Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Essensiële olies in kalwers se dieet kan E. coli onder beheer hou
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/06/2023

Monensin is ʼn antimikrobiale middel wat gebruik kan word om mikro-organismes dood te maak of die groei daarvan te voorkom. Monensin word dikwels in die dieet van kalwers op suiwelplase ingesluit om dermkanaal infeksies te voorkom wat deur parasiete veroorsaak word, asook om kalf groei te bevorder. Die insluiting van monensin teen sub-terapeutiese dosisse kan egter lei tot die ontwikkeling van weerstandigheid in Escherichia coli bakterie (E. coli), wat kalwers siek maak en ook gesondheidsimplikasies vir mense inhou.

Melkboere moet dit derhalwe oorweeg om eerder ʼn mengsel van verskillende essensiële olies in kalf diëte in te sluit, sê Michelle Gouws, wat onlangs haar Meestersgraad in Veekunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Haar studie was een van die top tien plakkaat aanbiedinge by die International Association for Food Protection se Europese simposium, wat van 3-5 Mei 2023 in Aberdeen in Skotland gehou is.  

Gouws, wat tans vir 'n PhD in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die US ingeskryf is, wou vasstel of ʼn mengsel van essensiële olies die meer konvensionele monensin in die dieet van ongespeende kalwers kan vervang. Volgens haar het vorige studies getoon dat essensiële olies antimikrobiese en immuun-versterkende eienskappe het en algemene gesondheidsvoordele vir ongesoogde kalwers, pluimvee, varke en beeste inhou.

As deel van haar studie het Gouws proewe op twee verskillende plase in die Wes-Kaap gedoen, waar sy die groei, algemene gesondheid en vordering van die kalwers bestudeer het om die voordele te bepaal van ʼn diëte wat of monensin of ʼn mengsel van essensiële olies (karvakrol, kapsaïsien en sinnamaldehied) bevat het. Die kalwers is ewekansig aan een van drie behandelingsgroepe toegewys – ʼn kontrole groep; een wat ʼn vloeistofdieet met ʼn knoffelekstrak en ʼn vastekosdieet met ʼn mengsel van essensiële olies gevoer is; en een groep wat 'n kalf dieet met net monensin as aanvulling, gekry het. Sy het ook antibiotiese vatbaarheid vir E. coli en Salmonella getoets, wat uit die mis van die kalwers geïsoleer is.

Gouws sê sy het nie enige verskil in die algehele groei, gesondheid en rumen-ontwikkeling (een van die voormaag kompartemente) tussen die drie groepe waargeneem nie, maar sy het wel gevind dat monensin en essensiële olies ʼn invloed op die vlak van antibiotikum-weerstandige E. coli gehad het.

“Die groei- en gesondheidsvoordele van ʼn dieet met óf monensin óf essensiële olies was soortgelyk, maar ʼn dieet met monensin het die weerstandigheid van E. coli vir sommige antibiotikas verhoog.

“Om ʼn toename in multimiddel-weerstandige E. coli op plase te voorkom, stel hierdie studie voor dat melkboere die voer van monensin aan kalwers moet vermy en eerder essensiële olie kombinasies by kalfdiëte moet insluit."

Gouws benadruk egter die noodsaaklikheid van opvolg studies, wat bykomende parameters en verskillende produksie omgewings insluit, om die voordele van ʼn dieet wat essensiële oliesa insluit, vas te stel.

Sy sê die misbruik en oormatige gebruik van antibiotika by vee is ʼn groot bron van kommer, omdat dit tot weerstandbiedenheid in patogene teen antibiotika kan lei, wat gesondheidsimplikasies vir mense inhou. Hierdie antibiotikum-weerstandige patogene kan deur besmette grond, water of kos na mense oorgedra word en kan maklik meebring dat die doeltreffendheid van antibiotika teen siektes afneem.

“Deur die risiko van verhoogde antibiotika weerstandigheid van patogene by vee te verminder, kan ons moontlik seker maak dat antibiotika wat vir die behandeling van infeksies by mense gebruik word, doeltreffend bly."

Gouws wys daarop dat monensin een van die voerbymiddels is wat in die Europese Unie verbied is weens kommer oor 'n toename in die weerstandigheid van potensieel patogene organismes wat in vee voorkom, teen antibiotika.

“Die soeke na alternatiewe voerbymiddels vir kalwers se dieet wat groei bevorder en siektes voorkom, het derhalwe meer intensief geword.

“Weens die verband tussen die gebruik van lae konsentrasies antibiotika en meer multimiddel-weerstandige bakterieë, moet programme vir toesig oor die oormatige gebruik en mis​​bruik van antibiotika in groot kommersiële suiwel produksiestelsels in werking gestel word."

Volgens Gouws is sulke toesigprogramme nodig omdat baie van die antibiotika wat vir vee gebruik word, nie streng gereguleer word nie en maklik oor die toonbank aangekoop kan word.

Sy sê samewerking en die deel van kennis tussen veeartse, boere en die dierevoedingsbedryf, kan ʼn afname in die gebruik van antibiotika bevorder en die ontwikkeling van anti-mikrobiese weerstandigheid by plaasdiere voorkom.