Graduate Student Fellowship is deel van die Ubuntu Dialoë, 'n breër vennootskapprojek tussen die Universiteit Stellenbosch Museum en die African Studies Centre aan die Michigan State University. Hierdie driejaarvennootskap word deur die Andrew W. Mellon-stigting befonds.

Die virtuele gesprekke bring Suid-Afrikaanse en Amerikaanse studente uit histories gemarginaliseerde agtergronde bymekaar. Die dialoë fokus op kontemporêre kwessies waarmee jongmense oor die Atlantiese Oseaan mee te kampe het, byvoorbeeld sistemiese rassisme en voortdurende bewegings vir dekolonisering. Dit bied aan deelnemers die geleentheid om oor nasionale, ras-,  taal- en ander grense en verskille heen te netwerk en kwessies te herbedink.

Alle aansoeke moet teen 31 Augustus 2020 aan Natasha Coltman by ncoltman@sun.ac.za gestuur word.

Aansoeke

• Honneurs-, magister- en/of doktorale studente wat aan die Universiteit Stellenbosch en die Michigan State University studeer, kom in aanmerking vir die program. Die beurs is interdissiplinêr en is oop vir studente uit alle velde in die sosiale wetenskappe, die regte, ingenieurswese, geneeskunde en die ekonomie.

• Ons moedig aansoekers uit voorheen benadeelde agtergronde sterk aan om aansoek te doen.

• Veral studente wat nog nooit buite die grense van Suid-Afrika of die VS gereis het nie, word aangemoedig om aansoek te doen.

• Studente moet vir die jaar 2021 aan die Universiteit Stellenbosch of die Michigan State University ingeskryf wees om te kwalifiseer.

• Daar word van studente verwag om 'n kort voorstel van 500 woorde in te dien wat hul begrip van ubuntu beklemtoon. Is die konsep relevant in die huidige tydvak of nie? Is daar alternatiewe vir ubuntu?

• Studente moet ook 'n gedetailleerde curriculum vitae indien

• 'n Opgesomde biografie van nie korter as 'n halwe bladsy en nie langer as 'n bladsy nie, tesame met 'n hoëresolusiefoto van hulself, moet suksesvolle kandidate se aansoeke vergesel. Daar word ook van die kandidate verwag om binne drie weke nadat hulle tot die program toegelaat is, vir 'n VS paspoort aansoek te doen.

Finansiële bystand met paspoorte is beskikbaar.​