Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MCom (Rekenaarouditering)

Tegnologie beïnvloed alle aspekte van ons daaglikse lewens. Dit transformeer die sakeomgewing en het 'n wesenlike uitwerking op die werk van beide ouditeurs en geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika.​

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) is dit juis nou van kritieke belang om te verseker dat die rol wat geoktrooieerde rekenmeesters vervul, relevant bly. Terwyl tegnologie voortdurend verbeter en al hoe belangriker word in die tipiese rekeningkundige omgewing, skep dit uitdagings én geleenthede vir huidige en toekomstige SAIGR-lede en -genote.

Dit het aanleiding daartoe gegee dat SAIGR 'n projek, CA2025, van stapel gestuur het. Die doel hiervan is om formeel ondersoek in te stel na die bevoegdhede, waaronder kennis, vaardighede en beskouings, waaroor 'n GR(SA) in die werksomgewing van die toekoms moet beskik.

Prof Riaan Rudman van die US Skool vir Rekeningkunde en programleier van die MCom-graad in Rekenaarouditering, meen die wêreld beweeg van ouditering na 'n 'gerusstellingsera' (assurance era) met groter klem op inligtingstegnologie.  “Ouditeurs en geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika moet hul vaardighede verbeter met die oog op dié era."

“Die graad MCom (Rekenaarouditering) by US is spesifiek daarop gemik om die vaardigheidsgaping te oorbring wat deur die huidige tegnologiese evolusie veroorsaak word. Studente word blootgestel aan tegniese aspekte in moderne inligtingstegnologie-omgewings om hulle in staat te stel om rekenaarsekerheids- en -gerusstellingsbeginsels in die praktyk toe te pas, en hulle met konseptuele vaardighede toe te rus om toekomstige tegnologieё en kwessies te hanteer.

“Die kursusinhoud weerspieёl onlangse veranderings in die sake- en tegnologie-omgewings, byvoorbeeld King IV wat IT-beheer vereis om strategiese belyning van sake- en inligtingstegnologie, waardetoevoeging en risikobestuur te verseker," het prof Rudman gesê.

Die deeltydse program bestaan uit 'n gedoseerde komponent in die eerste studiejaar, asook die skryf van 'n kort proefskrif in die tweede jaar. Alle lesings is verpligtend en word een keer per maand aangebied.

  • Die volgende MCom-program in Rekenaarouditering begin in Februarie 2020 indien daar voldoende gekwalifiseerde aansoeke ontvang word. Vir verdere inligting, kliek hier of kontak prof Riaan Rudman per e-pos of tel 021 808 2701.